
Volgens ‘n berig op De Papieren Man se webblad wil dit voorkom asof Ester Naomi Perquin, redaksielid van Tirade en medewerker aan Wisselkaarten, verlede week ‘n vreemde ervaring gehad het toe sy en haar mede-redaksielede hulle plotseling aan die verkeerde kant van die gereg in Amsterdam bevind het. As deel van die Nasionale Boekeweek in Nederland het die redaksie van Tirade naamlik besluit om die oorskot van vroeëre uitgawes wat in store lê en stof vergaar, gratis by die Amsterdamse Centraal Station uit te deel.
Kort voor lank is hulle egter deur die polisie aangekeer aangesien hul optrede strydig is met die wet op advertensie in openbare plekke. “Het is verboden reclame te maken, ook als het een literair tijdschrift betreft. Volgens de surveillanten kon het aanvragen van een vergunning soelaas bieden, maar helaas blijkt het niet mogelijk om in Amsterdam toestemming te verkrijgen voor een dergelijke actie,” het Ester en haar kollega’s in ‘n verklaring na die tyd gesê.
Vreemd genoeg is die uitdeel van politiese pamflette en religieuse traktaatjies aanvaarbaar, maar nie gratis eksemplare van ‘n literêre tydskrif nie. “Hoewel de redactie verheugd is over het feit dat het gratis uitdelen van ons blad een subversieve daad is, zijn we aanmerkelijk minder blij met de praktische consequentie: ons voornemen om gedurende de hele Boekenweek gratis nummers uit te delen, is hiermee in de kiem gesmoord,” het die redaksie in hul verklaring bygevoeg.
Nou ja, toe. Wat’s volgende?
***
Vir jou leesplesier is daar vanoggend sommer heelwat nuwe plasings. Onder Nuwe Stemme vertel Pieter Hugo van sy “geboorte” as digter, Karlien van der Merwe skryf oor die kwessie van vers en kuns terwyl Heidi Pienaar ons trakteer op ‘n aantal Paasverse. By Wisselkaarten is daar eweneens nuwe plasings: Luuk Gruwez het op my versoek ‘n gedig van Anton Korteweg geplaas ter illustrasie van sy vroeëre stuk oor Korteweg se nuutste bundel, terwyl Chris Coolsma vertel van sy ontdekking van Billy Collins se digkuns en die vertaalprojek waarmee hy besig is. Aan die blogkant van sake is daar ‘n wonderlike “doodle” deur Andries Bezuidenhout wat hy tydens die pasafgelope Woordfees gepleeg het.
Inderdaad wonderlike leesstof op alle fronte en met só ‘n begin tot die week, kan dit mos nie anders as om ‘n prettige affêre te wees nie … O, ja – amper vergeet ek. Op die Klikbord is daar twee belangrike aankondigings ten opsigte van belangrike pryse wat gewen is. Breyten Breytenbach het Saterdag, op Magmoed Darwiesj se verjaarsdag, die eerste Magmoed Darwiesj-gedenkprys in Ramallah in ontvangs geneem, terwyl Alfred Schaffer se nuutste bundel weer met die Ida Gerhardt Poëzieprys bekroon is …
Lekker lees aan alles en geniet die week wat op hande is.
LE