Marius Swart. Die ding van ’n beeld

Iemand sê nou die dag vir my “Ja, man, julle digters is mos heel beeld-befok”. Ek weet nie of dit waar is nie. Iemand anders sê vir my dat digters ander dinge raaksien as wat “gewone” mense raaksien. Ek weet nie. Miskien kyk digters op ’n ander manier na die wêreld? Nog iemand sê my ’n week of wat gelede dat digters met konkrete dinge moet werk, by uitstek. Dié soort goed laat ’n mens dink oor waar jy die goed kry waaroor jy skryf.

Ek lees onlangs Antony Altbeker se monumentale Fruit of a poisoned tree: A true story of murder and the miscarriage of justice. Dié boek is ’n uitgebreide en volledige ontleding van die Inge Lotz-moordverhoor. Ek gaan nie die skrywer se argumente hier opsom nie; ek kan wel aanbeveel dat elkeen die indrukwekkende boek lees. Die titel slaan op die beginsel dat bewysstukke of getuienis wat op onwettige wyse verkry is, nie in ’n hofsaak geldig is nie. Hierdie soort bewysstukke staan klaarblyklik in die bedryf bekend as “fruit of a poisoned tree”. Die boek is dan ook ’n omvattende beskrywing van, onder andere, grootskaalse polisie-onbevoegdheid in hierdie verband.

Op die boek se omslag staan, onder andere, die afdruk van ’n skoensool. Dit blyk later ’n Hi-Tec muurbaltekkie te wees wat ’n belangrike rol in die verloop van die sage speel. Die grafika sluit verder in ’n paar vingerafdrukke, enkele bloedspatsels en twee hamers: die een is die tipe waarrondom ’n deel van die moordsaak gewentel het; die ander is die tipe wat ’n regter in so ’n saak gebruik. Die teks op die voorblad is in blink reliëf gedruk. Die omslag is ’n ensemble in rooi, grys, swart en wit. Hier is heelwat vir ’n digter om te sien, te internaliseer en oor te dig.

Binne-in die boek is ewe veel beeldrykheid. Video-opnames, foto’s en konkrete ruimtes word in fyn besonderhede beskryf, bespreek, ontleed, geweeg en telkens tot motivering vir ’n gegewe bevinding verhef. Weereens, heelwat vir die digter om mee te werk.

Ek dink toe: kom ek skryf iets in reaksie op my lees van die boek. Hoe moeilik kan dit tog wees? Miskien ’n lekker sosiaal-betrokke vers met ’n moedswillige inslag. Elkeen het tog hieroor ’n mening, wat wissel van die analitiese “Dit kon tog nie hy gewees het nie, want hy kan nie op twee plekke gelyk wees nie” tot die ewe-oortuigde “Man, hy’t met moord weggekom, ek sien dit in sy ! En hy’s in daai kerk!” In die gedig kan ’n mens tog lekker duiwelsadvokaat speel met al hierdie gegewens.

Maar sover kon ek nie.

Op bladsy 342 staan: “[Fred] awoke early the next morning, went into Inge’s room and got into bed with her. [They] slept for another hour or so, until the alarm went off.” In my geestesoog sien ek ’n helder beeld. Twee jongmense met hulle hele lewe wat voorlê, mense wat ’n besluit geneem het om ’n verhouding te hê wat volgens die boek nie ruimte had vir voorhuwelikse seks nie, maar nie fisiese nabyheid uitgesluit het nie. Twee regte mense van wie die een op daardie punt minder as ’n dag se lewe oorgehad het as gevolg van ’n weersinwekkende gebeurtenis wat waarskynlik vir altyd die ander een se lewe sal definieer.

Of dit akkuraat is, of dit waar is en of dit oortuigende getuienis is, maak nie regtig vir my doeleindes hiermee saak nie. Maar tussen al die grafiese (en soms grusame) beskrywings van die liggaamsvloeistof rondom die lyk, die vingerafdrukke, die bloedspoor in die badkamer, die moordwapen, DNS en so meer, sien ek die hele tyd net daardie een beeld:

Twee jong mense, styf teen mekaar, vroeg in die oggend, teen die koue daar buite.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •