
Die opmerking word dikwels gemaak dat poësie jou lewe kan red. Maar dat dit jou dood kan veroorsaak?! Tragies genoeg is dit presies wat met Zardasht Osman, ‘n 23-jarige Koerdiese joernalis en student aan die Universiteit te Erbil, gebeur het toe hy vermoor is nadat hy dit durf waag het om ‘n satiriese gedig oor Massoud Barzani, president van die Koerdiese semi-outonome streek in Noord-Irak, te publiseer.
Osman, wat glo ‘n geruime tyd al onder ‘n skuilnaam vir die klandestiene Kurdistanpost geskryf het, het sy gewraakte gedig in Desember verlede jaar in dié tydskrif gepubliseer. Daarna het hy etlike dreigoproepe ontvang. Einde laas is hy twee weke gelede uit sy koshuis ontvoer en vier dae later is sy liggaam langs die snelweg gevind; met vasgebinde hande en twee koeëlwonde aan sy kop.
Sy dood, wat allerweë voor die deur van Barzani se veiligheidspolisie gelê word, het wye protes uitgelok en verlede week was daar selfs ‘n opmars deur honderde studente na die parlementsgebou om ‘n brief van protes aan die owerhede te oorhandig waar hulle hul in ‘n barrikade van polisie vasgeloop het.
New York Times se verslaggewer het dit soos volg gestel: “The students scuffled with baton-wielding riot police officers. Some waved their shoes and threw water bottles and pieces of broken glass at soldiers and police officers. ‘Whose hands are stained with the blood of Zardasht?’ they asked […] The killing sent shock waves through the tightly controlled Kurdish region of northern Iraq, which has prided itself over the past few years on being, unlike the rest of the country, a secure haven for foreign investors, including dozens of oil and gas companies […] Traffic came to a standstill in parts of Erbil on Monday as students, most of them dressed in black, marched from the spot where Mr. Osman was abducted to the Parliament building. A group carried a mock coffin draped in black with the word azadi, meaning freedom in Kurdish, scrawled on it. Many waved portraits of Mr. Osman. ‘Democracy is a delusion here,’ said one protester, who spoke on the condition of anonymity for fear of retribution for his comments.”
Lees gerus die volledige berig op New York Times se webtuiste. Die gedig deur Zardasht Osman, in Engelse vertaling, kan op die National Review se webtuiste gelees word.
***
Vanoggend kan jy Bernard Odendaal se Digstring oor sy aangrypende vers “Die kind is steeds nie dood nie” lees. Verdermeer is daar besonderse blogs geplaas deur Andries Bezuidenhout, waarin hy ‘n argitektoniese waardering gee van die kerk by Op-die-Berg, Jo Prins wat smag na ‘n ekonomiese verandering en Ilse van Staden wat vertel van verlore gunstelingbundels – ‘n bydrae wat haar terselfdertyd kwalifiseer vir vandeesmaand se Blogfokus.
Onthou – die maand lê reeds aan die verkeerde kant van die bed; daarom, indien jy nog wil deelneem aan hierdie maand se blogfokus sal jy jou so stadigaan moet begin haas …
Ons sien uit na jou deelname.
Mooi bly.
LE