Na aanleiding van Andries Bezuidenhout se blog en natuurlik die Rapport artikel; Ek het nogal gewonder hoe gaan ek die verhoog deel met die beroemde “Rock star” Hunter Kennedy, natuurlik was ek jaloers. Waarom wou hy nou die klein kolletjie Ka(l)klig van die papiervliegtuigie vou klub kom steel? F*k wie wil nie Rock beroemdheid hê nie. Elke vertoning met gillende groupies is ‘n adrenalien inspuiting wat jou ego tot voor barstens toe opjaag. Ek daag enige iemand uit om te erken heimlik wil ons almal RUK en ROL. Ek het myself getroos dat behalwe my Ma wat seker al die helfte van Nuwe Stemme 4 (NS4) se oplaag vir haar vriendinne en familie opgekoop het, sal die naam ;Hunter van Polisiekarre seker die boekverkope aanhelp. So dis maar oriaat.
In my gedig “Ons was daar” vir die Lizard kings van Pretoria (Opgeneem in NS4) verwys ek na die Rockers van so voor die voëlvry toer dinge, Piet Botha, James Phillips ens. Ek sê ook; ons is skrywers ons is rock stars …
Ek sien altyd voor my geestesoog; Jim Morrison van The Doors wat in ‘n ateljee sit en sy “An American Prayer” opneem, vet en plomp en woes bebaard, met daai stem wat hipnoties dreunsing/ lees, Ray Manzerek se keyboards wat die agtergrond vul. Ja, Jim wou bekend wees as Poet. Die Rocker as Poet.
Dan moet julle my sien xbox 360 met Guitar Hero ! Die Poet as Rocker.
Soos Andries sê die debat is eintlik maar tong in die kies. Die waarheid is ons is almal ‘n bietjie van alles. Kunstenaars is kreatief en skeppend en vind gewoonlik ‘n uitlaatklep hetsy skilder, sing, skryf, dig of toneelspeel. Dit is opmerklik hoeveel digters musikale agtergrond het. ( Louanne Stone, Pieter Hugo?, Maruis Swart het ek op “Noot vir Noot gesien, Niel van Deventer , Hunter K ,is die waarvan ek weet uit NS4) Ek teoretiseer nogal daaroor; Skaak wonderkinders is gewoonlik ook Musikaal en Wiskundig talentvol, ek wil beweer hulle sal ook digterlik talentvol wees. EK glo dit het te doen met talente in; ritme, metrum, herhaling, patroon herkening, vorm, struktuur, analitiese vermoë ens. wat neerslag vind in Skaak speel, Wiskundige probleem oplossing en uiteraard Musiek.
Om aan te sluit by Andries hier is my eie blues song (Annie Rok jagter neem kennis):
Vrystaat kruispaaie-‘n blues song
Van veraf lyk hy soos ‘n lang maer kraai
en soos vlerke klap sy jas in die wind
en sy stewels kap kloue knars in die gruis
akkedisse skarrel geskrikte krokkedille weg
wolk skadus draai soos vlieënde haaie.
Refrein
Die stilte waai agterna toe hy voor my staan
glimlag sy poeding Leonardo de Caprio gesig
daaronder grinnik ‘n pok gru Jack Nicholson
muskeljaatkatte en rooikatte dog dis al aand.
Refrein
Dit het stil geword op daai stofpad wat kruis
tussen Voorspoedfontein en Welgedaan
hy het ‘n sigaret aangebied, ek kon sien;
Siener, Profeet, Volksdigter, Hertzogprys.
Refrein:
Los maar die rympies rym ek wil ruk en rol
met ‘n kitaar riff soos Jimi Hendricks
en ‘n middelrif soos Jim Morrison
gee my ‘n stem soos ‘n Harley Davidson,
‘n pop soos Pamela Anderson
‘n liriek vir ‘n super hit.
So neurie ek toe, my eerste lied.
Lewies, die voordeel van ‘n lae profiel (en die underground) is dat daar nie fotograwe is as jou ledemate per ongeluk in ‘n vreemde persoon s’n verstrengel raak (of ander indiskresies) in ‘n oomblik van intoksikasie nie. Oor die genoemde James Phillips het Lloyd Ross mos ‘n doccie gemaak met die titel: “The man who was famous for not being famous.” En Drikus Barnard het as deel van Trike ‘n song geskryf met die lyn: “Hier’s net leë borde in die ondergrond…” ‘n Mens kan nie wen nie!
A