Einde verlede week het ek bekend gemaak dat Alfred Schaffer se bundel Kooi met die Ida Gerhardt Poëzieprijs bekroon is. Sedert dié aankondiging het daar egter ‘n herrie in die Nederlandse-media losgebars aangesien dit nou bekend geraak het dat Frits Bolkestein, oud-minister en voormalige VVD-faksievoorsitter, reeds in Februarie as voorsitter van die paneel beoordelaars vir dié gesogte prys bedank het vanweë meningsverskille met die ander beoordelaars, te wete Ester Naomi Perquin en Thomas Vaessens.
‘Een aanfluiting, dat deze bundel de prijs krijgt’, het Bolkestein aan die Volkskrant se verslaggewer gesê, “en in het geheel niet in de geest van Ida Gerhardt, de vormvaste en klassieke dichteres die in 1997 stierf, en wier naam aan deze prijs is gegeven. Uit waardering voor haar poëzie ben ik tot deze jury toegetreden, ben ik haar gaan voorzitten zelfs. We hebben zo’n honderd dichtbundels gelezen. Toen kwam het aan op selecteren, en daar bestonden richtlijnen voor. Volgens de criteria van de Ida Gerhardt Stichting moet de laureaat dichten in de geest van Ida Gerhardt. Maar daar hadden mijn collega-juryleden Vaessens en Perquin lak aan. Die houden er een postmoderne visie op na, en die is zacht uitgedrukt niet de mijne. Ik moest die criteria allemaal niet zo nauw nemen, zeiden ze. Ik zag het verkeerd. Zij namen het toch ook ruimer? Maar dat weigerde ik.”
Hy is van mening dat Hester Knibbe ‘n veel meer verdienstelike bekroning sou gewees het.
Volgens Vaessens, wat by Bolkestein as voorsitter oorgeneem het, word Alfred Schaffer se digkuns al die afgelope tien jaar as van die sterkstes in die Nederlandse taalgebied beskou. “Zijn overrompelende directheid neemt nog altijd toe en zijn poëtische durf blijft ongeëvenaard. De gave verzen en ijzersterke prozagedichten in Kooi zijn nieuwe hoogtepunten in een hopelijk nog lang niet afgerond oeuvre.”
En Bolkestein se reaksie hierop? “Die prozagedichten hebben totaal niets met vormvastheid te maken. Er is toch nog wel verschil aan te wijzen tussen proza en poëzie, of hoe zit dat?”
Mmm, nou ja toe. Inderdaad woed dié debat tussen prosagedigte (of te wel praatvers) en die meer tradisionele variant nie net by ons nie. Ten minste kan ons darem spog met ‘n heel indringende gesprekvoering rondom dié kwessies … Altans, so hoop ek. (Gaan lees gerus weer Danie Marais en Charl-Pierre Naudé se bydraes oor die sogenaamde praatvers.)
***
Op die webblad het Yves T’Sjoen die sesde aflewering in sy reeks oor peritekste geplaas, en dié keer handel dit oor die werk van Christine D’haen. Ook Andries Bezuidenhout en Charl-Pierre Naudé het nuwe stukke geplaas, terwyl twee bydraes vir die brieweboks ontvang is ter ondersteuning van vandeesmaand se Blogfokus. Isabelle Nell van Niekerk skryf oor die skilderkuns van Marcella de Boom en die gedigte van Ilse van Staden en in nog ‘n wonderlike bydrae skryf Evette Weyers oor die versnying tussen Breyten Breytenbach se skilderwerk en sy digkuns.
Pure onverdunde leesplesier. So – geniet dit alles.
Mooi bly.
LE
Louis, jy het seker jou opmerking oor “indringende gesprekvoering” ironies bedoel? Op ‘n manier herinner dit ook aan die hele gedoente met die toekenning van die Jan Rabie / Marjorie Wallace-beurs aan André Brink. Tóé was die beswaar ook mos juis dat dié toekenning strydig is met die “gees van die beurs”. Soveel dae, soveel dinge, nè?
Wat ‘n onsmaaklike gedoente! Lyk my dié mnr. Bolkestein het geen oordeel ten opsigte van professionele etiek nie. Om die binnewerkinge van ‘n komitee in die media rugbaar te maak en dan boonop die 2de-prys kandidaat by die naam te noem … Besef hy dan nie watter verwoestende effek dit op beide digters het nie? En dit ter wille waarvan?! Ek meen, Alfred Schaffer het tog nie die prys aan homself toegeken nie? En nou word hy gekonfronteer met koerantopskrifte soos “Schaffer verdient niet poëzieprijs”. Belaglik.