Jannie Malan. Die rus is, wel… nêrens?

Lekker lees ek aan Niel se nuutste blog, maar ook maar met kommer in my agterkop, want wat hy sê is waar vir soveel van ons… en dit is die dinge waaroor ons baie aande wakker lê. Ek veral omdat ek nou boonop kinders het om my ook oor te bekommer. Weer begin ‘n ou jouself afvra, miskien moet ek tog maar daai lang proses om in Oz in te kom weer afskop. Helfte van jou vriende sit al klaar daar, behalwe nou die wat reeds oppad terug is, ens. Maar heng, dis mos my land ook die!

Dit het my herinner aan ‘n gedig wat ek ‘n jaar of wat terug geskryf het, na ek een middag by vriende besef het, so by my kool, Dana het oor julle ouens geskryf en Totius het lank reeds geweet ons (alle mense, nie net bles-wordende blanke Afrikaners nie) sal maar altyd bly soek na dit wat immer ontwykend bly. Daarom die ou rympie. Laat ons maar waardeer wat ons het, terwyl ons dit nog het.

Nota: daar is geen geleerde rede vir die paarrym nie (nee, dit ondersteun nie tipografies die tweespalt tussen die onbewuste besluit om te bly of te gly nie… maar dit kan seker, nou dat ek daaraan dink). Dit was bloot lekker om te moes soek vir woorde wat werk.

  • Repos alleurs – die rus is elders (moontlik in Australie)

    Met apologie aan Totius en na ‘n kortverhaal Van Dana Snyman

    sonnige sondagmiddag in die Golf Estate

    hang ons saam met vriende uit

    om die Weber, kannetjie van keuse in die hand

    hempies bultend oor die binneband

    bespreek ons rugbykwotas, die wêreldsokkerspele

    ons jongste wins uit markaandele

    steek-steek met ‘n braaitang na kudufilette

    wat gemaksugtig sis oor braaibrikette

    vroue stemme klingel op vanuit die huis

    waar hul slaai maak in die kombuis

    die son skerp skielik van ‘n 4×4 se ruit

    en by die swembad roep daar kinders uit

    Gert, entrepreneur, merk in die stil agtermiddag op

    “Ja-nee kêrels, hierdie land’s gefok”

  • Bookmark and Share

    2 Kommentare op “Jannie Malan. Die rus is, wel… nêrens?”

    1. Lewies Botha :

      Hallo Jannie, jou gedig klink soos ‘n beskrywing van die naweek wat voorle. Ek hou van die woord; braaibrikette , wonderlike dig moontlikhede ne, hierdie moet dalk ‘n eerste keer wees wat dit in poësie gebruik is.
      Ek het al paar keer om dieselfde tema gedig en altyd is die ‘om die braaivleisvuur’ ter sprake – ek wonder of dit onbewustelik dui op iets soos “Die Land Brand” . Groete, Lewies

    2. Niel van Deventer :

      Jannie, soms voel dit vir my of ek verkeerd is om te voel soos ek met tye doen. Ek is bly dat ek nie al een is (van die mense wat nie vir E.T nou prys as my held en leier) wat die vrae vra nie. Ek wil so graag hierdie tipe van vrese onder die mat invee, en ek doen maar elke keer. Tot volgende keer. Great poem!

  •