Nou ja, toe. Die volgende storie, wat ek verlede week op The Independent se webtuiste raakgelees het, is waarskynlik ‘n voorbeeld van ekstreme liefde of “egale” lojaliteit. En dit is naamlik die eggenote van die historikus Orlando Figes wat die interaktiewe komponent van Amazon.com gebruik het om onder die dekmantel van ‘n (akademiese) resensent haar man se boek – ‘n boek oor die Russiese geskiedenis – ten hemele te loof en terselfdertyd ‘n vendetta onder verskillende skuilname teen opponerende publikasies te loods; meer spesifiek teen nog ‘n geskiedkundige, Rachel Polonsky se boek “Molotov’s magic“.
“This is the sort of book that makes you wonder why it was ever published… Polonsky’s writing is so dense and pretentious, itself so tangled in literary allusions, that it is hard to follow,” het sy onder andere geskryf. Robert Service, ‘n historikus van St. Antony’s College in oxford, se boek “Comrades” is kortweg afgemaak as “Awful!” en “curiously dull”. Van haar eie man se boek, “The whisperers”, het sy die volgende te sê gehad: “Beautifully written … leaves the reader awed, humbled yet uplifted … a gift to us all”.
Dié onderduimsheid is deur James Campbell vermoed nadat hy in sy gereelde rubriek in die Times Literary Supplement begin het om twee en twee bymekaar te sit; veral omrede dié (onbekende) resensent kennelik ‘n kenner van Russiese geskiedenis was wat haar gifpen spesifiek teen Rachel Polonsky gemik het wat enkele jare gelede ‘n uiters negatiewe resensie oor ‘n vroeëre publikasie van Figes, “Natasha’s dance” geskryf het. Dié berig is deur ander koerante oorgeneem en Robert Service genoop om ‘n e-pos uit te stuur na bykans alle geskiedkundiges in die VSA waarin hy parallele getrek het met die ou Sowejet gebruik om akademiese reputasies deur middel van sulke persoonlike aanvalle te vernietig en gevra “how to expunge the practice and expose the practitioners of malign electronic denunciation in countries of free expression”.
Ironies genoeg was een van die eerstes wat op dié e-pos reageer het, Figes self: “I am not the author of the Amazon reviews penned by ‘orlando-birkbeck’ … Virtually anybody could have written the Amazon reviews. The system is open to abuse, as is so much of the internet, where I have been the victim of malicious campaigns and anonymous attacks on numerous occasions over recent years. Perhaps we shouldn’t take anonymous reviews on Amazon seriously,” het hy geskryf.
Maar, net die volgende dag, nadat rekenaar deskundiges vasgestel het dat die sluipskrywer se skrywes van dieselfde rekenaar af geskied as die een wat vantevore deur ene “Figes” gebruik is om boeke by Amazon.com te bestel, is die volgende verklaring deur Orlando Figes se regsverteenwoordiger uitgereik: “My client’s wife wrote the reviews. My client has only just found out about this, this evening. Both he and his wife are taking steps to make the position clear.” Mevrou Figes (Stephanie Palmer) se kommentaar was kort en kragtig: “I can confirm that statement.”
Maar nog is het einde niet, want gedurende die naweek het Figes na vore gekom en nou sélf skuld erken: “I am ashamed of my behaviour, and don’t entirely understand why I acted as I did. It was stupid – some of the reviews I now see were small-minded and ungenerous but they were not intended to harm,” het hy aan The Independent se beriggewer gesê. En nou is die jagseisoen oop vir lastersake téén Orlando Figes; nie net deur die belasterde skrywers nie, maar ook die redakteur van The Times Literary Supplement wat Figes se ontkenning en sy vrou se skulderkenning gepubliseer het terwyl hulle gewéét het dat dit nie waar was nie …
Maar die grootste verskoning van almal is Figes waarskynlik verskuldig aan sy vrou wat bereid was om openbare verguising te ondergaan ter wille van haar man se beeld en reputasie.
***
Vanoggend wens ons graag twee van ons gereelde bydraers tot dié webblad geluk met besonderse prestasies hierdie naweek: Peter Holvoet-Hanssen wat die Paul Snoek Poëzieprys verower het met sy bundel Navagio, en Ester Naomi Perquin aan wie die Jo Peters Poëzieprijs toegeken is vir haar bundel Namens de ander. Welgedaan, Peter en Ester, ons is verheug saam met julle.
Op die webblad is daar sedert Vrydag die volgende bydraes: ‘n nuwe blog deur Andries Bezuidenhout en ‘n bydrae tot die Blogfokus deur Ilse van Staden en Juksta Vermeul. Dan het Bernard Odendaal ook ‘n omvattende resensie van Fanie Olivier se nuutste bundel, apostroof, geplaas.
Lekker lees en mag dié week – met sy twee Openbare Vakansiedae – ‘n plesierige affêre wees …
Mooi bly.
LE