Francilié Hoek. Om my oupa te begrawe en Sylvia Plath te google.

                                 

swael

 In die oggende as ek skool toe ry vergader die swaeltjies, pylstertjies op ‘n streep op die deel van die Telkom-lyn wat nie gesteel is nie.  My sukkel-kruie  verdor finaal, want die malse reënseisoen is verby en ek onthou altyd eers van pietersielie en roosmaryn terwyl ek uie braai op die stoof, as die son klaar gesak het en die alarm, ‘armed’ flikker. Op so ‘n dag is my oupa dood – 7 dae na Valentynsdag in die draai van sy 91ste somer.

 Ek het altyd gewonder hoe dit sou wees, my eerste ontmoeting met die dood, want ek, soos die swaeltjies, leef in ontkenning van die winter en dra bont Accesorize serpe teen die bome se kaal.  Die dood was dié stelling in wiskunde wat ek nooit kon bewys nie, want ek is oorgeslaan soos die engel in die ou tyd verby die bloedkosyn geloop het.

 Om myself voor te berei vir die begrafnis vra ek vir almal, (die tea lady by die werk inkluis) hoe kiste lyk waarin lywe is, of mense blomme bring graf toe en of jy actually kan inkyk in die gat of agter ‘n lint moet staan soos by die onthulling van ‘n gedenkteken.  Want, besef ek, hierdie doodsvreemdheid is ‘n leemte wat nie eens in die “For dummies” versameling ingesluit word nie.  En soos my lus vir die maroelas wat die Zim-immigrante by die kruisings verkoop (my oupa was ‘n bosveldboer) groei die onthou van ‘n skoolgedig – Medallion van Sylvia Plath.

 By gebrek aan geduld om deur die dun bladsytjies van die Norton Anthology Of Poetry te soek, google ek die vreemd-morbiede vrou wat ‘n dooie slang in haar hand hou en die dood verwonderd beskou.  Ek onthou die eerste dag in Kalafong hospitaal se kinderbrandwonde-eenheid.  Hoe ek gevoel het asof ek wou weghardloop van al die rou kinders wat skreeu en skreeu en toe besluit het om die kind met die ergste wonde van kop tot tone te bekyk – myself te desensitiseer teen seer. 

 Oupa word met sy niks-onthou in rooigrond begrawe op ‘n Maandag met my Ouma se tuin-nerinatjies op die kis se deksel.  “Oupa sou tog nie fancy begrafnisondernemerblomme wou gehad het nie.”  “Hy ken hierdie blommetjies”  Al kon hulle nie meer gesels nie, kon Ouma altyd nog vir hom haar tuin wys en so sou die tweetjies baie stadig van bedding tot bedding stap.  Om die graf staan ons selfde ou klompie wat plaaskersfese donkiekar gery het en saam met Oupa veld toe is en kersbome getoor het uit doringtakke.  En skielik word die dood my nefie se 2-jarige seuntjie se laggeluidjies terwyl hy met sy handjies in die grafgrond grawe en my en my sus se giggels oor ons so hard huil.  Die laaste van die Zim-maroelas word onseremonieël in die graf gegooi toe die dominee anderkant toe kyk.

 

 “I didn’t want any flowers, I only wanted

to lie with my hands turned up and be utterly empty.”

Tulips, S. Plath

  

Toe ons later die middag huistoe ry met ‘n pienk nerina wat vrolik in ‘n cokeblikkie in die kar se koeldrankhouer wip, verbeel ek my maroelasade wat stadig in die bosveldgrond ontkiem – knoetserige oorvloedbome.  “Plath is eintlik nogal gory sê ek in gedagte vir my man wat geen idee het van wie ek praat nie.”

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Francilié Hoek. Om my oupa te begrawe en Sylvia Plath te google.”

  1. Sias :

    Francilie, dis pragtig!!!! So opreg en so so mooi!!!!

  2. Beyers Hoek :

    Dis so eg soos net oupa was..

    Dis pragtig!

  3. Theunis Trumpelmann :

    Jy sê dit so mooi! Dankie dat ons die goeie herinneringe saam met jou kan deel.

  4. Bernard Odendaal :

    Janee, ek sal dié vertelling lank onthou.

  5. marita raath :

    francilie… ek het nou ‘n plek ontdek om my skoonsussie nog meer te waardeer! dankie dat jy die kosbare wereld van Francilie met ons deel!

  •