“Wat is jou gunsteling gedig?” Dié vraag van ʼn vriend vang my ietwat onkant. Ek het immers ʼn gunsteling fliek, paar skoene, kleur, seisoen en selfs ʼn gunsteling sitplek in my gunsteling koffiekroeg, maar ʼn gedig? Op die vraag of ek net een moet kies, antwoord hy: “Ja, net één.”
Dit is ook ʼn vraag wat ek sélf graag aan studente vra en antwoorde wissel van die afgestompte “Ek lees nie gedigte nie” en die raaiselagtige “Ek kan nie die gedig se naam onthou nie, maar die “ou” skryf oor vlerke en hy was in die tronk” (uiteindelik het die student toe nie Kurt Darren se “Loslappie” as poësie beskou nie, maar wel verwys na Breyten Breytenbach se “Allerliefste, ek stuur vir jou ʼn rooiborsduif”) tot ʼn trotse “My ma sê elke gedig wat ek skryf, is haar gunsteling.”
Op my vriend se vraag kon ek nie dadelik ‘n antwoord gee nie, hy was nie tevrede met my verweer dat ek eenvoudig nie net één gedig kan kies nie, omdat daar te veel gedigte is wat my laat lag, my laat huil, my laat wonder én verwonderd laat. Ek het deur my inventaris van indrukke oor gedigte gegaan om sodoende te (probeer) bepaal watter gedig uitstaan. Sou dit Ina Rousseau se “Sondag op Stellenbosch” wees of Johann de Lange se “Arabiese seun”? Maar dan dink ek weer aan “Brief van hulle vakansie” deur Breytenbach én Antjie Krog se “Pouse” én Hennig Pieterse se “Ou parfuum wat swaar” én die hele Groot Verseboek (al drie van hulle).
Ek het onlangs ʼn e-pos van die bogenoemde vriend ontvang: “Het jy al besluit?” My antwoord was dat ek nog dink. ʼn Mens kies tog nie tussen jou kinders nie, jy het elkeen op ʼn ander manier lief. Dalk werk dit ook so met gedigte, maar is daar nie tog een wat jy wél voortrek nie, die witbroodjie?
Jy’t weggegaan en jy bewoon
ʼn silwer herberg in die sneeu
jou vensters kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein
die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind
Met die verligting wat sekerlik gepaard gaan met ʼn AA-lid se erkentenis, kan ek dus nou sê: Ek is Suzanne Bezuidenhout en Van Wyk Louw se “Jy’t weggegaan” is my gunsteling gedig. Voorlopig.
Nou maar toe Elizabeth, vertel vir my watter poësie lê jou na aan die hart?
Wat ‘n heerlike belewenis om op poësieliefhebbers se gunstelinge af te kom! Ook myne!
Dankie Ivan, dit is vir my so ‘n mooi beskrywing: “die dae val / stukke pleister”. Het jy ‘n gedig wat jou besonder na aan die hart lê?
Johann ek is dit eens met jou!
Ai, Suzanne. Hoe laat hierdie vers my meteens verlang na my vriend Jan de Bruyn wat enkele jare gelede oorlede is. Dit was ook ‘n gunsteling vir hom.
Hier’s een van sy gedigte, spesiaal vir jou:
Die aarde is ‘n ou gebou
is nie meer bewoonbaar nie
tussen die roet en wolke
roes die rame deur
die dae val
stukke pleister
Hier is die kelder
waar ek tydelik woon
hier is die skrif aan die muur
en repe óú geel
muurpapier van die son
en die gebreekte ruite reën
Viva Van Wyk Louw!