Volgens ‘n berig in De Volkskrant het ‘n dertigtal vroue verlede week “Rokjesdag” op die Koningsplein in Amsterdam gevier toe hulle op die maat van Katrina and the Waves se welbekende liedjie “Walking on sunshine” tot die vermaak van omstanders gedans het.
Rokjesdag is deur die Martin Bril, die bekende joernalis wat verlede jaar oorlede is, ingestel toe hy ‘n rubriek geskryf het oor die vreemde fenomeen dat daar, amper asof dit so ooreengekom is, ‘n bepaalde dag aan die begin van die lente is wanneer bykans alle vroue hul rokke uit die kas haal en met kaal bene deur die strate van Amsterdam pronk. “‘Rokjesdag is die ene dag in het voorjaar dat alle vrouwen als bij toverslag ineens een rok dragen, met daaronder blote benen. (…)” het hy geskryf. “Er is geen tamtam, en het wordt niet op radio en televisie aangekondigd. Het gaat dus om een voorgevoel dat duizenden vrouwen op hetzelfde moment bezoekt.”
Ongelukkig was die dag verlede week nié ‘n goeie dag vir vroue om solidariteit met Bril se oproep te demonstreer nie, aangesien dit tans nog hopeloos te koud is daarvoor. So is daar berig dat ” de deelnemende dames op het Koningsplein, gestoken in minirokken, knierokken, spijkerrokken en jurkjes allemaal blauw aangelopen benen van de kou”.
Maar ook dié fenomeen het Bril in sy rubriek by aangesny: “Rokjesdag moet een element van ontbering hebben, een koude ochtend en kippenvel. Vijf graden in de ochtendspits. Het lijkt wel alsof je gek bent. Maar je ziet gelukkig overal collega’s.”
Nou ja, toe. Ter wille van die fynproewers onder julle plaas ek nóg ‘n foto, een wat op De Papieren Man se webtuiste verskyn het, onder aan vanoggend se Nuuswekker. Inderdaad ‘n veel beter toonbeeld van elegansie en vroulikheid, myns insiens.
***
Vanoggend is daar twee nuwe inskrywings op die webblad (dis nou indien ‘n mens Andries Bezuidenhout se pad vra buite rekening laat), en dit is Desmond Painter wat vertel van ‘n nuwe TV-program en Philip de Vos wat die vierde deel in sy reis met fotogedigte geplaas het.
Ten slotte maak ons vanoggend met groot vreugde bekend dat nog vier prominente Vlaams-Nederlandse digters die afgelope paar dae ingestem het tot deelname aan Wisselkaarten, te wete: Vrouwkje Tuinman, Astrid Lampe, Erik Lindner en Chrétien Breukers. Saam met die bestaande deelnemers, Yves T’Sjoen, Luuk Gruwez, Alfred Schaffer, Edwin Fagel, Ester Naomi Perquin, Chris Coolsma en Willem van Toorn vorm hulle inderdaad ‘n indrukwekkende groep digters wat entoesiasties bereid is om deel te neem aan ‘n projek van hierdie aard. (Gaan kyk gerus by die inligtingsblad van Wisselkaarten vir hul biografiese besonderhede en vergewis jouself van die gehalte van dié deelnemers.)
Lekker lees en geniet die spesiale rusdag. En sit sommer solank die bruiswyn in die yskas; môre is ons webblad presies 1 jaar oud …
Mooi bly.
LE