
Geen skrywer skryf met die oog om ‘n prys te wen nie. Maar, aangesien ‘n prys toegeken word om ‘n bepaalde prestasie te bekroon, dra die bestaan van literêre pryse baie daartoe by om nie net die status van ‘n bepaalde genrè te verhoog nie, maar ook dié van ‘n “bekroonde” skrywer of werk. As sulks dien pryse dan ook as ‘n belangrike aansporingsmeganisme; nie net vir die skrywer/digter nie, maar ook ten opsigte van die verkope van die bepaalde werk.
Daarom is die situasie myns insiens nog altyd ietwat skeefgetrek in ons lettere aangesien die enkele pryse wat eksklusief vir die digkuns beskikbaar is, die indruk wek dat dit nie genoegsaam presteer ten einde meer pryse te regverdig nie.
Ek herinner my dit was hier in middel-80s rond toe daar heelwat kommer bestaan het jeens die gebrek aan “kwaliteit” romans in Afrikaans. Heelwat pryse is in daardie tye ingestel ter ondersteuning van dié genrè-in-krisis; pryse wat spesifiek vir prosawerke geoormerk was. Hierdie nuutingestelde pryse het gekom en gegaan, maar steeds is dit prosawerke wat by verre die voorrang geniet ten opsigte van bekroning; nie dat ek hulle dit misgun nie, maar dit is tog sekerlik nie die énigste bekroningswaardige werk wat in ons letterkunde gelewer word nie?
Regverdig André Brink, Deon Meyer, Marlene van Niekerk en Etienne van Niekerk se internasionale statuur as “Afrikaanse skrywers” byvoorbeeld die magdom pryse wat hul skeppings te beurt mag val? Terwyl daar vir digters soos Breyten Beytenbach, Antjie Krog e.a. soos Charl-Pierre Naudé, Loftus Marais en Danie Marais (almal digters wat heel dikwels die Internasionale verhoog met ánder wêreldklasdigters deel) minder as ‘n handjievol pryse vir hul digkuns beskikbaar is: Die Ingrid Jonker-prys vir beste poësiedebuut en die Protea Boekhuis-poësieprys vir die beste digbundel van die voorafgaande jaar. Voeg daarby die Eugène Marais-prys vir ‘n vroeë publikasie (waarvoor ‘n digter dus ook kan kwalifiseer) en die Hertzog-prys wat al om die derde jaar aan die digkuns toegeken word en enkele pryse waar ‘n digbundel wél bekroon kan word, maar in kompetisie met ander genrès, en plaas dit dan teenoor die meer as 20 pryse wat vir prosaskywers beskikbaar is met ‘n totale prysgeld wat gemaklik die R350,000-kerf oorskrei …
Goed, toegegee, ten opsigte van produksie sowel as verkope is die digkuns nié met prosawerke te vergelyk nie; maar dit is immers prestasie wat bekroon word, is dit nie? Moet ons derhalwe aanvaar dat ons digkuns dan sonder prestasie is?
Nee wat, dié gedoente ruik na modder.
Daarom dat ons absoluut ekstaties is oor die ATKV se geïnspireerde besluit om van vanjaar af die digkuns by hul Woordveertjie-bekronings te betrek. Met hierdie aankondiging is die ekslusief-beskikbare prysgeld vir die digkuns eensklaps meer as verdubbel. ‘n Formidabele bundel soos Breyten Breytenbach se mees onlangse, wat wêreldwyd opslae maak en al verskeie kere internasionaal bekroon is, kan nou in sy eie oorspronklike letterkunde met die magtige som van R15,000 vereer word terwyl sy kollega wat in ‘n ander genrè skryf, teoreties gesproke meer as ‘n kwartmiljoen rand in sy bankrekening kan deponeer …
Daarom – laat ons hande klap vir die ATKV se toetrede om dié wanbalans te probeer herstel, en dankbaar wees. Dog, die pad na ‘n regverdige erkenning van ons digkuns en haar prestasie – en die gepaardgaande promosie daarvan – is nog lank en moeisaam.
Maar gee kans, met die werk wat die afgelope jare deur ons digters gelewer is en met ‘n voertuig soos hierdie webblad (indien ons só voorbarig mag wees …) sal ons soveel geraas maak dat die prestasie van ons digkuns nié langer verswyg kan word nie.
A luta continua.
Die stryd duur voort.
***
In aansluiting by bogenoemde fokus ek graag jou aandag op Poetry International se uitgawe wat die afgelope naweek geplaas is. Loftus Marais is die fokusdigter met vyf van sy gedigte, met vertalings in Engels, wat ook op die blad bygevoeg is.
Nuwe toevoegings tot ons eie webblad sedert Vrydag is Zandra Bezuidenhout se bydrae tot Digstringe, Luuk Gruwez se lieflike vers “Moeders” (met ‘n voorlesing daarvan op video), Andries Bezuidenhout wat vertel van die herfs in Johannesburg en Piketberg en Bibi Slippers wat inspirerend skryf oor brûe.
Sommer ‘n hele kruiwa vol nuwe inhoud om die week mee te begin.
Lekker lees en mag hierdie week gemaklik in al die groewe lê vir jou.
Mooi bly.
LE