
Vanoggend dan die persoonlike Nuuswekker soos beloof aan Pieter Hugo. Dit is nou in reaksie op sy (geïmpliseerde) innuendo dat digters amper per definisie sportvreemd is … Persoonlik vind ek dat daar júís baie poësie in sport te vinde is; vandaar vandeesmaand se Blogfokus en ook my eie passie vir ‘n verskeidenheid (uiteenlopende) sportsoorte. Derhalwe het ek teenoor Pieter onderneem om ten minste één Nuuswekker per week hierdie maand aan – wat ek sal noem – die metafisika van ‘n bepaalde sportsoort af te staan.
Ten eerste dan, die metafisika van Koning Rugby.
Die lewe bestaan uit keuses. Van elementêre, basiese keuses soos watter hemp om by watter broek te dra tot by omvattende, lewensbepalende keuses soos op watter meisie om jou aandag te fokus: die stil, rustige een wat vir jou soos ‘n veilige hawe is teen stormwind, of die intellektueel-stimulerende een wat jou konstant uitdaag, dog ook ontstig. En die skreiende ding hieromtrent is dat daar met elke keuse iets verlore gaan en tog ook iets gewen word.
Dit is die aard van keuses en kan nie vermy word nie.
Afgesien van die kompetisie-element (wat alle sportsoorte onderlê en waaroor ek hoeka vroeër by Pieter se blog kommentaar gelewer het), is rugby vir my by uitstek die spel van keuses wat deur die posisie van ‘n bal bepaal word. Daardie bal, en die gepaardgaande posisie ten opsigte van die voordeellyn, is die essensie van dié spel. Vir die aanvallende span (die een wat in besit is van die bal) gaan dit daaroor om soveel opsies as moontlik te skep waartydens die bal óór die voordeellyn vorentoe en nader aan die opponent se doellyn geneem kan word. Vir die verdedigende span gaan dit weer daaroor om dié opsies vir die aanvallende span effektief te reduseer tot slegs één ten einde dit dan doeltreffend (en gefokus) te neutraliseer en besit af te neem.
En daarin is dit nie onverwant aan die lewe self nie.
Voeg daarby aspekte soos energie, ritme, (intimiderende) intensiteit en dominansie en jy het met ‘n bepaalde situasie te make wat hom elke dag in ons werksplekke afspeel; anders gestel: ‘n speelpatroon of lewensuitkyk. Plus natuurlik ook elemente soos durf (of “guts”, soos die boere sal sê), motivering, toegewydheid en dissipline …
Maar die ander aspek wat my omtrent rugby fassineer, is die feit dat daar vir elke liggaamstipe ‘n rol te speel is; van die korterige kragman in die voorry, na die langeraat op slot; van die groot, dog vinnige losvoorspeler, tot die korter en beweeglike skrumskakel; van die vinnige besluitnemer met ‘n skopvoet op losskakel, tot die vlugvoetige senter; van die spoedvraat op vleuel tot die bestendige – dog met uitsonderlike antisipasie-vermoëns – van die speler op heelagter. En natuurlik vereis bykans elke posisie ‘n bepaalde persoonlikheidstipe: voorspelers móét aggressief en fisies wees; skakels (hetsy skrum- of losskakels, selfs heelagters) moet myns insiens weer koelkop en berekenend wees.
Die les wat uiteraard hieruit geleer word, is dat ‘n span wat bestaan uit ‘n groep waar elke lid maar net ‘n skadubeeld van die volgende is, geen span is nie. Iedere span moet bestaan uit ‘n verskeidenheid van vaardighede en prioriteite wat deur één doel saamgesnoer word.
En dit is om die spel te domineer en die opponent van enige moontlik teen-offensief te ontneem.
Dit is waarna ek oplet wanneer ek rugby kyk.
Om nie eens van die ruimtelike aspek te praat nie; daardie ineenkolk van losskrums, dan weer uitmekaar spat wanneer die bal “wyd gespeel” word, dan weer ineenkolk, worstelstoei, uitmekaar, kruis, dwars, ineen … Ensovoorts, ensovoorts. En dan kan ek dit nie verhelp om aan Opperman se beroemde gedig “Draaikewers” te dink nie:
O ek en jy! O ek en … skielik
uit mekaar verskrik …
O waar is jy? O waar is jy?
Dit kring om jou, dit kring om my,
met kring en teenkring mettertyd
tot ‘n verwikkelde onenigheid.
En dan is daar natuurlik ook nog Jeanne Goosen se plesierige “die dag op nuweland” … Ook praat ons nie eens van die implikasies van die feit dat jy jou op die lewe se speelveld te bevind en te wéét wat jou doelwitte is, maar voortdurend in die bereiking daarvan verhinder word deur wisselende omstandighede, teenstanders en/of jou eie gebrek aan vaardigheid of verkeerde besluitneming. Soos hulle telkemale al gesê het: “‘n Rugbybal is nie rond nie.” Georkestreerde frustrasie. Dit is die aard daarvan. Verskuiwende assertiwiteit. Om met die hulp van spanmaats jóú spelpatroon af te dwing ten einde die teerstand te oorkom.
Ja, ons kyk en ons raak opgewonde, want ons besef dat dit ook ons is in daardie modderbesmeerde truie wat vorentoe beur met die hoop om met ‘n oorwinning beloon te word. Dog, helaas, ook dikwels die teleurstelling wat verwerk moet word wanneer die fluitjie blaas en dit jý is wat onkant betrap word. Ag, ja. Ook dít is deel van die lewe … Uhhm, ek bedoel: rugby.
Vir jou leesplesier volg hieronder ‘n gedig deur ene “Lieweheksiekind” wat op Woes verskyn het.
***
Sedert Vrydag het daar weer heelwat nuwe inhoud op die webblad bygekom: Chris Coolsma met vier gedigte oor sy jeug, Erik Lindner wat skryf oor die poësie van Toon Tellegen, Carina Stander wat vertel van ‘n ervaring in die Skotse hoogland en Jelleke Wierenga wat haar eerste blog geplaas het. Nog nuwe plasings is Toast Coetzer se digstring oor sy gedig “geluk” wat verlede Maandag in Die Burger verskyn het, Alfred Schaffer se essay oor die Afrikaanse digkuns wat uit The Low Countries oorgeneem is, ‘n nuwe gedig, “Water: variasies” deur Daniel Hugo en vyf gedigte deur Christine Barkhuizen le Roux wat deur Joris van Hulle in Vlaams vertaal is en nou in die vertaalkamers gelees kan word.
Lekker lees. En onthou: Ke Nako – Dit is tyd.
Mooi bly.
LE
ons kyk rugby.
ma gil; op Francois Steyn
(gee hom kans, hy’s jonk – sê ek;
ek’s verlief op sy vlammende voete
en sy goue hart)
ek ken nóg myself
nóg my land
maar suid-afrika is aan die brand
soms apaties
oor die lewe se geluk, oor geweld
oor my gebrek – weereens – aan geld
oor die son, oor die reën
oor gebed, oor seën
ek ken nóg myself
nóg my land
maar suid-afrika is met trots aan die brand
ek huil, ek voel met angs
lighoofdig:
die telling staan op 23-20
en jp pieterse het pas die dag gered
maar soms: oorweldigende trots
wat deur die are van my binneste loop
oor ons land so wyd en mooi en oop
want op elke tv
in elke vertrek
is daar ‘n ‘n bal wat ‘n goue boog oor die pale trek
(c) Lieweheksiekind
was loftus in ‘n digter se naeltjie
sou hy die helde ordintlik besing
soos die blinde griek
oor die kêrels oorsee
en die wevende vrou by die huis
maar nou ja
loftus is gans te groot
en te vol
en te kommin
om te weet dat die poppies ook figuurlik kan dans
of om waarde te heg aan die warrelwindklank
van witkop oopkant woelwaterflank
Natuurlik besef ek dat jy jou kommentaar tong in die kies bedoel, Pieter. Daarom dat ek dit so geniet. Wil selwers ook maar net ‘n bietjie rondskrop in die stowwerige hoenderhok … 🙂
Maar watter sportsoort nomineer jy vir volgende Maandag? Sal ons krieket probeer?
Waarderende groete,
Louis
Dankie Louis,
Jy sê: “Dit is nou in reaksie op sy [my] (geïmpliseerde) innuendo dat digters amper per definisie sportvreemd is…”. Dit was in reaksie op my blogkommentaar: “STATE OF THE NATION: As jy wil reaksie kry, skryf oor rugby, selfs op Versindaba…”
My kommentaar was nie oor sport in die algemeen nie, nog minder oor digters wat nie in sport behoort belang te stel nie, maar oor rugby spesifiek. Dan ook, nie noodwendig negatief oor rugby as sport nie, maar wel tong in die kies kommentaar oor rugby se prioriteitplek in die Afrikaner se psige.
Louis, ek het juis verlede week nie direk op hierdie veralgemening (van rugby na sport) gereageer nie. Ek wou eers wag op jou beloofde sportnuuswekker, want op een of ander manier het ek net gewéét die eerste een sal oor rugby gaan! 🙂
Ek het wel verlede week al die eerste sportgedig op die maand se blogfokus geplaas, as “sportiewe gebaar” en om te wys ek is darem nie ‘n “nerd”digter nie! Hiermee dan nog ‘n gedig, wat sommer ‘n paar soorte sport (en sports) sowel as my halfeeuviering vandag saamvat. Enne, skuus Louis, maar my gedig gaan weereens nie oor rugby nie!
DIE EWIGE SWAARTEKRAG
Skaars sewentien
bedwing ek,
vreesloos, die ewige swaartekrag:
Ek klim,
moeisaam, gevaarlik, tot op
die hoogste piek van die Spitskoppe
en kyk verwonderd na die
oneindige
platte grond daar ver onder.
Op negentien
oorwin ek,
vir ‘n oomblik, die ewige swaartekrag:
Ek hang in ‘n sweefvlerk in die lug
Ek vlieg!
Ek lewe!
Ekstaties
verloor ek kop
en voeter grond toe.
Dekades lank
grawe ek gate,
moeisaam swaar, met graafkrag:
Diep gate om bome te plant
vir toekomstige kinders
om wind toe, op,
boontoe te kan klim,
maar telkens is ek tog verlig:
Die grond verwag my nog nie.
Nou, teen vyftig,
benut ek,
slinks, die ewige swaartekrag:
Ek put grenslose genot
uit bunji-spronge.
Opgewonde soos ‘n kind
rek ek sekondes lewenslank en terg,
ja terg,
solank ek kan,
die gulsige grond.