Desmond Painter. Droedel: ‘n Nota langs jou kussing

Claire

Claire

‘n Paar jaar gelede, in ‘n karige boekwinkeltjie in die omgewing van die Universiteit van Havana, het ek ‘n bundel gekoop van die Kubaanse digter, Roberto Fernández Retamar. Dit is tweetalig in Spaans en Engels gepubliseer deur die plaaslike uitgewer, José Martí, en die dikwels swak Engels laat ‘n mens wonder oor die kwaliteit van hierdie vertalings.

Soms, wanneer ek sit en droedel (dankie, Chris Coolsma, vir hierdie woord!), neem ek een van die vertalings, skryf dit rofweg oor in Afrikaans, sit die boek weg, en probeer dan my eie gediggie op Retamar se fondamente staan maak. Die een hier onder het ek gisteraand baie vinnig gedroedel, terwyl Claire op die telefoon was en die TV dus op ‘mute’ moes gaan…  

 

‘n Nota langs jou kussing

(vry na Roberto Fernández Retamar)

 

vir Claire

 

Te veel herinneringe en té veel hoop

is daar al tussen ons gekonkel. Te veel lewe

by nabetragting gelewe vir ons reis om ooit te skei:

nie die jare wat ons in die gesig vat nie;

nie die jare wat ons net by benadering geleef het  

nie die somer se aftog nie, kan ons meer skei

nie. Tyd, daardie veerboot van soveel vlugte, spoor

van soveel verlore liefdes, van Stellenbosch na Grahamstad,

van Bellville na Havana, na weemoed, na ontsetting

selfs, na meer illusies as in drome kon – soveel so dat niks,

behalwe dít wat alle dinge skei, ons meer kan skei nie.

Meisie van gister en môre, vrou van my lewe.

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Desmond Painter. Droedel: ‘n Nota langs jou kussing”

  1. Roelien :

    Pragtige vers! Is daar ‘n digbundel van jou al uit? Of oppad?

  2. Desmond :

    Roelien, dankie, maar nee, en nee. Ek hou vol, daar is ‘n verskil tussen mense wat nou en dan ‘n gedig by benadering kan naboots, en mense wat digters is… Hierdie een het ek so haastig gedoen, ek sien nou net voos plekke wanneer ek dit lees (my voos plekke, nie digter by wie ek gesteel het s’n nie…). Ek dink ek gaan later verbeteringe of veranderinge op hierdie blog pos.

  3. Louis :

    Desmond, ek stem saam met Roelien. Hierdie is waarskynlik een van die héél mooiste liefdesverse wat nog op die webblad verskyn het. Veral die afbreuk tussen reëls 6 & 7 vind ek besonder interessant. Ek kon nog nooit mooi verstaan waarom soveel digters probeer om die dubbele “nie” in Afrikaans te vermy nie … Die evokatiewe krag daarvan is enorm! Ons moet net leer om dit kreatief te gebruik; soos jy hier doen.
    Veels geluk.
    Louis

  4. Desmond Painter :

    Louis, dankie, jy is te gaaf! Ek moet darem bys^e, ek sou dit darem nie geplaas het as ek glad nie daarvan gehou het nie, en een van die goed wat ek wel van gehou het (en wat wel myne is, nie Retamar s’n nie!) is daardie spesifieke afbreuk en die opeenstapeling van die “nie’s”. So ek is nogal aangenaam verras dat jy dit noem! Nogtans, ek het die vers geplaas om Claire se oggend te verfraai (en my in haar goeie boekie te sit — jy weet mos, Herman de Coninck skryf tog so mooi oor daardie digterlike transaksie… :-)), maar in my EIE boekie is dit nog ‘n “onder konstruksie”. My probleem is net, ek gaan nooit terug na die halfgeboude huis om die “skirting boards” en die geute aan te timmer nie… My notaboeke lyk soos ‘n griekse dorp: al die huise is net half klaar.

  5. Roelien :

    En kyk vir Claire daar in die foto – sy lag maar net vir al jou halfklaar huise…

  6. Claire is super pragtig! en die gedig… amper so mooi soos Claire. Skryf nog BAIE, Desmond!

    **Bibi**

  7. Dis nou ‘n gedig!

  •