Marius Swart. Die volk en die lied

Nou die dag dink ek weer aan iets wat my al lankal pla. Op die televisie verskyn laatnag ’n treffende montage van toeriste-aantreklikhede met ’n meegaande weergawe van ons Volkslied wat gesing word deur ’n mooi diverse groep landgenote. Die uitspraak is plek-plek baie onafgerond (byvoorbeeld “dieptê-hê” vir “diepte”, “sie-hê” vir see, “ji-mil” vir “hemel”, “gie-hê” vir “gee”, ensovoorts). Dit klink op party plekke net so erg soos ’n junior koor met ’n hardhorende musiekjuffrou of –meneer. Is dit werklik te veel gevra dat die sangers voor dié een opname van so ’n belangrike lied ’n bietjie stemafrigting en uitspraaklesse kry? Dit is die een kant van die ding waaroor ek wonder.

Op ’n ander oggend hou die radiostasie ’n kompetisie waar luisteraars kan wys hoe mooi hulle ons Volkslied kan sing. Volgens die digter is dié kompetisie deel van ’n broodnodige opvoedingstaak. So skakel hulle die eerste deelnemer. Vol verwagting draai ek die radio harder en die ruit af. Dit kan tog iets mooi en outentiek wees, soos ’n tarentaalveer, ’n stukkie sebravel, of ’n ystervarkpen. En die inbeller val weg, met mag en mening. “Kossie siekelêla Aaaaf-rie-kaaaaa, Maloepakamiesô Tanda Lalaaaa”. Ek laster binnesmonds. Inbeller twee se lyn word afgesny. Ek stuur binnesmonds ’n dankgebed op. Inbeller drie is hees, maar gewillig: “Inkossie siekelêlê Aaaaf-rie-kaaaaa, Malapakoemniesô Doelô Lalô”. Ek draai die radio dood en swets. Dit is die ander kant van die ding waaroor ek wonder.

Ek besluit om uit te vind wat die probleem is, want skynbaar is ’n vertaling en skriftelike weergawe van die lirieke van dié lied moeilik verkrygbaar. Tot my verbasing is daar egter verskeie plekke waar die Volkslied met volledige woorde, wysie en al te kry is. Gratis ook. Dit verskyn selfs as deel van die bogenoemde kompetisie op die radiostasie se webblad, om maar een voorbeeld te noem. Daar is selfs ’n klankgreep om die wysie mee te oefen. Goed, dit is op die internet. Dalk is dit moeilik vir gewone mense om in die hande te kry. Ek besluit om ons parkeerterrein se inwonende boemelaar te pols. Hy vra my elke Vrydagoggend vir ’n R5’tjie vir die naweek. Vandag, besluit ek, gaan hy sing.Toe hy aangestap kom, sê ek hy kan dit kry, maar hy moet eers die Volkslied sing. Hy trek los en dis foutloos; dis selfs mooi op die noot. Ek gee hom sommer R10.

Dit lyk vir my asof ’n betekenisvolle deel van my landgenote in hierdie mooi land skynbaar nie die moeite wil doen om uit te vind wat die woorde wat hulle sing, beteken, of hoe om dit uit te spreek nie; nie omdat dit besonder moeilik is om uit te spreek nie, maar omdat hulle te lui is, te min omgee, of te min respek daarvoor het. Daarteenoor kan die hardegat bedelaar dit regkry, selfs met ’n paar sopies agter die blad.

Miskien moet kiesers in die vervolg eers die Volkslied deursing voordat hulle mag stem. Miskien kan ons soggens buite ons parkeergarages saam met die boemelaars, bedelaars, sekuriteitswagte en petroljoggies op die sypaadjie staan en saam die Volkslied sing. Miskien kan ons dit vir ons kinders leer. Miskien kan ons dit veral vir ons grootmense leer. Dan noem ons dit sommer “nasiebou”.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Marius Swart. Die volk en die lied”

  1. Fred Pheiffer :

    Dag Marius
    Sus Juna het gesê ek moet hier kom loer. Dis maar die eerste keer wat ek ook blog — ek’s aan die verkeerde kant van die ouderdomsgaping. Ek kan maar net beaam dat as jy jou volkslied wil sing, doen dit ordentlik. Maar miskien moet mens ook nie sommer mense se entoesiasme om die volkslied te wil sing, demp nie, al kom dit dan geradbraak uit. Dis soos foto’s van Bloubulondersteuners wat kuier in Soweto — die entoesiasme is duidelik daar, maar o, hoe onbeholpe lyk die mense nog. En van volksliedere gepraat, ek sien by die einste Super 14-eindstryd staan rugbybaas Hoskins uit volle bors en sing, maar langs hom staan onse president met styf toegeperste lippe en afwaartse mondhoeke. Hoe dan so, my seur?

  2. Marius Swart :

    Hallo Fred

    Dankie vir jou kommentaar. Ek stem saam, ‘n mens moenie mense se entoesiasme demp nie. Ons moet hulle juis aanmoedig om trots genoeg te wees om dit te doen, en om genoeg om te gee om dit rég te doen!

    Dis waar wat jy sê oor ons president, ek het dit nogal opgelet…eish.

  3. Pieter Hugo :

    Ek sien ons dubbelloop volkslied altyd in my geestesoog as ‘n ou met dreadlocks, geklee in ‘n 70’s crimplene safaripak. Na 16 jaar kon ek nog steeds nie vattigheid kry aan die aanmekaargeplakte affere nie. Maar dit het darem wel gesorg vir ‘n onvergeetlike “only in South Africa” moment.

    Vir die van ons wat ‘n sinies-humoristiese oorlewingstrategie aanvaar het om deur elke dag in hierdie hilariously sad country van ons te probeer kom, was daar sekerlik min dinge so snaaks as die gebeure buite die hof op die eerste verskyningsdag van Eugene Terreblanche se moordenaars. ‘n Woedende wit skare een kant, ‘n woedende swart skare ander kant, met die polisie wat sukkel om die groepe uitmekaar te hou. En wat doen beide die wit en die swart skares? Hulle sing ons volkslied. Behalwe dat nie een groep natuurlik die volle, aanmekaargeplakte volkslied sing nie. In daardie situasie word “Die Stem” van die een kant af en “Nkosi sikelele” van die ander kant af soos emosionele ammunisie van wedersydse haat na mekaar geslinger. Te hel met nasiebou! Ja, nee, God beter met Afrika wees dat die kranse antwoord gee, anders is ons binnekort weer by ons sal lewe ons sal sterwe.

    Dankie Fred, dat jy Marius se volkslied-blog weer uit die vergetelheid van meer as twee maande kom opdiep het. In die wêreld van blogs is dit so tye sê al ‘n argiefstuk!

  •