Bibi Slippers. Die misgeboorte van ‘n gedig.

Ek het meer as twee weke laas ‘n gedig geskryf. Ek moet oor ses dae tien nuwe gedigte en ‘n klomp oorgeskryfdes vir my mede-studente e-mail. In plaas van aangrypende beelde dink ek aangrypende verskonings uit.

Gister sou dig-dag wees. Na die eerste sit voor die rekenaar besluit ek die probleem is dat ek nie genoeg weet oor dit waaroor ek wil skryf nie. (Waaroor ek wil skryf is 1. die honde in De Waal Park 2. Voëls 3. Siklone 4. En gewone dinge soos teepotte – nie omdat ek wil nie maar omdat dit ‘n opdrag was.)

Ek maak soos wat enige regdenkende aspirant-digteres sal maak as sy iets oor teepotte en voëls wil uitvind: ek stop vinnig by die biblioteek, en gaan drink ‘n langdradige pot tee saam met ‘n vriend. Ons praat oor tee-rituele en dwelms en kyk by die venster uit na die voëls. My enigste bydra tot die gesprek oor dwelms is dat ek Dinsdag mushrooms op toast vir ontbyt gehad het. Dit was die gewone soort. Saai. Verder luister ek maar en maak mental notes. As ek teen Vrydag nog niks geskryf het nie sal ek hom dalk weer bel. Die teepot was ‘n baie gewone witte, en niks om oor huis toe te skryf nie. Of om enigsins oor te skryf nie.

Uitkoms: uiters onsuksesvol. Maar – dit was mos nog net die AANLOOP tot die skrywery. So dis fine. Dis fine. Fine.

Terug by die huis na die uitstappie stal ek die boeke netjies langs my op die lessenaar uit. Dis inspirerend. Ek maak ‘n nuwe Word-dokument oop. Ek skink wyn. Die netjiese uitstallingtjie laat die res van my huis baie deurmekaar lyk. Ek was die vloer. Ek onthou ‘n ou idee vir ‘n gedig oor ‘n emmer. Ek skribbel die idee in my notaboek. Ek was die skottelgoed. Die warm water maak my lus vir tee. Ek wag vir die ketel en blaai deur my notaboek. Ek doodle. Ek dink oor voëls en teken ‘n paar.

Pre-gedig notas.  Of dan "uitstel-kuns".

Pre-gedig notas. Of uitstel-kuns.

Ek kan presies voel hoe die gedigte gaan kriewel as hulle uitbroei, waar elkeen se vere gaan lê, hoe hulle liedjies gaan klink. Maar hulle het nog nie woorde nie. Ek gooi tee op die gevoeltes wat in my keel vassit en hoop hulle groei. Niks. Ek raak honger. Weer toast en mushrooms – ek het soms sulke outistiese smaak. Oor en oor en oor dieselfde ding. En nogsteeds niks. Ek skryf ‘n to-do list en ‘n e-mail. Ek pak die yskas reg. Alles is netjies. Alles is gereed. Die cursor wink belowend. Of tart hy my?

NIKS.niks.NIKS.niks. Niks… Maar dis nog nie Vrydag nie. So dis fine. Dis fine. Fine. Oor en oor dieselfde ding. Teepotte en toast. Emmers vol niks. Voëls vol wyn en rituele vol honde. En niks. Doodles. Siklone. Siklone. Siklonesiklonesiklonesiklone. Alles wat ek oor alles gelees het woer-woer-woer en maak my moeg. Ek wil in die wasbak opkrul, myself toedraai in die vloerhandoek. Saai wit teepot. Toast. Voëlvoete. Skoon vloer. Skottelgoed. Niks. Fine. Niks. Vaak. So dis fine. Ek slaap.

Dit was aand en dit was oggend. Die tweede dag. Geen gedigte het in my drome gekom nie. Ook nie oor ontbyt of tweede ontbyt nie. Ditto lunch en teetyd. En nou is dit namiddag. En niks. Maar dit maak nie meer saak nie. Dis fine.

Ek gaan geduldig voor my rekenaar bly sit en wag tot ‘n swerm gedigte uit die niet op die horison verskyn, en hulle onderskep op hulle migrasie na warmer plekke. Hulle kan dan vlerke flap en tjie-tjie-tjie soveel hulle wil – nie een sal ontsnap nie. Ek het stil gesit en lank gewag. EK is ‘n gevaarlike voëlvanger. Ek gaan bly sit tot ‘n wit teepot kantel en lou woorde oor my loop en my vingers olie. Ek gaan bly sit tot woorde onwillekeurig by my mond uitblaf. Ek gaan bly sit tot die storm kom en ek gaan sandsakke van woorde bou om myself te beskerm. Ek gaan bly sit tot my vloer weer vol stof is en met my vinger ‘n storie daarin skryf. Ek gaan hier bly sit tot iets gebeur.

En as niks gebeur nie, sal ek opstaan sodra my volgende stuk toast reg is.

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Bibi Slippers. Die misgeboorte van ‘n gedig.”

  1. Retha :

    Daar bestaan nie ‘n emoticon vir die effek wat hierdie op my gehad het nie.

  2. Liewe Retha

    Dankie vir jou kommentaar! En so ‘n mooi boodskappie ook. Wat van hierdie emoticon:

    <(“)

    Dis ‘n voëltjie om by die tema in te pas.

    x
    bibi

  3. Elizabeth Kendall :

    Dankie, dit was heerlike leesstof!!

  4. Hallo Elizabeth.

    Dankie vir die lees. Ek is so bly as my swaarkry darem vir iemand plesier verskaf 🙂

    Lekker dag!
    *bibi

  5. Lewies Botha :

    Bibbi

    Dis lekker lees. Verbeel ek my dalk het jy dit so bedoel; daar le ‘n gedig verskuil in jou stuk hierbo.

    Groete
    Lewies

  6. HEy LEwies…

    Dis ‘n onbedoelde eier… maar ek beter hom gaan uitbroei!

    Hou duim vas hy maak dit!

    Mooi bly.
    *Bibi

  7. sy snootles :

    Jou “onbedoelde eier” is reeds vir my so `n goeie komposisie dat ek sy vlerke al sien klap.Ek wens net jy wil hom uit die nes skop om te kyk of hy vlieg.Ek is ook nuuskierig om die verskuilde gedig daarby te lees.As hy nog nie klaar is nie moet jy hom maar nog wurms voer,eendag vlieg hy dalk reguit bundel toe.
    lekka skrywe.
    sy

  8. Sy.

    Dankie vir die motivering. Ek en my hans-eier waardeer dit. Maar versigtig: moenie “bundel” sê nie – netnou skrik die geveerdes vir daai groot woord en vlug vlaktes toe.

    Tata
    *bibi

  9. Jannie Malan :

    Dankie Bibi – jou blog is ‘n heerlike pienk randjie om ‘n potblou maandag! Mag al nege die muses binnekort jou voordeurklokkie lui.

  10. Pieter Hugo :

    Bibi, jy laat die misgeboorte van ‘n gedig na so ‘n lekker soort swaarkry klink dat ek skoon jaloers/bekommerd is oor daar soveel dae omgaan waarop ek geen gedigte skryf nie EN boonop nie daaroor stres nie!

    Nou het ons nog net iemad nodig om te skryf oor die afsterwe van ‘n gedig om ‘n mooi trilogie te voltooi.

    Ons wag…

  11. Hallo Jannie en Pieter

    Dankie vir julle kommentaar, en jammer oor die stadige terugskryf… maar ek is uiteindelik weer volstoom aan die regtig-egtig skryf.

    O… en ek hoor dat ek handdoek hier bo verkeerd gespel het. Innig jammer, en hier is my uitskryfwerk, sodat dit nie weer gebeur nie.

    handdoek, handdoek, handdoek, handdoek, handdoek. altyd met ‘n dubbel d.

    Amen!
    *b

  12. Allan :

    The problem with being mono-lingualis is that you discover a blog being done by someone you care for and it’s in that person’s first language…. and it’s one of 9,437 languages you can’t read.

  13. Dear Mister Matthews

    Thank you for finding my blog, at least! It’s every bit as cool as you imagine… and being in Afrikaans, a little cooler.

    I will send an English summary to your inbox – how’s that?

    Keep coming back here, though!

    Much love from Afrika
    Beatrice B.

  •