Desmond Painter. Taalstereotipering en liggaamlikheid

Kalkoen

In ‘n Cape Monitor van 1875 lees ek ‘n beskrywing van Afrikaans: “Afrikaans cramps your thoughts. It impedes your energies. It brings the blush to every modest woman’s cheeks, and makes the educated recoil with disgust too often. It corrupts the morals of your children, and befouls their innocent expressions…”

Hierdie is maar een, vroeë voorbeeld in ‘n baie lang tradisie van stereotipering en denigrasie van Afrikaans — ‘n praktyk, natuurlik, wat nie beperk was tot Engelssprekendes nie, maar waartoe baie Afrikaanssprekendes, wat die taal destyds as bloot ‘n gebrekkige dialek van Hooghollands beskou het, ryklik bygedra het.

Die dehumanisering van die Khoisan tale strek selfs verder terug in tyd. Oor een van die Khoikhoi tale (so lees ek in Noël Mostert se fenomenale boek Frontiers) laat ‘n Europese reisiger uit die sestiende eeu hom soos volg uit: “When they speak they fart with their tongues in their mouths.” John Davys, so vroeg as 1598, skryf dat “their words are for the most part inarticulate, and, in speaking, they clocke with the Tongue like a brood Hen, which clocking and the words are both pronounced together, verie strangely.” John Milward maak ‘n soortgelyke “observasie” in 1614: “These people are most miserable, destitute of religion in any kind, as farre as we can perceive, and of all civility; their speech is a chattering rather than language…” En in 1634 beskryf die reisiger Thomas Herbert die Khoikhoi tale as “rather apishly than articulately sounded.” 

Ek weet nie of iemand al ‘n sistematiese studie gemaak het van die aard en inhoud van stereotipiese en negatiewe taalvoorstellings in Suid-Afrika nie, maar dit sal fassinerende leesstof wees. Wat my veral sal interesseer in so ‘n studie, is ‘n analise van die rol van liggaamlikheid (of van liggaamlike metafore) in negatiewe taalvoorstellings…

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Desmond Painter. Taalstereotipering en liggaamlikheid”

  1. Louis :

    Desmond, ek het hierdie blog van jou met groot belangstelling gelees. Maar – jy moenie vergeet om by “Indekse” op die skakelkolom hier regs onder “Lyste” te kyk na die DBNL se indeks van Klassieke Afrikaanse navorsingstukke nie. Daar mag dalk ook toepaslike artikels vir jou wees.
    Mooi bly.
    Louis

  2. Bernard Odendaal :

    Desmond, jy moet dalk ook met Siegfried Huigen, neerlandikus by Afrikaans en Nederlands aan Maties, skakel oor jou onderwerp. Ek’s amper seker hy kan jou op die spoor sit van Nederlandstalige bronne in hierdie verband.

  3. Desmond :

    Hallo Bernard. Dankie, ja, ek het al aan Siegfried Huigen gedink in hierdie verband. Hierdie soort historiese materiaal is dalk nie direk relevant vir ek tans wil doen nie, maar dit is nogtans fassinerend! Groete, Desmond

  4. Desmond :

    Louis, dankie, ek het gaan kyk. Inderdaad ‘n wonderlike argief.

  5. Ek dink nie veel het verander nie. Mense druk hulle deesdae versigtiger, maar daarom dikwels ook oneerliker, uit. Dink aan mense wat argumenteer die Afrikatale is “nog nie genoegsaam ontwikkel” om as hoefunksietale gebruik te word nie (wat snert is).

    Baie opvallend vir my is hoe baie swart Suid-Afrikaners nie net die koloniale minagting vir swart mense se taal geinternaliseer het, sodat die goeie beheersing van Engels, naas die praktiese voordele wat dit inhou, ook ‘n aanduider van selfwaarde, van beskaafdheid en intelligensie word. Onder die swart elite vind ek dikwels ook dat die weersin in Afrikaans nie net met dinge soos die 1976-Sowetogebeure te doen het nie, maar met ‘n oorname van die Brits-koloniale diskoers oor Afrikaans.

    Liggaamlikheid is waarskynlik inderdaad ‘n goeie sleutel. Dit hang saam met die idee dat Engels neutraal is, bloot ‘n kommunikasiemedium, terwyl ander tale “etnies”, “kultureel” ens is. M.a.w. ander tale vat grond, is beliggaam, terwyl Engels ‘n suiwer abstrakte bestaan voer.

  6. Desmond :

    Gerrit, ek het al gehoor hoe ‘n swart persoon met goedkeuring s^e hy het met iemand op die telefoon gepraat, en die persoon se Engels was so goed, dit was aanvanklik nie moontlik om te weet hy of sy was swart nie… Die liggaamlikheid van taal word ook op die voorgrond geplaas en geproblematiseer wanneer swart mense daarvan beskuldig word oor hulle te hard praat. Wat probeer wit mense in elk geval wegsteek, dat hulle so suutjies wil praat?!

  •