Nou ja, toe. Hier volg ‘n Nuuswekker wat ek nooit in my mees bisarre drome ooit gedink het ek sal skryf nie. Ter agtergrond – indien jy nie bewus is daarvan nie – ek bedryf ‘n bepaalde boekwinkel op Stellenbosch. En so kry ek gister ‘n e-pos van ‘n gereelde ondersteuner van ons webblad wat wil weet of ons dan nie iets oor die grusame moord op Eugène Terre’Blanche, of ET soos die media deurgaans na hom verwys, gaan doen nie; hy was immers ook ‘n digter, word daar ietwat moedswillig geargumenteer.
Die opportunisme daarvan gru my en ek deliet die brief sonder om daarop te antwoord.
Nietemin, enkele ure later staan ek tussen die rakke, besig om nuwe voorraad weg te pak. By die toonbank staan ‘n jong (studente)meisie. Sy sien die stapeltjie koerante wat oopgevou op die toonbank lê. “ET vermoor met pangas!” roep sy verras uit. “Hoe ‘cool’ is dit nie,” sê sy vir my verkoopsdame agter die toonbank. “Niemand verdien om só te sterf nie,” antwoord my personeellid geskok. Die res van die gesprek is nie relevant nie, maar meteens onthou ek een van my gunsteling gedigte: “Napoleon” deur die Tsjeggiese digter Miroslav Holub:
Children, when was
Napoleon Bonaparte born,
asks teacher.
A thousand years ago, the children say.
A hundred years ago, the children say.
Last year, the children say.
No one knows.
Children, what did
Napoleon Bonaparte do,
asks teacher.
Won a war, the children say.
Lost a war, the children say.
No one knows.
Our butcher had a dog
called Napoleon,
says František.
The butcher used to beat him and the dog died
of hunger
a year ago.
And all the children are now sorry
for Napoleon.
En ek staan sprakeloos tussen rakke vol boeke. Totaal gewalg in myself vir die simpatie wat ek voel jeens iemand wie se politiek ek vir die grootste deel van my volwasse lewe verfoei het. En net so gewalg in die gevoelloosheid van my medemens. Hoe jonk sy (of hy) ook al mag wees. Want, géén mens verdien om ‘n slagoffer te wees nie. Net so vind ek dit vreemd dat niemand, so ver ek weet, nog kommentaar gelewer het op hoe jónk die (klaarblyklike) moordenaars is nie; óf die feit dat die totaliteit van ‘n persoon gereduseer kan word tot ‘n komiese, ietwat banale ruimtewese met ‘n gloeiende wysvinger nie. En meteens wonder ek: gestel nou dit was Julius Malema wat gedurende sy Sondagmidagslapie wreedaardig vermoor was … Sou ons dieselfde verstrengeling van emosies ervaar het?
Of wat praat ek nou?! Soos skaamte ken brutaliteit klaarblyklik geen perke nie.
Hoe dit ook al sy, vir ‘n deeglike en gebalanseerde besinning oor Eugène Terre’Blanche se dood en die betekenis daarvan, kan jy gerus Gerrit Brand se blog, DinkNet op LitNet gaan lees.
***
Na die langnaweek is daar sommer heelwat nuwe leesstof op die webblad: Chris Coolsma bring hulde aan Rudy Kousbroek wat enkeke dae gelede oorlede is, plus nuwe blogs deur Andries Bezuidenhout, Desmond Painter en Ilse van Staden. By Nuwe Stemme het Niel van Deventer ‘n inskrywing geplaas oor verdraagsaamheid en in die Brieweboks is Floris Brown se bydrae tot vandeesmaand se Blogfokus.
Sommer ‘n hele gerf vol lekkerleesstukke. Geniet dit en hê pret vandag.
Mooi bly.
LE