Philip de Vos. Dido en Aeneas

 

Gister, sommer so uit die blou kry ek ‘n vroeg-oggend telefoonoproep – aan die ander kant die stem van ‘n ou dame: ” Is dit Philip de Vos, die sanger? Dis Louise Cronjé.”

Louise Cronje? En ek weet ek moet onmiddellik antwoord, want blykbaar ken die persoon my.

“Ons het albei gesing in Dido and Aeneas. Toe was ek nog Louisa le Roux-Cronjé.”

En skielik was ek weer terug in ‘n Bloemfontein van 47 jaar gelede. Twee jaar tevore het ek my eerste sangles gehad by miss Grace Butler wat saam met haar drie oujongnooi-susters in Koffiefontein in die Vrystaat grootgeword het en wat na byna 70 jaar nog geen Afrikaans kon verstaan nie.

 

 

 

Dit was deur Grace Butler wat ek my eerste sangrol gekry het. En ongelukkig was ek toe die tweede keuse, want Cor, die kurator van die plaaslike dieretuin sou die rol sing, maar toe word sy geliefde sjimpansee siek en in plaas van tyd vir repetisies, moes hy ma speel totdat sy geliefde gedierte weer fris en op die been was. En daar sing ek toe my heel eerste rol, dié van Samuel, die seerower in Gilbert and Sullivan se Pirates of Penzance. En wat gebeur? Toe die sjimpansee gesond word, kry dié ‘n rol en dit sowaar in die eerste toneel waar ek die Bloemfontein se gehoor moes wys dat ‘n nuwe ster op die toneel verskyn het. En wat gebeur? Die sjimpansee het al die shine gevang en niemand in die hele gehoor het eers van my bestaan geweet nie, en boonop het die sjimpansee so groot geskrik toe die gehoor begin handeklap, dat hy die verhoog papnat gepie het. Toe daar ‘n resensie in Die Volksblad verskyn, is my naam nêrens ooit genoem nie en ek glo nou nog dit was eintlik daardie kurator se werk, want hy wou eintlik die rol gehad het …

En ‘n jaar daarna kry ek ‘n telefoonoproep van professor Leo Quayle van die musiekkonserwatorium van die Vrystaatste Universiteit om te kom vir ‘n oudisie vir Purcell se Dido and Aeneas wat die volgende jaar in die plaaslike skouburg aangebied sou word.

En in een van die bokse lê daar nou nog foto’s van destyds toe ek die rol van Aeneas gesing het: foto’s wat my vandag laat lagkry. Geld vir rekwisiete was destyds seker maar min, want daar lê ‘n foto van my en Dido. Ek swaar-gegrimeer, soos dit geen Griekse held ooit sou betaam nie en die goue bekers

 

 

 

waaruit ek en Dido gedrink het, was duidelik styrofoam bekertjies wat gespuitverf is. En in een foto staan ek alleen met ‘n besemstok in my hand. My Griekse staf was duidelik nie gereed nie, maar dit was tyd vir foto’s neem, en tyd vir publiteit het kort geraak, en moontlik sou die Bloemfonteinse publiek verby die besemstok kyk en die verpiepte jongman en hulle verbeel dus ‘n gespierde jong Griek. (Gelukkig het darem destyds al mooi bene gehad van al die fietsry en dit was al genoeg).

 

 

Hoe dit ook al sy: dit was my heel eerste operarol en daarna was dit dertig jaar van mannetjies wat hakkel of ander wat ‘n bietjie na Notredame se Quasimodo lyk.

En na al die jare van operasing, luister ek deesdae nooit meer na opera nie, behalwe steeds na Dido and Aeneas waarvan daar seker 16 verskillende opnames op my Cd-rak staan, plus 4 Dvd-opnames van lewendige uitvoerings.

En waarom dan, het juis hierdie opera by my ’n obsessie geword?

Ek weet self nie waarom nie, en dis nie omdat ek Aeneas gesing het, nie want dié rolletjie is inderwaarheid piepklein, met slegs ‘n paar stukkies resitatief. Hierdie opera het vir my alles wat ‘n opera moet hê: liriese momente, ‘n hoofkarakter waarvoor ‘n mens omgee, kore en danse, en as mens mooi soek, ‘n stukkie humor, plus van die mees roerende arias wat ooit geskryf is, en dit alles binne bestek van 55 minute.

Die laaste element is wat my Gemini-temperament seker die beste pas. Dis gou en dis verby. Nie soos ‘n Wagner-opera waar jy ongeveer drie uur moet wag vir die eerste pouse nie. Soos iemand dit destyds gesê het: “I went to a Wagner opera. It started at six o clock and when I looked at my watch four hours later is was ten past six.”

En dan is daar die 17de eeuse Engels van Dido and Aeneas, want die opera het reeds in 1689 sy eerste uitvoering by Josua Priest se skool vir jong meisies gehad. Alhoewel ons min weet omtrent die ontstaan en eerste uitvoering van die opera, weet ons wel dat die die libretto deur Nahum Tate geskryf is met rymende teks vir die koorgedeeltes:

 

To the hills and the vales

to the rocks and the mountains

to the musical groves

and the cool shady fountains.

 

Maar ook rym vir die resitatiewe en arias soos in Dido se ontroerende When I am laid in earth:

 

Thy hand, Belinda, darkness shades me,

On thy bosom let me rest,

More I would, but death invades me;

Death is now a welcome guest.

When I am laid in earth,

May my wrongs create

No trouble in thy breast;

Remember me, but ah! forget my fate.

Remember me, but ah! forget my fate.

 

Rym het my nog altyd geïnteresseer veral waar dit teks is wat later gesing moet word. In een van my bokse lê die partituur wat ek destyds gebruik het met alleen my sanggedeeltes in potlood ingeskryf. Robert Mohr het dit destyds in Afrikaans vertaal, en óf dit goed óf sleg is, sal ek na soveel jare nie kan bepaal nie, en ek kan slegs oordeel aan die gedeeltes wat ek moes sing:

 

Hier is die oorspronklike Engels:

 

Jove’s command shall be obeyed.

Tonight our anchors shall be weighed.

But, ah! But, ah!

What language shall I try

My injured queen to pacify?

No sooner she resigns her heart,

But from her arms I’m forced to part:

How can so hard a fate be took?

One night enjoyed; the next forsook!

Yours be the blame ye gods,

For I obey your will,

But with more ease could die.

But with more ease could die.

 

En hier is Robert Mohr se Afrikaans:

 

Zeus beveel en ek moet gaan.

Ek volg my godsbestemde baan.

Maar a! Maar a!

Gewonde koningin

So gou verlaat, so kort bemin.

Haar liefde het sy pas gegee,

En liefdesdroom word liefdeswee!

Wat kan die brose hart beskerm,

Waar gode self hul nie ontferm!

Zeus, u het my vervloek!

’n Koning leef vannag,

maar liefde sterf vannag,

Maar liefde sterf vannag.

 

Op die oog af klink dit na ’n goeie vertaling totdat mens dit met ’n sangersoog beskou. Ek het vir baie jare karakterrolle in operas gesing, en weet dus watter klanke, in watter taal ookal singbaar is. ’n Vertaler of librettoskrywer moet altyd die sanger deeglik in ag neem.

 

Die klanke in die Engels is almal singbaar en Nahum Tate moes sangers geken het. Beskou slegs die volgende reëls:

 

Yours be the blame, ye gods

 

teenoor

 

Zeus, u het my vervloek

 

 ook

 

But with more ease could die.

But with more ease could die.

 

teenoor die Afrikaans:

 

maar liefde sterf vannag,

Maar liefde sterf vannag.

 

In die Engels sing die sanger more op ’n hoë F.

In die Afrikaans is dit liefde op dieselfde noot.

 

Die ô klank is vir ’n sanger veel makliker as ie en wat op hoë note probleme begin gee.

Ook in die geval: Yours be the blame

teenoor die moeilike uu-klank van: Ze-us

 

Met hierdie voorbeeld wil ek slegs wys dat hoe goed ’n vertaling ookal is, daar gekyk moet word na watter klanke die beste op die oor gaan val.

 Dido and Aeneas bly vir my die perfekte opera. Gaan luister gerus na Janet Baker se vertolking op Youtube of anders na ons eie Hannah van Niekerk se roerende vertolking van When I am laid in earth.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Philip de Vos. Dido en Aeneas”

  1. Ivan Mocke :

    ‘n Kostelike vertelling, Philip! Dankie daarvoor. Miskien moet iemand eendag daaraan dink om ‘n boek met staaltjies uit die opera-wêreld saam te stel, want ek dink dat daar in daardie geraffineerde wêreld van “hoogste kuns” sommer baie dinge skeefloop …
    So vertel iemand my jare gelede van ‘n Naruk-produksie van “Tosca” in Durban se skouburg. ‘n Klomp studente was naamlik gehuur om as figurante op te tree. In die eerste bedryf as paleiswagte en in die laaste bedryf as lede van die skietpeleton wat die arme Mario die ewigheid instuur. Die fout wat die organiseerders toe maak, is om dié studente voor die pouse van die laaste opvoering te betaal. Hulle is natuurlik toe almal na die kroeg reg langs die skouburg, want daar’s nog sommer baie tyd voor hulle weer op die verhoog moet wees. Nou ja, nodeloos om te sê: met die laaste bedryf, toe die manne moes korreltrek op Mario was hulle natuurlike reeds sterk gewater en die een man (die een wat die storie aan my vertel het) se vinger glip van al die antisipasie, sien, en die arme Itailiaanse tenoor se oë rek, want hy het nog ‘n hele strofe om te sing. Hy sloeg toe maar ten aarde neer en sing die laaste strofe met volle hartstog van die grond af. En die res van die vuurpeleton skiet toe maar sommer hul skote op die arme Mario af wat al wriemelend onverstoorde van die aarde en wat nog afskeid neem …
    Dankie vir jou wonderlike blogs. Elkeen is onvergeetlik.
    Ivan Mocke

  •