Johannes [Jo] Prins studeer aan die Universiteit van Stellenbosch en behaal die grade BPhil in Joernalistiek asook ‘n MA in Afrikaans en Nederlands. Hy woon twee jaar lank in Londen en werk onder meer as ‘n aanlyn-aandeleverkoper. Met sy terugkeer na Suid-Afrika werk hy as joernalis vir Primedia in Johannesburg en in 2000 sluit hy aan by die redaksie van die dagblad Beeld in Johannesburg. Hy word in 2006 bekroon as rubriekskrywer van die jaar. In 2001 debuteer hy as digter in Tafelberg se Nuwe stemme 2. Hy dra ook by tot As die son kom oogknip, die tydskrifte Karapaks en Spilpunt, die “Winternag”-gedenkbundel Honderd jaar later en Ons Klyntji. In 2009 word hy bekroon as rubriekskrywer van die jaar in die ATKV se Mediaveertjies vir gedrukte media/koerante. Prins se debuut, een hart, verskyn in 2009 by Lapa. In dieselfde jaar tree hy ook op by die Versindaba digtersfees in Stellenbosch.