Niel van Deventer. Strewe na vrede – met apologie aan Chris Torr.

Ek het tot so onlangs as drie jaar gelede nog geglo in die inherente goedheid van mense.  Wou nie glo dat mense net sal optree vir eie gewin of eie saak nie, altyd maar gedink dis ‘n strewe na hardcore wees wat mense ander mense in kroeë laat slaan. Nooit gedink dat ‘n pure domheid dalk die grootste rede kan wees nie. Ek het mense te veel krediet gegee, en ek is nogal spyt daaroor, want dit het my ‘n stel of twee laat aftrap.

Ek weet nie wat my ontnugtering aangehelp het nie, maar sedertdien probeer ek volgens die volgende beginsel leef: “As jy van die begin af aanvaar dat alle mense poepholle is, is daar ‘n moontlikheid dat jy aangenaam verras sal word deur die uitsonderings wat jou pad mag kruis.”

Dis sinies. Ek weet, en selfs al wys ek dit nie sommer nie, het ek dit opreg bedoel toe ek in een van my nuwe songs Lei My (op my nuwe album getiteld Jy, uit einde Mei 2010 – betyds vir die sokker!) in ‘n gesprek met God vir Hom vra:

“…laat my eendag tog êrens weer harte wen

 en help my om nog steeds van mense te  hou

 as ek hulle eers leer ken…”

Sedert ek al bogenoemde dinge besluit en geskryf het, en ook agtergekom het dat die meeste van my gedigte ‘n hunkering is, het ek baie vrede begin maak.

Ek het vrede gemaak met die feit dat ek nooit weer onwrikbaar sal glo in Kersvader, Die Paashaas of Liewe Jesus nie. Ek het vrede gemaak met die gang van sportwedstryde wat nie in my hande is nie (dalk in ‘n Indiese bookie s’n, maar nie in myne nie). Ek het vrede gemaak met mense wat nie vrede het met hulself nie, en daarom in die proses van soeke, ander mense te na kom. Ek het selfs vrede gemaak met die feit dat Jacob Zuma vir minstens 5 jaar my president gaan wees, maar toe gebeur ‘n paar dinge, waarvan die grootstes ‘n fliek en Julius Malema was.

 

Ek het in ‘n vorige blog reeds genoem dat ek die fliek ‘Mugabe and the white African’ gesien het, en dat dit my taamlik ontstel het. Die rede vir my ontsteltenis is menslik. Ek is nog nie so afgestomp deur al my ontnugterings dat die blatante mishandeling van oumense my nie kan pla nie.

Nà die dokumentêr het ek baie gedink. Ek wou nog nooit aan my land dink as ‘n potensiële Zimbabwe nie (nog minder as ‘n potensiële Rwanda), maar net soos wat ek in my lewe moes vrede maak met mense wat nie vrede het nie, spoel gewaarwordinge oor dinge soos politiek ook elke dag oor my.

Julius Malema is seker nou maar een van daardie mense met wie ek moet vrede maak. Ek kry myself nog nie so ver nie, en niemand gaan my oortuig dat sy saak nie een van selfverryking en wraak is nie (soos Idi Amin,  Jean Kambanda en Robert Mugabe). Ek is bang, want ek is selfsugtig. Ek wil opstaan teen hierdie monster, maar dit is vir eie saak (net soos wat hy veg vir eie saak). Sien, ek koester nou al ‘n lang tyd ‘n droom. In hierdie droom, ontmoet ek ‘n vrou, raak verlief en trou. Reis saam met haar deur die wêreld en kom dan terug en kom maak my kinders groot in ‘n land waar ek tuis voel en wat ek my eie kan noem. Die eerste deel van my droom het oor die laaste paar maande begin statuur aanneem, of ek so gelukkig gaan wees om die tweede deel te sien realiseer, sal net die tyd kan leer.

Ek tree Saterdag op by Steak & Ale se Earth Hour: Theatre in the Dark konsert saam met oa. Andra, Die Kaalkop Waarheid en Albert & Biela van Scicoustic. As al my drome van ‘n vreedsame Suid-Afrika dus in die hek duik, sal ek darem kan sê dat ek my deel gedoen het om te help verseker dat ons somers en winters ‘n konstante bly in ‘n wêreld waarin min ander dinge is.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Niel van Deventer. Strewe na vrede – met apologie aan Chris Torr.”

  1. Elizca :

    “Julius Malema is seker nou maar een van daardie mense met wie ek moet vrede maak. Ek kry myself nog nie so ver nie, en niemand gaan my oortuig dat sy saak nie een van selfverryking en wraak is nie (soos Idi Amin, Jean Kambanda en Robert Mugabe). Ek is bang, want ek is selfsugtig.”

    Hierdie is offisieël my aanhaling vir die week..LOVE DIT

    Check check….hoop nie jy mind nie! http://wiki.nuwegeskiedenis.co.za/index.php/Niel_van_Deventer ..hhhmmmmm…dit lyk nog baie leeg, meer info oor Niel sal darem nice wees…skimp skimp

  2. Niel van Deventer :

    Haha! Dankie Elizca. Ek gee glad nie om nie, sal meer info daar gooi so gou moontlik.

    Dankie vir jou gawe woorde.

  •