
Almal met selfs net ‘n rapsie meer belangstelling as die terloopse in wêreldliteratuur weet dat Pole en haar digters waarskynlik oor een van die mees aktiewe digkunste ter wêreld beskik. In hoofsaak is dit waarskynlik toe te skryf aan hul Nobelpryswenner, Wisława Szymborska, wat saam met haar tydgenote, Tadeusz Różewics en Zbigniew Herbert, ‘n formidabele driemanskap gevorm het wat die internasionale poësie soos ‘n kleinerige atoombom getref het.
Vir my is die grootste van dié drie egter Herbert. Vandaar my opwinding toe ek ‘n deeglike oorsig van sy lewe en werk op die webblad Words without borders teëkom wat deur ene James Marcus geskryf is: “A modernist to his fingertips, Herbert can sometimes appear cryptic, especially given his allergic reaction to punctuation. But mystification was never his goal – he labored, always on his own terms, to produce a kind of metaphysical clarity. Writing, he once said, “must teach men soberness: to be awake.”
Maar van al Herbert se skeppings is die alterego, Mnr. Cogito, waarskynlik sy mees onvergeetlike. Dié spreekbuis het hy gedurende sy ballingskap in Kalifornië tot stand gebring; in hoofsaak in reaksie op die hele kwessie van “belydenispoësie” wat op daardie tydstip populêr was: “Mr. Cogito was primarily a creature of mind,” skryf James Marcus, “He read the paper, he studied his face in the mirror, he smoked a cigarette, but as his name suggests, his main business was cogitation. (In the end, he may have more in common with Italo Calvino’s Mr. Palomar, whose telescopic contemplations took in everything but the self.)”
En ja, Herbert is nog ‘n voorbeeld van iemand wie se reputasie eers ná sy dood tot stand gekom het. Hy is in 1924 gebore en is oorlede in 1998. Sy lewe was gekenmerk deur swaarkry en verdrukking; ook deur ‘n onversetlike stryd teen onreg met ‘n bykans onfeilbare radar wat deurgaans op ‘n soeke na “die waarheid” ingestel was. Marcus formuleer dit soos volg aan die einde van sy artikel: “Whether Herbert should be viewed as a poet of resistance or an ontological Magellan – or both, just as Mr. Cogito was half Don Quixote, half Sancha Panza – is an issue his fans will be batting around for many decades. What is certain is his dogged striving for truth, that most formidable of moving targets. Poetry might not be political, but it was always a matter of conscience.”
Ai, wat ‘n wonderlike digter … En watter skitterende oorsig. Lees gerus die volledige artikel op Words without borders se webblad.
***
Op die webblad kan jy jou vanoggend verlustig aan die onderhoud met Koos Oosthuysen wat geplaas is na aanleiding van sy Xhosa-Afrikaanse vertalings wat onlangs verskyn het. Tereg het Antjie Krog by geleentheid van dié bundel gesê dat daar iets “mirakelagtigs” omtrent dié verse is … Taalbemagtiging op sy beste, inderdaad. Dan het Chris Coolsma ‘n besonderse Wisselkaart gespeel met nie minder nie as dríé vertalings van gedigte deur Billy Collins daarby. Ook by Nuwe Stemme is daar twee nuwe plasings: deur Niel van Deventer en Hennie Meyer. En nog is het einde niet: maak seker dat jy Andries Bezuidenhout se nuwe vers, “Kwas“, onder oë kry. Pure plesier.
Mmm, sommer ‘n hele rak vol nuwe leesstof hier in die middel van die week.
Geniet dit!
LE
Inderdaad, Desmond. Maar ek het hierbo op die sogenaamde “driemanskap” wat die konsentrasiekampe aan die lyf beleef het, probeer fokus. Milosz is streng gesproke Lithuaniër en was (so ver ek weet) nooit in die kampe nie. Interessant genoeg was sy geboortedorp eers by Rusland ingelyf en na die oorlog by Pole. Verdermeer het hy sy roem (en Nobelprys) as boorling van die VSA verwerf, terwyl genoemde drie in Pole aangebly en in Pools bly skryf het. Natuurlik kan ‘n mens ook nog vir Adam Zagajewsky byvoeg en met dié Groot Vyf is dit hoegenaamd nie vreemd dat die Poolse digkuns soos ‘n wegholbrand alles in hul pad skoonbrand nie.
En wat dink dink jy van Czeslaw Milosz?