Dit is nie die beste of die mooiste bundel in Afrikaans nie; dit is ook nie eers my gunsteling in die taal nie. Dit is egter een van daardie boeke wat my esteties verlei het, wat my nuuskierigheid geprikkel het, wat my gevoeligheid vir die plofbaarheid van taal en woorde opgeskerp het, en wat begeertes vir ander klanke, ander landskappe en ander ervarings in my aangevuur het.
Om Uys Krige se vertalings te ontdek, was om ‘n parallelle wêreld te ontdek; een wat boonop reusagtig groot en dinamies kreatief is. Deur middel van Afrikaans het Krige ook ‘n venster oopgemaak, maar nie op die alewige Europa nie. Hierdie venster het ‘n duiselingwekkende uitsig gebied op die uitgesponne, komplekse Suid-Amerikaanse vasteland, en op die ongelooflike kreatiwiteit van die Latyns-Amerikaanse letterkunde. Wat meer is, deur hierdie venster kon daar ook lig ínskyn op die Afrikaanse letterkunde; dit verhelder met ‘n breër kosmopolitaanse ingesteldheid en ‘n soort kritiese humanisme.
Maar bo en behalwe dit alles het Krige se bundel my gewoon blootgestel aan ‘n paar uitstekende digters, en my ‘n lewenslange lus gegee vir die Suid-Amerikaanse letterkundes. Spaans-Amerikaanse Keuse bestaan, soos die titel suggereer, uit Krige se vertalings van ‘n aantal Suid-Amerikaanse digters. Ons praat dus nie van een letterkunde nie, maar van ‘n transnasionale taaldomein wat deur die loop van die twintigste eeu ‘n uiteenlopende aantal tradisies en digters opgelewer het.
Krige het die werk van digters uit Argentinië, Chili, Colombia, Equador, Honduras, Kuba, Peru, Porto Rico en (veral) Venezuela vertaal vir hierdie bundel. Die meeste van hierdie lande word deur so een of twee digters verteenwoordig; deur sewe in die geval van Venezuela. Die boek sluit dan ook af met ‘n essay deur Krige, “Verse van Venezuela”, wat naas die inleiding (“Die moderne Spaans-Amerikaanse Poësie”) en die Biografiese Aantekeninge steeds die moeite werd is om te lees.
Vir my is een van die hoogtepunt in Spaans-Amerikaanse Keuse egter Krige se vertalings van ‘n briljante Equadoriaanse digter: Jorge Carrera Andrade. Dit is na Andrade se gedigte waarna ek telkens terugkeer wanneer ek hierdie bundel van die rak haal; en sy land is een van dié wat nog ‘n hunkering in my is.
Krige het agt van Andrade se gedigte by hierdie bundel ingesluit, meer as enige van die ander digters wat ook opgeneem is. Dit sluit Andrade se klassieke werk in, “Biografie vir die gebruik van voëls”. So begin dit: “Ek is gebore in die eeu van die afsterwe van die roos / toe die motor reeds al die engele op die loop gejaag het.” Dit herinner ‘n mens nogal sterk aan Lorca. Die tweede strofe begin met hierdie enersyds onvergeetlike reëls:
My moeder, geklee in die sonsondergang,
het haar jeug bewaar in ‘n diep kitaar
en slegs party aande het sy dit aan haar kinders gewys
gehul in musiek, in lig en haar sagte woorde.
En dan eindig hierdie aangrypende gedig só:
Alles is reeds verby, in golf op golf,
soos die nuttelose syfers van die skuim.
Sonder haas gaan die jare, al sy mosse verstringelende,
en die herinnering is ‘n waterlelie
wat tussen twee rimpelinge
skaars haar bleek gelaat wys van ‘n drenkeling.
Die kitaar is maar net ‘n doodkis vir liedere.
En, gewond in sy kop, treur die haan.
Al die aardse engele het uitgewyk,
selfs die donker engel van die klapperboom.
Slegs twee van Krige se uitstekende Pablo Neruda-vertalings is in hierdie boek opgeneem, maar dit is twee van die bestes: “Alberto Rojas Jiménez kom vlieënde” en “Walking around”. Veral eersgenoemde klink of dit oorspronklik in Afrikaans geskryf kon wees, en dit sing soos min ander gedigte in hierdie taal. En dit is maar enkele van die skatte wat in hierdie boek opgesluit lê; ‘n boek wat aan ‘n mens ‘n wêreld beloof, en dit dan lewer ook.
Marlise en Bernard, bly ek kon julle bietjie herinner! Jammer vir die rofweg prosa hierbo; met meer as 700 tweedejaars wat eksamen skryf kry mens nie nog kans om jou prosa te “polish” nie!
En steeds word dit duideliker watter belangrike werk Krige as digter-vertaler gedoen het. Ook: Watter waarde vreemdetaalkennis, en vertaalwerk op grond van daardie kennis/vaardighede, vir ‘n letterkunde (kan) inhou. Ook ek gaan Krige se werk weer lees – hierdie naweek nog.
Desmond, jou skrywe hier het my nuuskierig gemaak om weer hierdie bundel waarna jy verwys uit my rak te vis. En vanaand nog langs my bed te sit.Die omslag is nog behoue. Ek het so lank gelede daarin gelees. Ek sien die datum langs my handtekening: 17/6/1969. Dit was een van die boeke wat ek voos gelees het, waarvan die verse my aan die jeugdige hart kon gryp, waaraan ek nader gevoel het as enige ander Afrikaanse digter se werk op daardie tydstip. Daar was nog ‘n bundel vertalings oor die Franse Surrealisme wat ‘n groot invloed op my was, nl. Eluard en die Surrealisme [ook Uys Krige]. Sy datum: 5/9/68. Van die mooiste liefdesverse sal jy hierin kry.
En nou voel ek ietwat droef. Hunker ek weer na die jare sestig.