
Dit is nie aldag dat ek die geleentheid kry om oor die digkuns van Afrika ‘n Nuuswekker te kan pleeg nie. Nie dat dit minderwaardig is, of nie bestaan nie, nee. Waarskynlik omrede so min daarvan op die internet – en daarmee aan ‘n groter gehoor beskikbaar is. Daarom dat ek heel opgewonde was om te verneem van die publikasie van ‘n bloemlesing met eietydse Zimbabwiese digkuns. State of the Nation: Contemporary Zimbabwean poetry is deur Tinashe Mushakavanhu en David Nettleingham saamgestel. (Ongelukkig is die uitgewer nie vermeld nie.)
Wat my belangstelling egter gewek het, is die resensie deur Memory Chirere wat in African Writing verskyn het. En watter vreemde resensie is dit nie … Die openingsparagraaf lees byvoorbeeld soos volg: “When I received this book, State of the Nation: Contemporary Zimbabwean poetry, its very pointed title hinted that it was a project on Zimbabwe now as seen by its various poets. I know that the state of our beloved but beleaguered nation, Zimbabwe is now well known. The term ‘Zimbabwean crisis’ has even been spawned. Whatever way you look at it, the Zimbabwean crisis is characterized by serious food shortages, lack of jobs, rampant underpaying of civil servants, acute brain drain and the general collapse of public amenities.”
Hierna volg ‘n lang uiteensetting van die sosio-politiese gebeure in Zimbabwe vanaf 1998 en dan hierdie vernuftige voetwerk ter diskwalifikasie: “But then I must state that this cannot be an out-and-out book review because I know and am known to most of the poets in here. I know the fires that begat the red brick. Reading them is like meeting again in a new country under a new sky. To me, most of these are both poets and people.”
Nou ja, toe. In welke mate verskil dít van ons eie situasie hier ter lande? En ai, kan enige digkuns met sodanige uitgangspunt floreer? Nietemin, na dié skadeloosstelling volg ‘n bykans anekdotiese weergawe van elke digter wat in die bloemlesing opgeneem is; meestal mans. (Ek kon slegs drie vrouedigters in die gallery van “name” identifiseer.)
Interessant genoeg, wanneer Chirere egter oor John Eppel skryf, is hy meteens veel meer venynig en heeltemal gemaklik met striemende kommentaar: “In his own testimony, John Eppel makes the crudest series of claims and accusations that I have ever heard from one of us. First, Eppel says the late Yvonne Vera, ‘like all Shona writers with ZANU PF sympathies (was) still in too much denial to tackle the shameful period” (of Gukurahundi) and therefore Vera’s The Stone Virgins ‘is abject cowardice.’ Really? I have quietly noticed, over the years, that John Eppel is decidedly anti Shona. Most of his bad characters have to be Shona! Everywhere Eppel’s Shonas are senselessly clobbering and haranguing either a white man or a hapless Ndebele.” Miskien is Eppel gewoon een van dié skrywers wat hy nie ken nie. Of een van die min wat buite sy landsgrense bekend is en derhalwe ietwat “afgeskaal” moet word?
Nog ‘n vreemde ding is dat die jong digteres, Fugisayi Sasa, nié in hierdie bloemlesing opgeneem is nie. Dit, ten spyte daarvan dat die nuutste uitgawe van Poetry International juis op háár digkuns fokus. Dit wil my mos voorkom asof knoeiwerk, soos armoede, geen skaamte of voorkeur het nie. Durf ons dan nog enige waarde heg aan die optimistiese opmerking waarmee Chirere sy getuigskrif afsluit? “They went beyond the realm of ‘look what they have done to me’ and began to show ‘what we have to do about it’. I honestly believe that Zimbabwe is not the worst and last place God made. We shall overcome.”
En natuurlik, die hoop beskaam nie. Vir jou leesplesier plaas ek een van Fugisayi Sasa se gedigte onder aan vanoggend se Nuuswekker. Dié gedig, en enkele ander, kan op Poetry International Web gelees word.
***
Na die stortvloed nuwe inhoud wat hierdie week geplaas is, is daar vanoggend net twee nuwe plasings: die Hugo Claus-gedenklesing wat Gerrit Komrij verlede week gelewer het en Suzanne Bezuidenhout wat haar toetrede maak tot die Nuwe Stemme-blogruimte. Gebruik dus dié geleentheid om ook van jou agterstallige leeswerk in te haal; veral die laaste klompie “Wisselkaarten” is boeiende leesstof: Ester Naomi Perquin wat vertel van ‘n intieme moment in ‘n park, Edwin Fagel wat nog steeds met sy alter-ego worstel oor die kwessie van “werklikheid”, Luuk Gruwez wat skryf oor Mark Boog se nuutste digbundel en ten slotte, Chris Coolsma oor die kwessie van dosentskap met vier kostelike Billy Collins-gedigte wat hy in Nederlands vertaal het.
Ai, watter aanwins is dié kollegas nie vir die webblad nie! Lees, raak opgewonde en neem deel …
Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
HOUSE OF BROKEN STONES
i am coming home
how long i have missed your red earth
your scent of jacaranda
your balancing rocks and your dazzling smile
but
you are fading
those who loved you once
and vowed to cherish you
men you and i trusted
have violently taken from you, all
that is precious
many of your children who fled in fear, weep
for your pain, and those left behind
nematambudziko
who, out of all the countries
in Africa, consoles you
has anyone tried to clothe your shame
the men who publicly raped you
now pretend to make love
to you in secret
their hearts full of
revulsion with a greed
that feeds only itself
(c) Fugisayi Sasa