In vanoggend se Volksblad is daar ’n berig oor Ampie Coetzee wat Afrikaanse skrywers en digters verwyt dat hulle nie ook soos Breyten Breytenbach hulle stemme laat opklink téén die afskaling van Afrikaans se gebruiksfunksies aan byvoorbeeld universiteite nie.
Eerstens wil ek darem uitwys dat iemand soos Charl-Pierre Naudé hom onlangs in ’n reeks rubriekbydraes in Beeld sterk uitgelaat het oor die saak.
Tweedens wil ek ook ’n bietjie kla by Breytenbach en Coetzee oor hulle so ongenuanseerd en alarmisties praat van Afrikaans as ’n sterwende taal. Elke keer as hulle so iets beweer, oorreed hulle waarskynlik nog ’n paar honderd Afrikaanse ouers om dan maar liewer hul kinders in Engelse skole en universiteite in te skryf.
Prof. Jonathan Jansen, rektor van die universiteit waar ek werk (die UV), stuur weekliks Maandagbulletins aan ons as personeel uit om ons sienings te toets oor aktuele en soms omstrede kwessies. ’n Paar weke gelede het hy die saak van parallelmediumonderrig aangeroer. En daarmee ook ’n aantal klippe in die bos gegooi oor die nodigheid daarvan om Afrikaans naas Engels te behou, al dan nie.
Van die argumente wat hy aangevoer het, sal blyk uit my reaksie aan hom soos dit hieronder volg.
Ek het wel ’n “Dankie, Bernard!” per e-pos van prof. Jansen gekry. Na wat ek verneem het hy op ’n talekomiteevergadering van die UV daarna gewag gemaak van tientalle reaksies wat ontvang is ten gunste van verskuiwing na ’n eentalig Engelse bedeling aan die UV, met glo net één “teenstem” (dan nou seker myne).
*******
Geagte Meneer die Rektor,
soos in u Maandagbulletin van 15 Februarie versoek, deel ek as UV-personeellid graag gedagtes met u oor die parallelmedium-onderrigstelsel aan ons universiteit.
Die UV behoort myns insiens trots te wees op die feit dat dit die eerste SA universiteit is wat in die ná-1990-era parallelmediumonderrig ingestel het, en wat daarna die verantwoordelikheid aanvaar het om veral Afrikaans en Sesotho as inheemse tale te bevorder.
Hiermee probeer die UV nie net daadwerklik voldoen aan wat grondwetlik, in letter én gees, aangaande talige en kulturele verskeidenheid in die nuwe Suid-Afrika geïmpliseer word nie; dit streef ook om, na die beste van sy vermoë, in die behoeftes van die oorgrote deel van sy primêre bedieningsgemeenskap te voorsien. Daar was ’n stadium dat die UV op grond hiervan as ’n toonaangewend transformerende SA universiteit aangeprys is.
Moenie vergeet dat die voertaalbeleid aan tersiêre instellings ’n belangrike invloed het op die onderrigmediumkeuses wat op sekondêre en primêre onderwysvlakke uitgeoefen word nie.
Die voordele van moedertaalonderrig blyk duidelik uit wetenskaplike navorsing, en geniet tans ook in regeringskringe die (helaas net nog verbale) erkenning wat dit verdien (soos onder meer in ’n persverklaring van die F.W. de Klerkstigting op Moedertaaldag, 21 Februarie 2010, uitgewys). Die selfs nog verdere afskaling van moedertaalonderrig gaan beslis NIE bydra om die kommerwekkende suksespeil-daling van die huidige Suid-Afrikaanse onderwysstelsel om te keer nie.
Ironies genoeg is meertalige universiteite tot dusver juis deur die heersende regeringsubsidiestelsel benadeel, sodat die ervaring aan byvoorbeeld die UV tans is dat die meertalige stelsel “duur” is; dat daardeur ’n onregverdige werklas op sy personeel geplaas word; en dat dit die aanstelling van nuwe personeel bemoeilik (omdat hulle liefs tweetalig moet kan funksioneer). Moet die UV, instede daarvan om te oorweeg om die parallelmedium-onderrigstelsel af te skaal of uit te faseer – en sodoende mee te doen aan die fnuiking van die relevante grondwetlike bepalings – nie eerder probeer om vir ’n hersiening van die subsidiestelsel te beding nie, sodat meertalige universiteite finansieel onderskraag kan word in hulle demokratiserende oogmerke? (Dat byvoorbeeld voorsiening vir meer personeelaanstellings gemaak kan word, juis om spesifieke taalgroepe te bedien?)
Want is meertaligheid in onderrig nie een van die konkreetste uitings van multikulturaliteit nie? En verteenwoordig dit nie ’n heel konkrete instrument waardeur magskonsentrasie teengewerk kan word nie?
Argumente word genoem dat die volhou met Afrikaansmediumonderrig eintlik tot nadeel van Afrikaanstalige studente strek, aangesien hulle eendag in hulle werksomgewings hoofsaaklik in Engels gaan funksioneer. Die teendeel blyk eerder waar te wees (soos onder meer Cummins, 2001 en Webb, 2006, uitgewys het). Mense wat so redeneer, neem boonop nie in ag dat Afrikaanssprekende leerders en studente vandag baie meer blootgestel is aan Engels, en Engels dus baie beter magtig is, as Afrikaanssprekendes wat jare gelede geskool en opgelei is nie. Bowendien moet hier weer die herhaaldelike wetenskaplike bevindinge in ag geneem word dat leer en konsepvorming vinniger en meer diepgaande geskied waar die voertaal nie ’n bykomende leerversperring opwerp nie, m.a.w. waar die moedertaal die onderrigmedium is. (Vergelyk byvoorbeeld Hornberger, 1987; Williams, 1993a, 1993b & 1996; Webb, 2006.)
’n Mens kan in hierdie verband maar net na die proporsioneel uitstaande pretasies van Afrikaanssprekendes in elke jaar se matriekeksamens kyk. Of na statistieke wat aantoon dat Afrikaanssprekendes op hoër naskoolse onderwysvlakke proporsioneel beter as ander Afrikataalsprekers in Suid-Afrika presteer. En: Hoe hoër die onderwysvlak, hoe groter word die proporsie Afrikaanssprekendes wat daarop verteenwoordig word – selfs al word byvoorbeeld die meeste verhandelings en proefskrifte in Engels geskryf.
Sulke statistiek ondersteun bevindinge dat professionele mense wat hul opleiding hoofsaaklik via hul moedertale ontvang het, maar genoegsame skolastiese en ander blootstelling gehad het aan ’n tweede taal wat die arbeidsmark oorheers (byvoorbeeld aan Engels hier in Suid-Afrika), minstens net so suksesvol in daardie tweedetaal-arbeidsmark funksioneer as mense wat hulle opleiding in dieselfde omstandighede nie in hulle moedertale nie, maar in die tweede taal (die arbeidsmarktaal – Engels hier by ons) ondergaan het. (Webb, 2006)
Ek wys ook graag daarop dat die argument dat die parallelmediumstelsel aan die UV ’n verdeling in “wit” en “swart” klasse tot gevolg het, oordrewe en wesenlik vals is. Dit is beslis nie so dat die Engelsmediumklasse aan die UV uitsluitlik swart, en die Afrikaansmediumklasse uitsluitlik wit is nie, soos u self aandui deur die gebruik van die woorde “grotendeels” en “oorwegend” in hierdie verband. Bowendien, aktiwiteite in lesinglokale is tog primêr ingestel op vakwetenskaplike skoling, nie op sosiale en kulturele integrering nie. Laasgenoemde kan veel effektiewer deur aktiwiteite buite die lesinglokaal nagestreef word.
U noem in u skrywe dat Afrikaans vir baie van die UV se personeel en studente ’n “diep emosionele betekenis” het. Dit is waar, maar dit gaan om meer – soos bostaande hopelik al aangetoon het.
Ek sou wou byvoeg dat Afrikaans, as ’n oorspronklike taal van (Suid-)Afrika (met sy Europese familiebande en al), een waarin aansienlik presteer is en steeds word op byvoorbeeld wetenskaplike en kulturele terreine, eintlik vir baie van sy sprekers ’n identiteitsbepalende faktor is. Die muilbanding daarvan sal ook vir ons ’n simboliese betekenis hê – en die miskenning daardeur kan onmoontlik net in ons klere bly sit.
Met hoogagting,
Bernard Odendaal
Departement Afrikaans en Nederlands, Duits en Frans
Bronnelys
Cummins, J. 2001. Negotating identities: Education for empowerment in a diverse society. Los Angeles: California Association for Bilingual Education.
F.W. de Klerkstigting. 2010. Moedertaaldag-persverklaring, 21 Februarie.
Hornberger, N.H. 1987. Bilingual education success, but policy failure. Language in Society 16: 205-226.
Webb, Vic. 2006. Perspektiewe op moedertaalonderwys. Tydskrif vir Geesteswetenskappe 46(2), Junie: 37-50.
Williams, E. 1993a. Report on reading in English in promary schools in Malawi. Serial No. 4, Department for International Development, London.
Williams, E. 1993b. Report on reading in English in promary schools in Malawi. Serial No. 5, Department for International Development, London.
Williams, E. 1996. Mother tongue medium versus second language medium: the effects on the reading proficiency of African pupils. Triangle 14: 147-164.
Bernard, ek stem heeltemal met jou saam: die pedegagogiese werkbaarheid van twee tale in een klaskamer kan nie beoordeel word sonder dat die taalsosiologiese en taalpolitieke konteks nie ook verreken word nie. Ek bedoel juis: die probleem hier is nie die T-Opsie as sodanig nie, maar die konteks waarin dit tot uitvoering kom (of nie kom nie). Ek slaan ag daarop om beide tale ewe veel te gebruik; om so goed as moontlik in beide te praat; en om die proses van herhaling in die ander taal kreatief en produktief aan te wend. As sodanig dink ek my lesings werk redelik goed op hierdie stadium. Maar ek is baie bewus daarvan dat dit eintlik ‘n uitsondering is: nie alle dosente is ewe gemnaklik in beide tale nie; nie almal is ewe bereid om albei te praat nie; nie al die studente verstaan beide Afrikaans en Engels nie; ens. Die feit dat Afrikaanse studente Engelse materiaal kan lees maar Engelse studente nie altyd Afrikaanse materiaal nie, beteken ook dat ‘n mens beperk word wat betref die voorskryf van bv. Afrikaanse artikels. Maar alles is ook darem nie doom and gloom nie: in my departement (sielkunde) werk ons aan woordelyste in Afrikaans, Engels en Xhosa; onderhandel ons met die uitgewer van die eerstejaars-handboeke vir Afrikaanse vertalings van daardie werk; probeer ons die taalaanbod in tutoriale te verbreed deur bv. te begin dink aan Xhosa-talige ‘tuts’; ens. Natuurlik, hierdie soort goed berus te veel op bepaalde individue en departemente se inisiatief. Indien dit nie beleid is nie, of indien daar nie meganismes is wat sal bepaal dat ‘n veeltalige opset afdwingbaar is nie, sal dit nie volhoubaar wees nie. Die verskuiwing in die rigting van Engels sal dan voortduur.
Desmond, ek is dit eens met Charl-Pierre oor die gevare van die T-opsie, spesifiek in die Suid-Afrikaanse konteks. Dis die “oormag” van Engels, die feit dat ‘n mens van enige (na-laerskoolse) student in Suid-Afrika (kan/wil) verwag dat hy/sy Engels verstaan, maar nie dieselfde ten opsigte van Afrikaans verwag nie, wat lei tot verengelsing in die T-opsieklaskamer (soos jy uit eie ervaring getuig). As die voertale ewe “sterk” is, ‘n ewe sterk politieke en kulturele konteks verteenwoordig (soos byvoorbeeld Frans en Duits in sekere Europese lande), word dit makliker om slegs die “pedagogiese werkbaarheid” van dubbelmediumonderrig in ag te neem.
Wat kinders grootmaak betref, Charl-Pierre: parallelmedium is sekerlik die beste, met een ouer wat konsekwent Engels praat en die ander wat Afrikaans praat. Wat die klaskamer betref: T-opsie werk goed mits die dosent albei tale magtig is (en bereid is om albei te praat) en mits die studente albei kan verstaan. Ek het vanaf Standerd 6 tot matriek in ‘T-opsie’ (Afrikaans en Engels in een lesing) klas gekry, en dit was nuttig en verrykend vir my eie tweetaligheid. Ek verskil van diegene wat meen die T-opsie is as sodanig pedagogies onwerkbaar. Die probleem is nie die aanwesigheid van albei tale in een lesing nie, maar juis dat daar nie meganismes is wat verengelsing keer nie. Die druk is baie subtiel: ek het bv. gister met my tweedejaarlesings begin en daar is ‘n hele paar studente wat glad nie Afrikaans verstaan nie. Natuurlik, die beleid is 50/50, maar ‘n mens vind jouself tog ook toenemend meer in Engels herhaal, selfs al dring daardie studente nie daarop aan nie. Want binne die konteks van die lesing dink ‘n mens noodwendig eerstens daaraan om as dosent verstaanbaar te wees en jou materiaal te kommunikeer, en nie aan jou oortuigings oor taalbeleid en taalsosiologie nie. Dit is ‘n interessante ervaring om so klas te gee: ‘n mens hoor nogal min vanuit hierdie perspektief in die debatte oor die taalkwessie aan die US.
Net nie die T-opsie nie, asseblief Desmond. Nie voor die kinders nie …
Bernard, skoknuus: my vrou is Engelssprekend!! Moenie bekommerd wees nie, ek het dit darem voor die wittebrood al uitgevind, so daar is ‘n plan van(tweetalige) aksie.
Dankie vir ‘n baie goeie brief, Bernard. Dit verbaas my dat rasintegrering in die klaskamer hoegenaamd van belang kan wees. Miskien sal ons baie gouer by ‘n nie-rassige samelewing uitkom as ons eenvoudig begin leef ASOF ons REEDS daar is. Met ander woorde, ignoreer eenvoudig die raskategorie. Is DIT nie dan hoe nie-rassisme lyk nie?
Om bekommerd te wees oor die kwota wit en swart in die klaskamer is nie ‘n ignorering van die raskategorie nie. Dit is ‘n versterking daarvan. Buietndien is studente nie veronderstel om op mekaar se mooi velletjies te konsentreer in die klas nie, maar op die swartbord en die teksboek!
Dankie, Desmond. En geluk met die huweliksbevestiging. Nou kan jy eiehandig bydra om Afrikaans in meer monde te laat voortleef? (Ek speel maar!)
Baie goeie brief, Bernard. Ek stem ook saam met jou oor Ampie en Breyten se ietwat alarmistiese uitsprake onlangs. Miskien dink hulle dit sal mense laat wakkerskrik, maar ek dink dit het dalk eerder die effek wat jy hierbo aantoon. Miskien oorskat Breyten maar net sy lewensverwagting! 🙂 Afrikaans sal soos die ander inheemse tale bly leef, maar die afskaling en marginalisering van al hierdie tale dra by tot wat Boudieu ‘maatskaplike dood’ noem. Hierdie maatskaplike gevolge van taalmarginalisering is, soos jy weet, waaroor dit gaan. Nie eerstens oor sekere mense se ’emosionele verbintenisse’ aan hulle taal of die bestaan al dan nie van goeie letterkunde in ‘n gegewe taal nie. So dit is goed dat jy hieroor skryf, en op die manier waarop jy dit wel doen.