Desmond Painter. Afrikaans, ras en nasionaliteit: Deel 2

Filologie

Filologie

So ‘n rukkie terug het ek met groot gewigtigdoenery aangekondig dat ek elke nou en dan hier notas sou plaas oor ‘n referaat wat ek moet skryf oor taal, ras en nasionaliteit in Suid-Afrika. Intussen het ek die stroomversnelling van eksamens, merkwerk en puntelyste getref, en ek kon my klein kajak skaars regop hou…

In plaas van akademiese notas het ek inmiddels toe dus maar ‘n paar versies geplaas, goed wat ek so tussen die werk deur opgemaak of gesteel het — meestal met stilswye begroet, natuurlik… Ugge-um! (As jy nou sleg voel oor jy nie voldoende op my digterlike keelskoonmake gereageer het nie, gaan lees gerus weer hier en hier en hier!)

Maar terug na my referaat. Een van die kwessies wat ek wil aanspreek is die verband tussen taal en ras, veral die ideologiese verstrengeling van Afrikaans met verskillende projekte (en projeksies) van “witheid”, “bruinheid” en “swartheid”.

Moet my nie verkeerd verstaan nie: ek wil nie probeer aanvoer Afrikaans is “eintlik wit” of “eintlik bruin” nie. Ek wil juis agterkom hoe dit moontlik geword het (en hoe dit moontlik bly/onmoontlik word) vir Afrikaans om betrek te word by prosesse en diskoerse van “rassisifikasie” — en met “rassifikasie” verwys ek spesifiek na die ideologiese konseptualisering van menslike verskille in terme van “ras”.

Wat dus duidelik moet wees, is dat ek ook nie veronderstel dat verskillende “rasse” bloot onproblematies as entiteite bestaan nie. In hierdie sin is ek “konstruksionisties”: ek beskou “ras” (die spesifieke verbeelding van menslike verskille in terme van “ras”) as ‘n sosiale konstruk, die produk (en dikwels korrelaat) van historiese prosesse. Anders gestel: ‘n mens sou ook anders kon dink oor menslike verskille, en in ander terme as die wat deur ras-diskoerse aan ons verskaf word…

Gevolglik stel ek ook belang in die spesifieke wyse waarop ‘n bepaalde samelewing sigself in terme van ras (en in rasse-terme) verbeel. Dit is tog duidelik dat, selfs al blyk dit asof diskoerse oor ras nou universeel is, nie alle samelewings op presies dieselfde manier in rasse-terme verbeel word nie. (Omdat ek dit glo, glo ek natuurlik ook dat dit, ten minste teoreties, moontlik is om ‘n samelewing nie-rassig te verbeel… En, moet ek byvoeg, ek sal dit aanhou glo selfs al is ek uiteindelik die laaste nie-rassige Suid-Afrikaner!)

As verskillende samelewings verskillend in terme van ras, en in verskillende rasse-terme, verbeel word, kan ‘n mens jouself afvra: wat is die rol wat taal (taal as ‘n merker van verskil of ook ‘n spesifieke taal soos Afrikaans) gespeel het of steeds speel in die spesifieke manier waarop hierdie samelewing of gemeenskap in terme van ras tot stand gekom het en funksioneer? 

“Ras” (as begrip) het natuurlik self ook deels ‘n talige geskiedenis. Daar word dikwels van “kulturele” rassismes gepraat asof dit ‘n “nuwe” rassisme is, een wat die retoriek van biologiese verskille vervang met verwysings na “kulturele” verskille. ‘n Geneologie van die rasbegrip maak dit egter duidelik dat dit, voordat dit nog biologies geartikuleer is, reeds in die filologie in terme van taalverskille en “taalfamilies” betekenis verkry het en ‘n fundamentele impak gehad het op hoe verskille tussen mense verbeel en bedink is. Die “nuwe” kulturele rassisme is dus in ‘n sekere sin eintlik die “ouer” vorm van rassisme; en die konseptualisering van taal as sodanig het van meet af aan ‘n rol gespeel in die ontwikkeling van rasse-denke…

Volgende keer meer.

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Desmond Painter. Afrikaans, ras en nasionaliteit: Deel 2”

  1. Pan Cogito :

    Desmond, ek vind wat jy hier doen, toetentaal fassinerend. Veral jou vrae rondom taal aangesien taal met “kode” te make het en kodes myns insiens aangeleerde gedrag is. Hoe sal ‘n blanke (of Chinese) kind wat byvoorbeeld in ‘n swart gemeenskap (sê maar die Kongo) grootword, sy of haar “rassifikasie” beïnvloed? (Daar behoort tog heelwat navorsing hieroor te bestaan?) Die punt wat ek probeer maak is dat “ras” in ‘n sekere opsig dan “aangeleerde gedrag” is. Tog is daar ook fisiese rasverskille wat geneties vasgelê is, nê … Die Keniane kan byvoorbeeld langafstandatletiek oorheers vanweë bepaalde fisiese vermoëns wat eie is aan hul “ras”, ensovoorts.
    Ek sien uit na die res van jou konstruk. 🙂

  2. Desmond :

    Pan Cogito, dankie. Dit is natuurlik so dat daar verskillende soort groeperinge van mense is met verskillende soort gewoontes, beliggaamde kapasiteite en so meer. Ek wil “ras” eintlik juis nie gebruik as beskrywende term vir daardie soort verskille nie; jy sou saamstem, daardie soort diversiteit oorskrei die aantal “ras”-kategoriee tot ons beskikking en verwys na verskille en kontinuiteite wat nie direk oorvleuel met bestaande diskoerse van “ras” nie. Ek is geinteresseerd, eerstens, in “ras” as ‘n amper administratiewe konstruk; in hoe ‘n bepaalde samelewing of staat ‘n populasie “kenbaar” en “bestuurbaar” maak in terme van die idee van “ras”, en in terme van ‘n spesifieke diskoers van ras. Tweedens, is ek geinteresseerd in hoe taal in daardie proses met ander konstrukte soos “kultuur”, “etnisiteit” en “nasionaloisteit” verstrengel word — nie eerstens op die vlak van die individu nie, maar op ‘n “transindividuele” vlak. Met ander woorde, hoe het Afrikaans histories deel geword van ‘n projek van “witheid”, en hoe word daardie “rassifikasie” van die populasie deur (of in teme van) Afrikaans vandag geherartikuleer. Derdens, en dit is dalk nader aan jou opmerking hier bo, is daar natuurlik ‘n meer individuele proses van “subjektivering”: die proses waarvolgens ek en jy ‘n bepaalde subjektiwiteit verkry, identifikasies maak, kodes en gedrag aanleer. Hier speel taal ook natuurlik ‘n rol, of eerder, ‘n klomp rolle. Nie net taal in die abstrakte sin van ‘n sisteem van betekenaars, soos die post-strukturaliste daarvan praat wanneer hulle oor “subjectivity” dink nie, maar spesifieke tale en die manier waarop ons affektief en amper liggaamlik met hulle verstrengel raak. Maar meer oor hierdie laaste punt op ‘n ander keer…

  3. As taalbegrippe deel van rasbegrippe uitmaak, kan taal dan ook, omgekeerd, help om rasbegrippe te relatifeer of ondermyn?

  4. Desmond Painter :

    Gerrit, ja, ek dink so. Ek sal wil terugkom na Rabie se stelling oor Afrikaans as ‘n “veelrassige prestasie”, en dan miskien goed wat Derrida in sy boekie “The Monolingualism of the Other” skryf, daarmee in verband bring. Op ‘n manier probeer Derrida argumenteer dat taal, enige taal, amper per definisie ‘n “veelrassige prestasie” is… Taal is deel gemaak van die mitologie van ras en van allerlei nasionalismes, maar die werklikheid van taal as ‘n ruimte van ontmoeting, uitruiling, hibriditeit, ondermyn daardie mitologiee van meet af aan. Dit is immers wat Rabie so mooi aantoon met betrekking tot Afrikaans: hoe Afrikaans ook al deel mag geword het van die politieke mitologie van witheid en Afrikaner nasionalisme, kon dit net gebeur nadat die veelrassigheid en hibriditeit van Afrikaans ideologies verdoesel is. Hy het dan ook aangevoel dat Afrikaans net sowel deel kon uitmaak van ‘n nie-rassige of post-rassige politieke mitologie.

  5. Desmond Painter :

    Met ander woord, Afrikaans kon “wit verbeel” gewees het, ‘n sekere witheid kon “Afrikaans verbeel” gewees het; maar Afrikaans (of enige taal) kan nie self “wit” of “bruin” of “swart” wees nie. As ‘n mens nie-rassigheid, hibriditeit en demokrasie dan in terme van IETS moet verbeel en operasionaliseer, kan ‘n mens dit myns insiens VERAL in terme van taal, en alles wat taal ontsluit, doen. Daar is natuurlik nie EEN TAAL van nie-rassigheid en demokrasie nie, ons moet daardie goed altyd verbeel en aktualiseer in terme van ons taligheid, wat in enige moderne samelewing maar ‘n veeltaligheid is. Wel Derrida sou argumenteer dat daar in elk geval nie ‘n ding is soos “eentaligheid” nie. En natuurlik: as ‘n soort eentaligheid of talige homogeniteit nog denkbaar was in die hoogbloei van die nasionale state, is dit in ‘n era van post-kolonialiteit, globalisering, massa-migrasie en so aan nie meer ‘n “compelling” idee nie, net vir hulle wat magsugtig en sentralisties dink. Die neo-imperialiste en hulle neo-nasionalistiese “proxies”… as jy verstaan wat ek bedoel!

  6. Ek verstaan!

  •