
Soos jy teen die tyd waarskynlik weet, vier ons die afgelope paar dae die eenjarige bestaan van die webblad op die internet. Aangesien nuwe inhoud daardie eerste paar dae maar stadig verskyn het, het ons gevoel dat daar behoefte is aan ‘n tipe “blog” waar daar elke oggend iets nuuts te lese sal wees; boonop ‘n ruimte waarin ons leiding kon gee tov die gebruik van die webblad, ens. ens. En so is die konsep van die “Nuuswekker” gebore, wat vir die eerste keer môre, presies een jaar gelede, geplaas is. Maar, het ek vir Marlise gesê, ek’s nie seker hoe lank ek dit sal kan volhou nie. Nou is dit ‘n jaar later en ek is darem nog aan die gang …
Ek moet egter erken dat dit sommige oggende (Nuuswekker word normaalweg vóór 05:00 geplaas) maar broekskeur (of is dit “droogpen”?) gegaan het, maar dan lees ek weer my eerste Nuuswekker met sy skaamtelose uitdaging aan myself en dan kan ek dit nie verhelp om te glimlag oor die voortvarendheid daarvan nie. Want dan onthou ek dat ons daardie dag ‘n rekordgetal van 645 besoekers gehad het op die webblad. Ons kon eenvoudig net nie glo dat daar sóveel mense in Suid-Afrika was wat belang genoeg gestel het in die Afrikaanse poësie om dit ook nog op die internet te wil lees nie. En dan bruis daar weer iets van daardie eerste dae se opwinding deur my en voor jy kan sê “hier’s jou suiker!” is nog ‘n Nuuswekker klaar.
Daarom, vir jou sardoniese plesier plaas ek wéér die eerste Nuuswekker. Presies soos hy verskyn het op 1 Mei 2009. (Terloops, later daardie oggend het ons binne die eerste twee uur na die amptelike aankondiging verneem dat Carol Ann Duffy aangestel is as die nuwe poet laureate en ons het nie ‘n benul gehad waar om só ‘n “scoop” te plaas nie, want dit was nog máánde der maande voor “Klikbord”; om die waarheid te sê: die hoofblad was daardie tye nog ‘n statiese blad met slegs die omslae van die nuutste digbundels daarop. Toe plaas ek dié berig sommer onder aan die Nuuswekker en op dié manier het ons waarskynlik die res van die Suid-Afrikaanse media daarmee geklop. En ai, watter lekkerkry was dít nie gewees nie!)
Nietemin, ek moet klaarmaak. Sedert gister het daar sommer heelwat nuwe inhoud bygekom: Desmond Painter het twéé besonderse blogs geplaas, een meer persoonlik met ‘n onvergeetlike liefdesvers daarby, en een oor ‘n referaat wat hy moet voorberei oor Afrikaans, ras en nasionaliteit. Dan is daar ook nuwe inskrywings deur Philip de Vos, Charl-Pierre Naudé en Bibi Slippers. Nog ‘n belangrike toevoeging vanoggend is die nuwe gedigtekamers vir Karen de Wet en Fanie Olivier; asook nuwe bydraes tot die maand se blogfokus deur Philip de Vos en Lewies Botha. (Terloops, vandag is die sluitingsdag vir dié kompetisie. Die pryswenners sal môre saam met die nuwe tema aangekondig word.)
Ten slotte verwelkom ons graag vir Johannes Prins as nuwe blogger. Welkom, Jo. En sommer ook: geluk met jou verjaarsdag vandag! Ons sien uit na jou bydraes tot die blad.
Daarmee eers weer groet. En geniet die vreugde-sonder-brieke hieronder. (Askies sommer ook vir die flagrante binnepret. Ek sal nie ‘n gewoonte daarvan maak nie.)
Nuuswekker hervat weer Maandag.
Mooi bly.
LE
Nuuswekker beoog om elke weeksdag ‘n stukkie beskuit in jou eerste koppie koffie te doop. Lekker lees, en moenie vergeet nie – jou kommentaar word op prys gestel. |
1 Mei 2009
Werkersdag. Vir ‘n oomblik stuit ek voor die ironie hiervan. Om juis op werkersdag te begin met ‘n onderneming waarvolgens jy elke oggend vir ‘n onbepaalde tyd ‘n stukkie skryfsel wil produseer vir poësieliefhebbers om saam met hul eerste koppie koffie te geniet … (Toemaar, ek is net so nuuskierig soos jy om te sien hoe lank dit gaan duur voor die “elke weeksdag” in die kopgedeelte hierbo vervang word met “nou en dan”. ) Nietemin, hierdie ruimte word as gespreksforum bedoel; hier kan jy kommentaar lewer, opgewonde raak en voorstelle maak. Hierdie totale webblad is immers tot stand gebring vir jou – die liefhebber van die Afrikaanse digkuns – en jou deelname is vir ons uiteraard van die grootste belang.
Met die amptelike aankondiging van die webblad vandeesweek was ons as redaksie totaal oorweldig deur die reaksie daarop. Nie net was die getal besoekers dag vir dag waarskynlik dubbeld die gemiddelde oplaag van ‘n digbundel nie, maar die terugvoer – hetsy telefonies of per e-pos – het ons stom van vreugde gelaat. Baie dankie daarvoor. ‘n Mens kan maar net hoop dat hierdie magdom besoekers met dieselfde toegewyde ywer sal aanhou terugkom om steeds slukkie vir slukkie te bly drink aan die heerlikheid van ons digkuns.
Ten slotte, twee wenke –
- Jy moet jou nié laat mislei deur die “No comments” onderaan die inskrywings nie. Inderdaad is dit waar jy (asseblief) kommentaar moet lewer. Die “no comments” beteken gewoon dat daar nog nie ‘n kommentaar geplaas is nie. Indien kommentaar nie gelewer kan word nie, sal daar staan: “Both comments and pings are currently closed.” Jy is dan nog steeds welkom om jou kommentaar hier by Nuuswekker te lewer. (Terloops, wanneer kommentaar op ‘n bydrae “gesluit” word, is dit op versoek van die betrokke bydraer en dit moet as sulks gerespekteer word.)
- Indien jy die webblad nie daagliks wil besoek nie, maar tog steeds op hoogte wil bly van nuwe bydraes, kan jy dit oorweeg om by ons twitter aan te sluit by http://twitter.com/versindaba. Slegs jou naam en e-pos adres word vereis. Twitter sal jou dan via ‘n (kort) beriggie in kennis stel wanneer ‘n nuwe bydrae op die webblad geplaas is. Op dié manier kan jy moeiteloos van nuwe insetsels op hoogte gehou word.
En nou moet ek eers groet. My eie koffie staan en koud word. Maar darem wil ek nog eers ‘n laaste lekseltjie in jou beker skink .. (En watter beter manier is daar nie as met die openingsreëls van Herman Gorter se beroemde gedig “Mei” nie?!)
Een nieuwe lente en een nieuw geluid:
Ik wil dat dit lied klinkt als het gefluit,
Dat ik vaak hoorde voor een zomernacht,
In een oud stadje, langs de watergracht –
Mag jou bagasierak vandag vol vreugde wees, en onthou: Lewer kommentaar, neem deel …
Hierdie is immers jóú webblad!
Redaksie
NUUSFLITS … 1 Mei 2009 (14:00 GMT)
Die BBC het pas bekend gemaak dat die skotse digter Carol Ann Duffy aangewys is as die nuwe Poet Laureate van Engeland. Hierdie uitgesproke lesbiese digter is die eerste vrou wat hierdie onderskeiding te beurt val in die 341-jarige bestaan van dié amp. Haar aanstelling in 1999, toe sy ook as gunsteling benoem was vir dié pos, was deur die toenmalige Eerste Minister, Tony Blair, teengestaan.
Terloops, die verwysing na die “No comments” hierbo was natuurlik nog vóór Marlise die Britse program kon ver-Afrikaans het. Tans lees dié opdrag “Lewer kommentaar”. Klik daarop en ‘n venstertjie sal oopval. Ook – iets wat nogals baie mense verwar (of beangs): vir jou gerief sal die venstertjie met jou besonderhede (slegs en uitsluitlik) op JOU rekenaar (die een waarvandaan jy die kommentaar geplaas het) oop bly. Dis gewoon om jou volgende plasing te vergemaklik; of vir indien jy meer as een kommentaar wil plaas. Jou e-pos adres verskyn hoegenaamd NêRENS op die webblad nie en sal ook aan NIEMAND verskaf word nie. En dit is ‘n belofte waarop jy ‘n huis kan bou. 🙂
Ons sien uit na jou deelname by wyse van kommentaar.
O, ja – ter aansluiting by die uitnodiging hierbo om by “Twitter” te registreer: sedert dié uitnodiging ‘n jaar gelede gerig is, het Marlise ook ‘n Facebook-groep Versindaba tot stand gebring. So, indien “Gesigskrif” jou ding is, kan jy gerus daarby aansluit. Kyk net heel onder by die skakelkolom aan die regterkant vir die kortpad na Versindaba op Facebook.
En hê pret daarmee. Hierdie is en BLY immers jóú webblad ook.
Louis