Ek het gereken dat daar op my gevorderde leeftyd, niks is wat ek nie weet nie, niks wat ek nog nie gesien het, niks wat ek nog nie gedoen het nie, niks wat ek nog nie gehoor het nie.Dus wat bly nog oor?
Al die CDs en die DVDs wat ek nog altyd wou besit, het ek.
Wat skryf betref, het ek seker reeds my sê gesê en wat luister betref reeds my hoor gehoor van Abbadabba Honeymoon van my kinderjare tot Giovanni Paisiello se klavierkonserte.
Wat bly dan oor nou dat ek reeds die Engelse Bybel se Three Score and Ten bereik het? Wag vir die dood?
Gelukkig het ek nog goeie vriende wat my elke dag bewus maak van wondere wat ek nog nooit gehoor of gesien het nie.
Eers is daar my uiters talentvolle vriend Godfrey Johnson wat my gereeld Sms. What have you listened to today en dan kan ek terug Sms: Franz Liszt Totentantz.
Of anders het ek geluister na iets wat hy tydens een van sy besoeke op ’n stukkie papier neergekabbel het : Rachmaninov Vocalise en Bartók Microcosmos.
Toe hy dus weer op 3 Junie vir my vra waarna ek geluister het, kon ek met alle eerlikheid antwoord:
I think I had my overdose of culture for this week, so I listened to music that was written for Walt Disney’s The Jungle Book.
Dan is daar my vriend Roelof wat met sy goeie maniere my altyd terug vergesel na my motor toe wanneer ek vir hom gaan kuier en wat my gereeld bel en vra: “Het jy al Petronel Malan se Bach en Mozart Transfigured opnames gehoor?”
Dan vertel hy my ook sommer dat dié talentvolle Suid-Afrikaanse pianis vir ’n Grammy benoem is. Dankie Roelof! Nou voel ek ook so ’n klein bietjie slimmer.
Maar die stuk waarna ek deesdae die meeste luister is Paul Reade se Victorian Garden Suite – ’n 9-minute musiek stuk vir klarinet en klavier of harp. En dit nadat Roelof my vertel het dat hy hierdie toeganklike musiek op Fine Music Radio gehoor het.
En gisteraand het ek ’n amateur-uitvoering deur twee Japannese kunstenaars op Youtube raakgeloop. Luister maar self:
http://www.youtube.com/watch?v=rpzSJK8nSgA&feature=related
En tóé ’n ontdekking van twee dae gelede.My vriend Johannes wat in Robertson woon en wat ’n paar maande gelede sy lewensmaat van 40 jaar verloor het, het by ons kom oorslaap met ’n paar DVDs waarna hy wou hê, ek moet kyk.
En hier ontdek ek ’n juweeltjie: ’n kort film van 32 minute uit ’n TV-film If these Walls could talk oor ’n lesbiese verhouding van 1961 waarin ’n vrou skielik haar lewensmaat verloor en familie wat skielik aasvoëls word en haar “simpatiek” beroof van jare se herinneringe.
Vanessa Redgrave wat die een rol vertolk, lewer een van die hartroerendste oomblikke wat ek nog ooit op film beleef het.
En ek ontdek gister dat ook hierdie segment in vyf kort dele op Youtube te siene is. Tik maar op die volgende.
http://www.youtube.com/watch?v=Zh_5Hh0Vu50
http://www.youtube.com/watch?v=U7G_eFLH_tI
http://www.youtube.com/watch?v=cyJW-xi5NMU
http://www.youtube.com/watch?v=QkUBQ2At1c4
http://www.youtube.com/watch?v=Rta-eKMxifk
Hierdie week het ek agtergekom dat ek nooit te oud sal wees om te leer nie.