Blogfokus
Boggom en Voertsek
Boggom en Voertsek het saam gelewe Waar die Hantam-berge pryk En die dun kapok in die naglug swewe As die wind die biesies stryk.
Boggom en Voertsek het saam geswerwe Waar die boegoe-bossies bloei En die harde klip, deur die ys gekerwe In die oerou tyd, nog groei.
Boggom en Voertsek het saam gesanik In die aand teen die vollemaan: Sluit ek my oë vandag, dan waan ek Ek kan hulle taal verstaan.
Boggom en Voertsek het saam gesterwe, Waar die Hantam-wêreld hom strek. Daar’s niks as die storie om oor te erwe, En niks om daaruit te trek.
– C. Louis Leipoldt |
Jakkals en Bolf
Jakkals en Bolf het saam gelewe Waar die uithangborde pryk En mense snags erg gedrewe Flesvat tot die kroegdeure sluit.
Jakkals en Bolf het saam geswerwe Tot lank ná middernag Met vele drank in ys gekerwe Waar almal op ‘n laaste ronde wag.
Jakkals en Bolf het saam gesanik By die AA waar die doppe tél En almal hul redes kloekmoedig verstrek Wel wetend later word daar wéér geskink.
Jakkals en Bolf het saam gesterwe Waar die donker stad hom strek. Daar’s niks as dié dronk-storie om oor te erwe, En niks om daaruit te trek.
– Joan Hambidge |
(Ingestuur deur: Joan Hambidge)