
Alhoewel my voorneme met die weeklikse boekefokus is om by wyse van “bekendstelling” merendeels op oorsese publikasies te konsentreer, wil ek vanoggend skaamteloos oor ‘n plaaslike Engelse publikasie berig. Dit is naamlik oor “Intimately absent“, die Engelse vertaling deur Leon de Kock van Cas Vos se bundel “Intieme afwesige“; in hoofsaak vanweë die hele debat rondom die vertaalbaarheid van tekste wat weer deur Daniel Hugo se essay en Charl-Pierre Naudé se vertaling van Ingrid Jonker se “Bitterbessie dagbreek” geaktiveer is.
In die onlangse verlede is ons nogals dikwels verras met ‘n aantal wonderlike vertalings van Afrikaanse gedigte wat deur die betrokke digters self na Engels vertaal is, te wete: Petra Müller (Night crossing, 2006: Tafelberg) en Charl-Pierre Naudé (Against the light, 2007: Protea Boekhuis). En nou is daar Leon de Kock se vertalings van Cas Vos se gedigte, en watter enorme prestasie is dít nie, want waaragtig: Leon de Kock is ‘n meester van sy ambag. Soos daar al deur verskeie kommentators op hierdie webblad opgemerk is, is dit nie altyd maklik om ‘n vertaalde vers in sy “oorgeklankte” vorm te laat sing nie, maar myns insiens slaag De Kock met ‘n bykans ongelooflike aanvoeling ten opsigte van nuanse en klankplastiek daarin om die outentisiteit van die oorspronklike vers te behou.
Daarom is dit hoegenaamd nie vreemd dat De Kock se vertaalwerk al vantevore met verskeie pryse bekroon is nie … Ter illustrasie plaas ek ‘n vers uit die Abélard en Héloïse-siklus in “Intieme afwesige” onder aan vanoggend se Nuuswekker.
***
Uiteraard hang Lucas Malan se heengaan gister soos ‘n bedrukte wolk oor die webblad vanoggend. Afgesien van die stukke wat reeds geplaas is, waaronder die Spesiale Nuuswekker gister en Desmond Painter se bydrae, fokus ek graag jou aandag op die oorsig van sy werk wat vroeër vanjaar op Poetry International verskyn het; om nie van Lucas se Skrywersalbum op LitNet te vergeet nie. Ook op Die Burger se Boekeblok is daar vandag ‘n huldeblyk. Vir diegene wat belangstel: die Gedenkdiens vir Lucas sal Maandagoggend om 10:00 by Evita se Perron in Darling plaasvind.
Nietemin, nuwe toevoegings tot die webblad is die tweede (en laaste) aflewering van die onderhoud wat met Danie Marais gevoer is oor sy belangwekkende essay, “Stilte in die hof!“, asook ‘n besonderse vertelling deur Ester Naomi Perquin rondom ‘n gedig van Henry Sepers en ‘n nuwe inskrywing deur Bibi Slippers by Nuwe Stemme.
Lekker lees, en indien jy jou môre in die omstreke van Stellenbosch bevind, kan jy gerus om 11:00 kom luster na wanneer Cas Vos met Henning Pieterse in Protea Boekwinkel oor sy nuutste bundels gaan gesels. Skakel gerus (021) 882 9100 indien jy meer inligting verlang.
Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
Ek het gehoop ‘n vrou
vergeet die warm bloed
in ‘n man se are.
Maar vergeet duur ‘n ewigheid.
As ek deur die poort kyk,
verlang ek na die nektar van jou perkament
waar liedere tot in die hemel eggo.
In die gedruis strooi ‘n stem
my naam in die wind
en ek ruik die geur van sterre.
Ek begeer om jou liedere te sing,
om jou melodieë te leer speel.
En hoor hoe sag die refreine asemhaal.
***
I had hoped a woman
could forget the hot blood
in a man’s veins.
But forgetting takes forever.
When I look out through the gateway,
I find myself longing for the taste,
the sweet scent of your vellum,
echoing lyrics to heaven and back again.
Amid the roar my name
is flung to the winds.
I catch the fragrance of stars.
My desire is to sing your songs,
to learn the shape of your melodies.
I can hear how softly these refrains breath.
© Cas Vos (Engelse vertaling deur: Leon de Kock)
Uit: Intieme afwesige & Intimately absent (Protea Boekhuis)