
Die afgelope tyd was daar weer heelwat kommentare in die wandelgange oor die stand van ons resensiebedryf. En ja, natuurlik is daar waarskynlik net soveel menings hieromtrent as wat daar lesers van digbundels is. Want wat is die oogmerk van ‘n resensie eintlik? Is dit veronderstel om ‘n inleidende “bekendstellingstraktaatjie” sonder waardeoordeel te wees, of is die idee dat dit ‘n indringende bespreking, met waarde-uitsprake, van ‘n bepaalde teks moet wees? En vir wie is die resensie bedoel: vir iemand wat reeds die teks gelees het, of vir die (waarskynlike) leser en/of koper? Is dit wenslik dat digters hul kollega’s se werk resenseer? Ensovoorts, ensovoorts.
Daarom dat ek dit nie kon verhelp om ‘n artikel, “What poetry reviews are for (and up against)” deur ene Craig Teicher (in die Publishers Weekly van 29.03.2010), nader te hark vir vanoggend se Nuuswekker nie … “Poetry reviewing is a controversial topic,” begin die man. “Few publications review it at all, and with continually shrinking space for book reviews in general, poetry gets fewer column inches than ever, at least in print.” Nou ja, toe. Wat is nuut? “Often, poetry reviewers-and publishers-are also poets, which may be because, for the most part, practitioners are the ones interested in poetry. It may also be true that writing about poetry requires a certain esoteric expertise that few have.”
En dan, in ‘n deeglike oorsig, gee hy na bostaande lammerige aanloop ‘n volledige uiteensetting van die problematiek van die resensiebedryf. Nugter, op die punt af. Wat ek egter vanoggend aan jou wil voorhou, is die volgende uitsprake wat deur Teicher aangehaal word:
“The purpose of poetry reviewing is to keep the art of poetry alive. It’s vital for our culture that we not only publish good poetry, but that we continue to sort out for ourselves what exactly good poetry is. Much of this sorting out should take place in reviews of poetry books.” (Kevin Prufer – redakteur, digter en resensent vir verskeie publikasies.)
“The most valuable thing about a review of a book of poetry is its potential to deepen the reader’s experience of the work under consideration. The thoughts and insights of a perceptive, educated, interested writer who has spent a significant amount of time with the poetry can be of great help to someone who is new to the poems.” (Matthew Zapruder – Poësiekeurder en – redakteur, en ook digter.)
En, ten slotte, spesiaal vir die wrokkiges onder ons: “I’m of the school that no publicity is bad publicity. If a book is worth its salt, it’s going to attract attention, good and bad. A scathing review might temporarily wound the writer’s ego, but if it’s bad enough, it might incite readers to pick up the book and judge for themselves.” (Nichole Brown – Uitgewer van digbundels.)
Gaan lees gerus die volledige artikel. Beslis die moeite werd. Maar, helaas, geen enkelduidige of duidelike antwoord op die teenstrydige aard van die resensiebedryf nie … A luta continua, soos hulle in Portugees sal sê.
***
Sedert gister is die huldigingsrede wat Hennie Aucamp Maandagoggend tydens die Gedenkdiens vir Lucas Malan op Darling gelewer het, ontvang en geplaas. Lees veral ook die twee pragtige verse wat op de begrafnisbrief gedruk was. Aan die blogkant van sake is nuwe inskrywings deur Andries Bezuidenhout, Ilse van Staden, Chris Coolsma, Philip de Vos en Hennie Meyer geplaas, asook ‘n verdere bydrae (deur einste Hennie Meyer) tot vandeesmaand se Blogfokus.
Lekker lees en onthou om ook te pret te hê in wat jy doen vandag.
Mooi bly.
LE
die gedig is nagedagtenis,
episodes van stroomversnellings
om soos ‘n sjamaan die woorde
uit die murg te ontwar.
dat ek soms net wil rus
van alles wat gly
of stelselmatig verarm –
om ‘n maan wat aanrooi
agter ‘n berg te volg,
sou beter wees
as die slyp aan ‘n gedig.
alleen is ons wel,
en alleen ook nie.
elke woord verwys na iets,
dra soos ‘n esel die rugsak
oor ‘n berg na iemand toe,
of elders
waar resensente
die intieme hoeke
van sonondergange
probeer verken.