Ek hoop my gedig oor `n argitek wat omgegee het vir die ekologie en ruimte gelaat het vir die natuur, laat ons stilstaan en dink. Ek het verby `n plakkerskamp in Boksburg gery en die vindingrykheid van die bewoners was wonderlik!
Friedensreich Hundertwasser Vryheid:
(Friedrich Stowasser, 1928 – argitek en skilder, gebore in Wene. Hy verwerf bekendheid as argitektoniese geneser en beskermheer van die ekologie en herdoop homself Friedensreich Hundertwasser.)
Verbeel: voorgeelose Vredeskoninkryk Honderdwater vryheid
waar inwoners uit skimmelvlek en metaalstof
blyplek knoeibou uit oorskiet, Koo-blikke en koeldrankbottels.
Kegeltorings en groen lappies-sinkplaat word dakke waarop kakiebos
en mos onbelemmerd vervuil sodat die inwoner, sonskyn-oggende,
halflyf uitleun by `n uitkykvenster en kriebelkris
patrone of helder stippels krabbel
omdat hy sonder voorgee is.
Versin: `n voortuin met sonneblom en hoër-as-dakhoog bome
wat mure waarteen bouers en bokke urineer weg du:
leemklei in aardskleure wat asemhaal en bloei,
klein vensters waardeur `n mens skreefoog sien
en binne:
golwende ongelyk teëls en vloerbarste gevul met pienk Polyfilla.
Gee die binneversierder keramiekteëls in Krismiskleure
om die eerste en laaste lig te kaats.
Oorweeg: teen een blouselblou binnemuur
drie eende in vlug,
onderstebo.
Ek herinner my so:
oom Isak se dorpskafee se agterplaas-levvie
met die pers mure waarteen grondklam jaar na jaar ál perser klim.
tant Siena se bal-en-klou plaasbadkamer
waar blosende reiers eenbeen gestensil staan.
Die toiletrol is `n Kewpiepop met `n haaits hoepelrokkie aan.
Langs die katjiepiering op Rooikop
is `n tuinstoel-huis met `n
fraaiing bedsprei op.
Karlien van der Merwe.