
Die komponis Gustav Mahler is in 1860 gebore en in 1911 oorlede. Hierdie jaar is dit dus die 150ste herdenking van sy geboorte, en volgende jaar die 100ste herdenking van sy dood. Daar wag dus ‘n fees van Mahler opvoerings, opnames en heruitreikings vir diegene wat in sy musiek belangstel!
Ek moet bieg (bieg ‘n mens nog oor sulke goed?) dat ek nog nooit regtig werk gemaak het van Mahler nie. Daar is geen noemenswaardige rede hiervoor nie: die tyd en die geld het tot nou maar net ontbreek, of ander dinge het op my aandag aanspraak gemaak. Verder het ook nooit regtig geweet waar om te begin nie: watter simfonie eerste, en wie se opname?
Die tyd vir my konfrontasie met Mahler het egter nou uiteindelik aangebreek. Ek het ‘n spesiale aanbod op Mahler-produkte op die internet raakgeloop, en beluit om ‘n boksie met al sy simfonieë (insluitende die 10de, voltooi deur Deryck Cooke) aan te skaf. Die pragtige stel is pas vanmiddag by my kantoor afgelewer, en teen ongeveer R320 vir 12 CD’s en dus amper 13 uur se musiek (as julle nie sal omgee dat ek nou banksake praat nie) het ek van oor tot oor geglimlag.
Ek moes natuurlik kies tussen die ouer, bekende stelle soos die van George Solti, Leonard Bernstein en Simon Rattle, en ‘n paar van die meer onlangses. Na lang oorweging het ek besluit om Riccardo Chailly en die Royal Concertgebouw Orchestra se DECCA stel te koop. Dit het oor die algemeen uitstekende resensies gekry, en dit klink asof dit ‘n baie goeie basis is om van te werk. Chailly is ‘n gerekende en vurige Italiaanse dirigent, en die manne en vroue van die Concertgebouw is een van die beste orkeste ter wêreld. ‘n Mens kan later alternatiewe opnames van individuele werke deur verskillende dirigente en orkeste kry om Chailly se interpretasies aan te vul.