Ek het, benewens ‘n vlugtige interaksie op hierdie webblad, nooit enige kontak met Lucas Malan gehad nie. Ek het hom trouens nooit ontmoet of hom sy gedigte hoor voorlees nie. Ek het hom egter geag as digter, en sy Edenboom is steeds een van my gunsteling bundels in Afrikaans.
Dit was ook een van die eerste bundels wat ek ooit gekoop het: by ‘n CNA-uitverkoping, dieselfde dag wat ek, soos ek al vantervore vertel het, Ernst van Heerden se Amulet teen die vuur aangeskaf het. Die oorspronklike prys voor in my kopie van Edenboom is doodgekrap: R16.95 — met die destydse AVB bygetel sou dit in totaal seker so ‘n raps meer as R18 gekos het. Die eerste afslagprys, sien ek, was R7.99, en is later weer ‘n keer verminder na 99c.
Ek voel eintlik sleg dat ek so ‘n mooi bundel vir 99c gekoop het, en ek skaam my ‘n bietjie dat Brackenfell se CNA ‘n boek, wat op daardie stadium maar twee jaar oud was, twee keer drasties moes ‘afmerk’ voordat dit verkoop is.
Gelukkig het dit ‘n gretige en bewonderende eienaar gekry. Ek het daardie relatief dun bundel voos gelees. Nou nog maak ek dit soms oop, lees ek ‘n paar gedigte, en ruik ek daaraan. Ek weet nie wat die uitgewers gedoen het nie, maar die boek het vandag, 23 jaar later, steeds ‘n skerp, onmiskenbare reuk van gom en papier. ‘n Reuk wat my altyd laat dink aan Sondagmiddae in Brackenfell in die winter.
Twee van my gunstelinggedigte in Edenboom het juis gehandel oor die dood:
Lugtig
Waar iemand doodgaan, skeur die lug,
snak die uur na asem en dit sug: ver-
by. ‘n Deur gaan oop, die mure skud
en iewers gaan ‘n voël neerstort –
Die dag ruim plek in, ongemerk,
en bome buig in nabetragting, vlug
hul aardsheid binne, word weer groen
‘n laning langs ‘n landery of straat.
Jy sou dit skaars aan lug of bome merk
as iemand doodgaan, stiptelik ‘n bed ont-
ruim, die voordag soos ‘n laken skeur –
maar luister hoe dit oral oor gebeur:
Kring
Onbeholpe en van stryk gebring hier saamgetrek
dié wat oorleef het die winters tot nou
toe, soos oorslag-lemoene behoue;
plek-plek ontbering se skaafmerke sigbaar,
nogtans uitgespaar. ‘n Paar met hul kinders,
onmondig, maar ‘n kworum desnieteenstaande.
Vandag weer versamel en plegtig geskaar
om te groet: naas mekaar, ook dié ene minder,
bestem vir die grond, die inskep met grawe
in wierook van stof – begin kyk hulle bedug
na die kring wat so kwyn en tog groei; kyk hulle
rond, na die niggies en ooms: onthou die ravot
somersaande op die kweek, ‘n dam en die kaalgatbaljaar –
so pas die ondraaglike las van soliede oorskot.
Baie dankie hiervoor, Desmond. Toevallig is “Edenboom” ook vir my ‘n gunsteling, maar meer so weens “Die leer van bome” as enige ander gedig. Vir vele jare het ek dit as onderwyser met my leerlinge behandel en in gesprekke agterna is daar telkens deur hulle na dié vers as ‘n hoogtepunt in hul leerplan verwys.
Die leer van bome
As kind het hy die geur van hout
leer ken, in saagsels klam van hars
geruik hoe seders hul teen pyn verset
en vaag vermoed hy hoor ‘n mens uitroep
as saag en spyker deur die balke knars;
al spelend so onder maats het hy
gemerk hoe vlek die soet granaat
‘n meisiekind se hande en haar mond;
alreeds begryp hoe taai die boom
se vrug akkoord hou met die smaad.
Later het die palm groen hosannas
voor hom oopgestraat, het hy vervloek
die vyeboom se vrugtelose aard. En toe
hy struikelend op pad na Golgota
wou rus, die skadu van ‘n boom gesoek –
en ná hy met die ander kon vergader,
toe hy in daardie laaste tuin alleen
moes worstel met sy eerste Vader,
toornig van die vrank olyf geleer
dat bome wroegend soos ‘n mens kan ween.