Niel van Deventer. Oor gister, helde en gister se helde.

Ek weet dat ek soveel inskrywings op hierdie blog kan maak as wat ek wil. Ek was in die laaste maand net so ongelooflik besig. Die keer of twee wat ek wel gevoel het ek het tyd om iets te skryf, het ek niks gehad om te sê nie. Ek wil nie meer kla nie, ek wil positief wees oor alles wat goed gaan in my lewe en so probeer lewe dat die negatiewe dinge konstant aan die beweeg en verby gaan is, want kom ons wees maar eerlik, selfs al is jy tevrede met hoe dinge in jou lewe gaan hoef jy net koerant te lees vir ‘n realiteit skok en kan jy maklik weer negatief raak oor baie dinge wat fout is.

Ek het in 2005 toe ek 21 was in Engeland as ‘n sekuriteitswag gewerk in die regering se Department for Culture, Media and Sport. Dit was lekker rustig en ek het ongelooflik baie tyd gehad vir dink en lees. Ek het saam met ‘n ou oom gewerk, Tom Whiting. Hy was 68 jaar oud, eintlik al afgetree, verskriklik lewenswys en het net hierdie werk aanhou doen omdat hy so baie van die interaksie met die mense gehou het. Tom het my Daniel of Danny genoem – na aanleiding van my doopnaam.

Ons eerste skof wat ons saam gewerk het was ‘n nagskof voor ‘n langnaweek. As Suid Afrikaner het ek nou mos maar ‘n ingekweekte respek vir ou mense (ek het hom dam nie uncle Tom genoem nie) en was my verbasing die volgende oggend groot toe hy vir my in ‘n sterk Cockney aksent groet met die woorde: “All right, on your bike mate. Get a rest and then later go down the pub, find a nice girl and get a leg over…”

Dit was my eerste kennismaking met die wysheid van Tom.

Op ‘n latere geleentheid het hy my vertel dat ek my nie te veel moet ontstel oor die bomme op die London Underground nie, hy was seker dit was die Franse omdat hulle suur was omdat London en niè Parys niè die 2012 Olimpiese Spele bod die vorige dag gekry het. Hy het wel bygevoeg dat elke generasie hulle uitdagings en vrese het en dat as ek my steur aan alles wat sleg is wat in die wêreld gebeur ek sal sterf voor my tyd van bekommernis.

_________________________________________________________________________________

Ek het gister goeie nuus gekry. Die tipe nuus wat ‘n mens se lewe verander. Ek het drie jaar gewerk vir gister se nuus. Ek het saam met die mense wat saam met my hard gewerk het aan hierdie projekte ‘n bier gaan drink by ‘n Dros in Johannesburg. Skielik kon ek nie help om te dink aan al die mense wat ek al geken het wat hulle self om die lewe gebring het nie. Waar is die punt waar daar niks meer oor is nie? Wanneer is jy so leeg dat breek al is wat oorbly?

_________________________________________________________________________________

So twee jaar gelede op besoek aan London is ek gegroet met die nuus dat Tom oorlede is toe ek hom weer wou gaan opsoek. Hy het klaarblyklik kanker gehad vir baie jare, nooit vir enige iemand by die werk daarvan gesê nie en eers opgehou werk toe hy nie meer uit sy bed kon opstaan nie. Ek het daardie aand net daar om die draai van Trafalgar Square waar ek en Tom so ‘n sonderlinge vriendskap gehad het in ‘n pub gaan sit en Guinness drink en ek het gehuil.

Gister het ek nie weer gehuil oor dooie mense nie, ek het in die Dros gesit en aan my bier geteug met ‘n dankbaarheid dat ek nie moed opgegee het nie. Ek het weer aan Tom gedink wat vir my vyf pond in die hand gestop het om ‘n bier op hom te drink die dag toe ek hom gegroet het op pad terug Suid Afrika toe. Hy het my hand geskud en my stip in die oë gekyk met die trots van ‘n pa of ‘n oupa (hy net nooit kinders gehad nie) en vir my gesê: “All right Danny, go make us proud now mate and never give up.”

In dae wanneer dit nie goed gegaan het nie, het ek vasgeklou aan Tom se raad en gister het ek my glas gelig op almal wat, soos Tom, ‘n positiewe invloed op my lewe gehad het tot dusver.

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Niel van Deventer. Oor gister, helde en gister se helde.”

  1. René :

    dis pure plesier om sulke blogs te lees uit die Nuwe Stemme galery. dankie hiervoor. en ja, never give up!

  2. Louis :

    Hel, Niel, watter aangrypende blog het jy nie hier geplaas nie! Sekerlik is daar geen leser wat nie hiermee kan identifiseer nie …
    Gister het ek byvoorbeeld in ‘n ietwat meer persoonlike Nuuswekker verwys na my eie studentejare. Wat ek nié genoem het nie, is dat ek vir my eie studies moes betaal. Dit het ek reggekry deur saans in die Provinsiale Biblioteek te werk en vakansietye te stook as spoorwegwerker op Kroonstad. En daar het ek Oom Pieta Janse Van Rensburg leer ken. Ek was sy gunsteling student. Elke vakansie wat ek aangemeld het, het ek verneem dat ek reeds “geboek” was vir Oom Pieta. En ai, het ons lekker gesels tydens dié lang “round trips” Bloemfontein toe en terug; skofte wat soms tot so lank as 23 uur geduur het …
    Nietemin, tydens my laaste skof as koolgooier moes ons diens doen op die “sleeper”; dis nou die lokomotief wat van rangeerwerf tot rangeerwerf moet kruie ten einde die goederetrokke te haak vir ‘n bepaalde trein waarheen ook al. En soms moes jy letterlik ure wag voor die sinjaal lig om jou toegang te gee tot ‘n bepaalde rangeerwerf. Die gebruik was dat die stoker moes wakker bly terwyl die drywer vinnig ‘n uiltjie knip aangesien hierdie deurnagwerk was …
    Hoe dit ook al sy. Drie weke na ek “uitgeklaar” het, het ek toevallig verneem dat daar ‘n ongeluk in Kroonstad se rangeerwerwe was. Oom Pieta, en ook die stoker, het glo aan die slaap geraak tydens hul “sleeper”-skof; die stoomketel het klep het vasgehaak, oorverhit, ontplof en hulle het dood verbrand.
    So is die lewe.
    Maar goddank, daar is ook onverwagse meevallers soos jy hierbo beskryf. Ons is bly saam met jou; wat dit ook al mag wees.
    Louis
    PS> Oom Pieta het nooit vir my geld gegee vir bier nie, maar hy het my wel die vreugde geleer van wors wat in die lokomotief se oond gebraai is op die graaf saam met “baked beans”. En vandag is dít nog steeds my gunstelinggereg. (Tot my geliefde se verleentheid, bygesê …)

  3. Lewies Botha :

    EK lig my glas op jou Niel! Jou blog en Louis se kommentaar hier bo … hoe sit die padda nou in my keel; “All right Danny, go make us proud now mate and never give up.”

  4. Jannie Malan :

    Nice een Niel. netjies.
    Party dae, deesdae is dit moeilik om te onthou waarom om aan te hou aanhou. Waardeer die reminder.

  5. Johann :

    Hierdie gedeelte uit Ernst van Heerden se “Ligtende trein” is ook goeie padkos:

    Al sou ek in ‘n “gewone” goeie fisieke toestand kon bly voortleef het, al sou ek my bene behou het, die lewe bepaal dat jy weerloser word met die toenemende jare. Jy word makliker fisiek én geestelik seergemaak, jou gelatenheidsdrumpel begin wankel, jou begrip van oorgang en betreklikheid word verskerp. Dít is die waarheid, ‘n waarheid wat hom elke dag by jou aanmeld.

    Nostalgie word ‘n soort lewenspatroon waaruit jy poog om steeds die positiewe te haal. Jy wil gereeld iets besonders onderneem, iets wat vir jou betekenis inhou en die enkele dag sy voorraad vreugde gee – soos om na ‘n simfonie van Mozart te luister, ‘n vergete boek van die rak te haal, na een van Maggie Laubser se oeslandskappe te kyk, ‘n dood-gewaande ou vriend op te bel.

    Wat bly oor? Die liefde: g’n wonder dit staan éérste in die Bybel nie. Die Amerikaanse digter Theodore Roethke skryf êrens: “Love is not love until love’s vulnerable” – ‘n insig wat ‘n ondeurgrondelike wysheid bevat. Ek sal effens meer prosaïes wees en net herhaal wat soos ‘n klein lewensrefrein in my geheue náklink: “Liefde is ons deernis vir mekaar”. Dis ook genoeg.”

  6. Desmond :

    Johann, soos ek al eenmaal op my eie blog geskryf het, ek is mal oor EvH se “Ligtende Trein”, en die aanhaling wat jy hier weergee is een van die redes waarom ek hom so hoog ag.

  7. Desmond :

    Hallo Johann, dankie, sal beslis. Die Ligtende Trein is vir my een van die regtig mooi outobiografiese tekste in Afrikaans; die hoofstuk oor sy ontmoetings met Amerikaanse digters (o.a. e.e. cummings) is bv. wonderlik insiggewend. En ek sal ook sy reistekste wil uitsonder, soos Etikette op my koffer. Dit is tragies dat daar van hierdie goed vergeet word.

  8. Kabous :

    Baie cool Niel, beautiful!

  •