Blogfokus
2005 was ’n besonderse jaar vir my omgaan met die verskuns, besef ek agterna.
Van 7 Februarie tot 7 Mei daardie jaar het ek stoksielalleen in ’n groot, gerieflike woonstel in die Groot Begynhof in Leuven gewoon, een maal ’n week twee ure lank klas gegee – en die res van die tyd oorgehad om te lees en skryf.
Twee bedrywighede van laasgenoemde soort het baie gedoen om my selfvertroue te gee as digter. Die eerste was die afhandeling van dertien Brel-chansonvertalings in korrespondensie met my kollega in Frans aan die Vrystaatse Universiteit, Naòmi Morgan, waaroor ek al vertel het.
Die tweede was ’n totale meevaller. Net voor ek oorsee vertrek het, vertel Jaap (J.C.) Steyn my dat daar, ná ’n digterlike swye van meer as vyf-en-twintig jaar, weer ’n bundelmanuskrip van I.L. de Villiers gereed is. En dat I.L. by hom wat Jaap is kom aanklop het om “klankbord” te wees in die slypingsproses voor die bundel uitgewer toe gaan. Sou ek nie liewer wou help nie, vis Jaap.
Met meer nuuskierigheid as wysheid stem ek in.
Toe ek in Leuven aankom, deel die neerlandistiekkollegas daar my mee die klasse begin eers einde Februarie se kant. Ek sien aan hul mooi maniere hulle wil intussen nie juis gebodder wees met my nie.
Die lees aan Van Jerusalem tot Johannesburg (eers later sou die Van wegval) het egter ál die vreemdvoel laat verdamp. Ek weet nie of ek al ooit so intens met ’n digbundel geïdentifiseer het nie. Die sintuiglike en woordgevoeligheid wat daaruit gestraal het, was as ’t ware my eie – daar waar ek in ’n omgewing nuut vir my gesit het, omring van stad- en landskappe wat ek net vaagweg en tweedehands uit films, foto’s en skilderye geken het, omgewe van ’n taal wat half herkenbaar, half vreemd op my ontvanklike Afrikaanse ore geval het.
Die besinning in die bundel, ja, die wysheid wat daaruit gespreek het, het my verder aangetrek. Dit het ontspring aan ’n lewens- en wêreldbeskouing wat ek intiem geken het. Ek het gelees aan stilisties en verstegnies indrukwekkende gedigte, energiek en gespierd vanweë die uitmuntende hantering van paradokse en vanweë die oorheersing van vaste vorme met hul ingeboude noodwendighede.
Strate beter as De Villiers se vorige werk, het ek gevoel.
Kortom, ek was getref en dikwels ontroer deur wat ek gelees het. De Villiers was amper sewentig, en saam met Barend Toerien, Pirow Bekker, Lucas Malan, Hennie Aucamp en Petra Müller het hy gewys dat dit die senior mense is wat die kragtigste Afrikaanse digkuns van die eerste klompie jare van die derde millennium voortgebring het.
Alles aangaande die gedigte in die bundel was nie honkiedorie in my oë nie, nee. En omdat ek so betrókke geraak het, spring ek weg met vrae, kommentare, suggesties, herskrywings van gediggedeeltes … veertien bladsye lank. Ek las ’n ‘skadeloosstelling’ vooraf in:
Ek gaan soms iets onbetaamliks doen as kommentator, merendeels egter iets meer betaamliks. Ek gaan ‘n aantal gedigte van u in meer besonderhede bekritiseer, en dit waag om moontlike alternatiewe voor te stel waar wendings of formulerings my (in my subjektiwiteit!) hinder; ander kere gaan ek slegs aandui waar bepaalde dinge in heroorweging geneem kan word.
Volg dit alles op met ’n ‘bemoedigende’ slotwoord:
Ek het omtrent net die probleemdinge uitgewys, min kere aangedui wanneer verse my tref of ontroer. Dit doen ek om die verdere skawing van die gedigte te stimuleer. Laat ek weer sê: dié bundel, sou hy afgerond word, gaan na mening I.L. de Villiers se beeld as digter heelwat sterker maak.
En gaan beveel toe ten slotte aan dat die bundel ná slyping “nog ’n paar maande laat lê” moet word voor dit na die uitgewers gaan!
Natuurlik het ek nie op daardie stadium vir Izak de Villiers persoonlik geken nie. Ek kry ’n beleefde e-posbriefie terug: Dankie vir die aandag en alles; dit en dat lyk na verbeterings, maar doerie en darie gaan nie werk nie, en soms lyk dit ek verstaan nie wat hy sê nie. En moenie vir ’n man kort voor sewentig aanbeveel hy moet sy bundel “laat lê” nie, want een van die dae word hy self “laat lê”.
Ek kruip terug in my dop, daar in my groot, leë begynhofwoonstel…
Maar later dieselfde dag duik daar weer iets in die e-posbus op. Hoe klink “Goue poort, Jerusalem” (openingsgedig van die bundel) nou?
Die Goue, die Genadepoort, bly dig gesluit,
(net langs die Vullishek), met ruwe klip gestut
– die boog sou val. God is lankal self daaruit
in ballingskap tot Gabriël aan die mure ruk.
Elia sal die sjofar drie maal blaas en roep,
en glansend sal die Seun van Dawid nader gaan.
Stutte krummel waar die goudboog Hom begroet.
Dié dag sal engelwagte in krom stegies staan,
glo vrome Jode. O, Jerusalem, ek hoop,
ek snik psalms vir jou: Maak, Heer, iets hiervan waar;
beveel u Seun, ontsmet die vuil ou stad, maak oop
die boë, was die bloed, hoor bid die tollenaar!
Die roep van imams raas ’n swerm spreeus op.
Vier vaalgroen tenks rusper verby die poort, en stop.
Heelwat het tóg verander, sien ek, waarvan heelparty verbeterings darem mý voorstelle was. Ek skryf terug die gedig is gewis nóg beter as voorheen; dis lieflik, om die waarheid te sê; ek sien die vingermerke van die berymer van meer as ’n honderd gesange daarin.
’n Paar uur later wys die rekenaar daar’s wéér pos. Wat van “My straat” soos hy nóú lyk?
Die bome van my straat maak katedraal
waar die punte van die takke hoog bo raak,
soos Orfeus en sy lied in die verhaal
die bome, berge kon laat buigings maak.
My straat is lewe, vullis; iewers loei
sirenes, word gelag; en honde blaf
terwyl hadidas in blomperskes broei,
hul nes digby die huisie van die wag.
Miskien is daar nog strate voorkant toe.
Ek wik en weeg en dink soms om te trek,
maar kom weer hierheen terug, want hoe
val lig deur blare op ’n ander plek?
My straat, jy’s aards en heilig, maak my bang.
Ek is van ruimtes, iewers, en verlang.
In my noppies, merk ek hy het my aanpassing van strofe een nét so aanvaar. Maar my voorstel dat die slotreël iets lees soos “selfs al bly ek hier, kry ek die verlang / bly ek maar verlang / ly ek aan die verlang” het hy gelukkig in die wind geslaan, en self vorendag gekom met die wonderlik suggestiewe een hierbo.
So het die korrespondensie weke lank aangehou. En kon ek eintlik net bewonderend, met al minder saakmakende insette van mý kant, toekyk hoe die bundel se ware gedaante – wat hy as ’t ware van die begin af bedoel was om te wees – uit die e-posbriewe van Izak te voorskyn tree. (Hy’t gou op die voornaamterme aangedring.) Party gedigte is min of meer herskryf, ander het van posisie in die bundelopset verskuif, een of twee het mettertyd weggeval, ’n sestal is bygeskryf. Die gedigte het groepe begin vorm en in bundelafdelings te staan gekom.
Toe dit later daardie jaar verskyn, het Jerusalem tot Johannesburg baie lowende resensies ontvang; die jaar daarna het Izak die M-Netprys vir Afrikaanse poësie daarvoor ontvang. Ook by die lesers was die bundel gewild. By twee kunstefeeste moes ek openbare gesprekke met hom daaroor voer, en ’n hele paar leeskringe het my gevra om die bundel met hulle te kom bespreek.
Vervreemdeling, sy bundel wat in 2008 verskyn het, het ek onder oë gekry toe dit al by die uitgewers was. I.L. de Villiers het nie meer klankborde nodig gehad vir wat hy dringend moes voltooi nie.
In die “Digstring”-portaal op hierdie einste webwerf het ek onlangs vertel hoe ek in Leuven in alle erns begin werk het om die manuskrip van my eie bundel, Onbedoelde land (2007), afgerond te kry. Die Brel-vertalings en die ‘saamwerk’ aan Izak se Jerusalem tot Johannesburg het my die vertroue en ’n ‘afgekoelde’, kritiese oog gegee om dit te kon doen.
En die e-posverkeer het omgekeer. Kort-kort was dit nou ék wat verse aan Izak gestuur het vir kritiese bekyking. En wat wenke aanvaar het, maar ook baie keer my eie kop gevolg het na aanleiding van sy suggesties.
Op ’n keer laat weet hy: Herder, soms voel dit my dis ek self wat jóú gedigte geskryf het, so naby kom die gevoelighede en sieninge daarin aan my eie lyf!
Einste hier, Izak, einste – as die identifikasie van diékant af nie alte voorbarig is nie.