Charmaine C is dood. Mense sê sy was nooit met oom X getroud nie en daarom praat die plaaslike koerante van Charmaine M. Charmaine is dood. Sy is soos ’n dier keelaf gesny, op Woensdag 12 Mei 2010 of Donderdag 13 Mei 2010. Pas nadat nuwe slotte aan haar huis gesit is. Net voordat sy uiteindelik sou trek. ’n Week voor die nasionale misdaadprotesdag op 19 Mei.
Charmaine was nooit nuuswaardig nie. Selfs haar dood het nie die nasionale nuusblaaie gehaal nie. Sy het 27 jaar gelede hierheen gekom nadat sy ’n advertensie in Landbouweekblad vir ’n kwekery-assistent gesien het. Oom X het ’n kwekery in die Kloof gehad. Hy was toe nog getroud, maar sy vrou is later weg. Dis algemene kennis dat oom X rondgeflenter het, om dit beleefd te stel, ook oor die rassegrens.
Hy – groot, log, vet – het in sy bakkie gesit en haar soos ’n slaaf in die kwekery laat werk, haar gevloek en verskree. Hy het ’n koeldrankbottel gebruik om in te urineer. Ek glo nie Charmaine was ’n stilswyende martelaar nie. Mense in die dorp het haar en die oom op mekaar hoor vloek en skel. Baie het haar daar en dan afgeskryf, die vet vroutjie met die poniestert, wat stip voor haar kyk wanneer sy en oom X in die bakkie ry.
Charmaine se sosiale vaardighede was nie goed nie. Afgesny van mense het sy in die Kloof gewoon. Sy kon nie motor bestuur nie en het niemand geken nie, behalwe oom X, wat haar beken het, waarskynlik nie baie Bybels nie. ’n Dogter is gebore.
Later gaan oom X dood. Charmaine is in groter ellende as ooit tevore gedompel, want sy testament is só opgestel dat sy omtrent niks het om van te lewe nie. Mense het die mag om jou selfs ná hul dood te straf. Maar sy mag in die huis in die Kloof bly woon. Tot haar dood. Sy mag dit nie verkoop nie, want dis nie hare nie. Sy groot, nuwe bakkie staan voor die waenhuis (’n garage was dit nie), maar sy kon nie bestuur nie. En buitendien was dit nie hare nie.
Sy het in die dorp gaan soek vir werk, enige werk, huisskoonmaak, stryk, tuinwerk, enigiets. Maar witmense is sku vir ’n wit bediende. Uiteindelik het goeie harte hulle oor haar ontferm en haar werk gegee. Charmaine word ’n bekende gesig waar sy langs die pad na die Kloof en terug stap. Baie mense gee haar ’n geleentheid en probeer in die ry ’n geselsie aanknoop. Maar Charmaine het nie maklik vertrou nie. Sku-aggressief was sy, soos iemand wat vroeg al verskop is. Vrae het sy afgeweer met ’n uitdagende houding.
Jy kan nie alleen hier bly nie, sê die mense. Trek dorp toe, dan is jy mos binne stapafstand van alles. Jy kan mos by jou dogter gaan woon. Maar wat van my diere? vra Charmaine. Sy het skilpaaie gehad en klompe katte en honde wat om die hawerklap vergiftig is deur dié wat wou plunder. Maar eintlik, weet ons, het Charmaine gesê: Ek kan nie tussen julle normale mense inpas nie. Ek is bang. Julle verstoot my.
“Tannie, die mense van die dorp háát my,” het jy vir die vrou met die goeie hart gesê. Ek glo nie dit was so nie, Charmaine. Moontlik het ’n paar mense jou gehaat, maar omtrent almal van ons het mense wat ons haat. Jy het liefde en aanvaarding gekry van moontlik meer mense as wat jou haat. (Maar ek weet dit was wattetjies in ’n groot, groot wond.) By hulle kon jy jou sagte, liefdevolle kant wys. Jy het die “tannie” by wie jy gewerk het, altyd verskriklik gedruk en gesoen en gesê: “Ek sal énigiets vir Tannie doen.”
Jy kon nie die patroon van jou lewe breek nie, die ketting. Toe jy ontslae is van jou hartelose heerser, slaan die aasdiere toe, dié wat die swakkes en weerloses uitsnuffel. Jy weet mos hoe vinnig loop die nuus op ’n klein dorp. So hoor ek ook die storie dat by jou ingebreek is en dat jy verkrag is. Jy het dit ontken, op jou verdediging, maar laat glip dat jou een hondjie doodgeskop is.
Jy het ’n rukkie terug vir jou dogter op T gaan kuier. “Tannie” J en haar seun het jou by die taxi-staanplek afgelaai met jou driepoothondjie en die kat in ’n boks, jou klompies sakke om jou. Terwyl jy weg was, is by jou huis ingebreek en die plek verrinneweer; ons dink dit was jou moordenaar. Hy is aangekeer, maar vrygelaat voor die saak voorgekom het.
Ons dink dit was die laaste strooi wat jou laat besluit het om te trek. Jy sou by jou dogter op T gaan bly. Daar was baie reëlings om ’n Wendyhuis te koop; jou dogter het vir jou die geld gestuur. Jy wou nog die Donderdag – jou sterfdag? – na ’n Wendyhuis gaan kyk het.
“Oom” F was die laaste wat jou gesien het, laat die Woensdagmiddag. Hy het jou slotte kom vervang ná die inbraak. Mense het jou Donderdag en Vrydag op die landlyn gebel, maar jy het nie geantwoord nie. Daar was nie selfoonontvangs in die Kloof nie. Saterdag het jou dogter jou op jou selfoon gebel, want sy het geweet jy sou in die dorp wees. ’n Onbekende man het geantwoord. Sy het dadelik die polisie gebel. Hulle het gaan kyk en moes jou deur oopbreek. Jy was goed beskerm ná jou dood.
Jou moordenaar is gou aangekeer, met jou selfoon. Hulle sê jou moordenaar het alles vertel. Hoe hy pype kom steel het. Hoe jy hom gekonfronteer het. Hoe hy jou verskeie kere met die mes gesteek het. Hoe jy gekeer het, vir jou lewe gepleit het. Hoe hy in die kombuis op jou gekniel het, op jou bo-arms, jou kop aan jou hare agtertoe getrek het en jou keel afgesny het.
Miskien het jy, waar jy nou is, toegang tot hoër wysheid, Charmaine. As jy wil, as jy tyd het en ’n manier het om my te laat weet, wil jy nie vra en my laat weet waarom mense ander mense keelaf sny nie? Dit is so verskriklik grusaam.
Ons oë kyk naby en ons ore hoor digby, en daarom sê ons jy het verskriklik gegaan. Het iets verskriklikers gewag? Is jy iets ergers gespaar? Jy in die Wendyhuis in die agterplaas op T? T is ’n ááklige plek, ek was al daar, een Sondagmiddag op die motorfiets saam met ’n vriend. Vervalle, afgetakel, vuil, soos so baie dorpe in ons reënboogland geword het. Selfmoordville, het ek nog gesê. Die Kloof is mooi; daar is bome en voëls en kranse en plek vir baie diere. Stilte hier is nie morbied nie.
Al wat ek van jou agtergrond weet, is dat jy van Bloemfontein kom, uit ’n Engelse huis, dat jou ma liefdeloos was, ’n kinderhuis-geval, dat jy een van ses kinders was, dat julle arm was. Wat het alles nog gebeur?
Ek was nie van groot betekenis in jou lewe nie. Ons gedeelde geskiedenis is ’n paar sakke kruideniersware wat ek vir jou gebring het, ’n paar geleenthede heen en weer, ’n paar geselsies. Jy het my die eer aangedoen om my in jou huis toe te laat, waar weinig ingenooi is. My fyngevoelige neus het beswaar gemaak teen die reuk, my higiëniese oog het krities na jou kombuis gekyk. Ek het deur my mond asemgehaal en na die portrette van jou dogter gekyk en uitgevra. Ons het in die sitkamer gesit en gesels. Nogal soos normale mense, ek en jy. Ek het gevoel jy vertrou my ’n bietjie.
Ek wil ook net sê dat jy vir my mooi was. Niemand kon glo dat jy 52 was nie, soos die plaaslike koerante gesê het. Jy het soos ’n meisiekind gelyk wanneer jy langs die pad stap, jou skraal figuurtjie met die poniestert. Ná oom X se dood het jy baie maer geword – dit het kopkrap gekos om jou as die vloekende ronde vroutjie te onthou. Party mense sê jy het honger gely, want jy het eerder vir die katte en honde kos gekoop as vir jouself. Jy het so ’n sagte mooi wit vel gehad, plooiloos, en blou-blou oë.
Eintlik wou ek vir jou ’n vers geskryf het, ek het probeer, maar dit klink vir my te veel soos “10 September 2007”, die gedig wat ek vir my oorlede sussie geskryf het. En ek is so bang vir ’n sielige slot. Dus sê ek maar in ’n gewone sin: Ek onthou jou, Charmaine, ek dink aan jou. Ek weet die lewendes (julle) en die dooies (ons) moenie te veel kontak hê nie, maar as jy jou weg oopsien, laat tog vir my weet hoe dit gaan. My ma het mos in ’n droom aan my verskyn, ná haar dood. Sy het jonk en mooi gelyk, haar hare weer bruin in ’n hemelse golwing. Sy het net kom sê dit gaan goed met haar.
Jy is op T begrawe. Niemand van hier was op jou begrafnis nie. Daar was mense wat sou gaan, maar jou dogter het skielik die begrafnis vervroeg. Wie was almal op jou begrafnis? Ek lees die mediums sê die meeste mense wat oorgegaan het, woon hul eie begrafnisse by.
Ek kan nie vir jou ’n gedig skryf nie, Charmaine, maar ek wonder of my mededigters nie ’n gedig of twee vir jou wil skryf nie. ’n Klein monument, ’n gedenksteen, vir Charmaine, een van die kleintjies van die lewe, wat nie geoor was nie en wat nie gemond was nie.
CATS DO CRY
Times were good lying in the sun
Wondering where you had gone
Had you deserted us to fend on our own
No, there you were, heavy bag in hand
Our food you brought from miles away
Cats do smile
That terrible night of human shame
We thought at once we were to blame
A human we had often seen around
Yes Madam , No Madam was all he said
Now he has left you on the floor- dead
Cats do wonder why
When they came to take you away
We wondered if we would be allowed to stay
Without your caring , loving touch
The ones we really loved so much
Goodbye our friend and mistress good bye
Cats do cry
wie slaan ag op
die weduwee en die wese,
’n verguisde se hulpkreet in
skone kogmanskloof;
slaan jou oë op na die berge
na aasvoëlkop en
keurkloof en
kalkoennes met sy katedraalkranse
en bloupunt waar sneeu soms val
maar wie slaan ag
op ’n hulpkreet,
die laaste asemtog
’n doodsgebed?
kyk tog hoe treur die bome
die winter dwaal in die klowe
bloekoms rou in die skemeruur
skouers krom teen die wind
alleenheid
is feller vanjaar
Dit is absoluut pragtig.
Jy is soveel keer gebreek, Charmaine.
Binne en buite was jy vrou-
vullis vir hom en vir hulle.
Wat is die sin? In wat mens
lewe noem? (Kan jy al sê?)
Jy het die pad geloop
tot die laaste doring
bloed. Jou keel het jy
nie sag aangebied nie.
Die lot moes jou aan die hare
nader trek. Steek. Sleep.
Jy is geslag.
Ons sal jou naam onthou, Charmaine.
Jy was nooit slagoffer nie.
waarom?
vrou van smart
waarom het jy die lydensweg geloop
is jy misbruik en uitgespu
moes jy jou kruis oor duwwels dra
is jy gekies om aan wreedheid
agter slot en grendel ‘n gesig te gee
vrou van smart
waarom?
Jel,
Your ability to put into words the harsh reality of life in all spheres
is truly admirable . “A picture paints a thousands words” seems lost when you put pen/keyboard to use.
‘n Portret wat in sy eenvoud diep tref. Dankie, Jelleke, dis mooimooimooi.
Jammer dat ons daagliks met mense in aanraking kom vir wie ons sulke woorde sou wou sê, maar dit eers na hul dood kan sê.
[So gepraat van woorde en nie sê wat jy wil sê nie, moet ek ongelukkig ook kwytraak dat ek stom geslaan is om te hoor dat “rassegrens” nog skynbaar ‘n geldige begrip is en as dit boonop seksueel ‘oorskry’ word dit in dieselfde mandjie van ‘skandelikheid’ gegooi word as iemand wat seksueel onlojaal is teenoor sy/haar metgesel. Of lees ek verkeerd? Ek hoop so. Ek’s ook verstom oor ‘n e-mail waarin aandag op dié stuk geplaas word en waarin verwys word na hulle wat “in die sewentigs en tagtigs skuimbekkend geraak het oor die ‘verdrukkende regime'”. Ook verstom oor die aanhalingstekens van die ‘verdrukkende regime’. Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die geweld wat vandag in SA plaasvind IS allerverskriklik. En ons MOET ons monde daaroor oopmaak. Net soos ons vroeër ons monde MOES oopmaak oor die verskriklike geweld wat honderde duisende mense in die naam van apartheid aangerig is. Maar kom ons probeer wegbly van neerhalende terme soos “skuimbekkend” en kom ons neem die aanhalingstekens weg as ons praat van “verdrukkende regime” (sic!). Ons deel immers ook dié ruimte van Versindaba met diegene wat óf self óf in hulle familie- en vriendekring slagoffers daarvan was. En kom ons hou op om te maak of dit ‘n skande is as mense van verskillende rasse seksueel verkeer. Ek weet dié gedagtegoed is so deel van ons siek verlede dat ons nou nog sukkel om daarvan los te kom, maar ons as woordmense behoort versigtiger met ons woorde om te gaan.]
Charmaine ek hoop jy sal weet hoe mooi het Jelleke oor jou geskryf. En dat sy gedink het jy is mooi. Elke mens, en veral elke vrou, het iets moois in haar – ‘n mens moet net soek daarvoor wanneer dit om verskeie redes dalk nie so ooglopend is nie. Jelleke het dit wat jou mooi gemaak het raakgesien, en ook ‘n jeugdigheid waarop ander vroue van jou ouderdom jaloers sal wees. En Jelleke sou weet, want sy is ‘n digter en digters kyk met spesiale oë na mense en situasies.
Hardloop vry oor die velde van verlossing, sommer uitbundig sodat jou poniestert swaaiend agter jou aan kan galop.
Dankie Jelleke dat jy vir ons van haar vertel het.
Aangrypend.
Joan
Jou sierraadlag
jou pragblou oë
jou diep voorkopplooie
wat vertel van pyn en lyding
wat jy skugter met my gedeel het
jou diepe dankbaarheid vir ‘n kleine guns
jou ongekompliseerde openheid
jou ooglopende kwesbaarheid
dit is soos ek jou wil onthou.
Charmaine, we did not know you, we only knew of you, your violent passing was senseless and one of the many desplicable invasions of organised life which beset our sad society. Rest in Peace – but if you have time, please
direct some positive energy onto this troubled land.