Nou die dag hoor ek ’n interessante opmerking van ’n (blanke, Afrikaanse) regsgeleerde. Hy kyk na ’n afdruk van Che Guevara op ’n blikkie. “Die ou was die kluts kwyt, maar ten minste was hy ’n doener”, se die regsgeleerde, “nie net ’n prater nie.”
En hy voeg sommer by: “’n Blote prater, soos daardie Breyten Breytenbach.”
Dit was min of meer toe Breyten in die nuus was met sy onlangse besoek aan Suid-Afrika. Ek dag toe die opmerking is nogal pikant, komende van ’n regsgeleerde. Want daai’s is nogal ouens wat die lansering van spraakballonne – as ingenome en trotse genre van die sweefkuns – heel goed verfyn het.
Nie dat ek enige iets teen ’n goeie ballon het nie. As hy sweef, is dit mos ’n gedig.
En as hy plof, goeiste, dan is dit ’n geweer van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, net meer gevaarlik.
Ter sprake in die aannames van die regsgeleerde was die kwessie van wat konstitueer ’n optrede. Overgesetsynde, wanneer is iets ’n daad, en wanneer nie? Wie se dade tel die meeste of het die grootste impak op die samelewing? Wie is RÊRIG die doeners, en wie is RÊRIG die praters?
Mens kan praat van alfa-dade, en anderste dade. Alfa-daders maak dikwels onomwonde daarop aanspraak dat hulle dade die enigste dade is. Vir hulle is die daad ’n swaaibyl, ’n swaard of ’n spiespunt – en die res is net warm lug of ’n gedans op eiers of selfingenome onanering.
“Ander daders” (die andersdoeners) glo weer alfa-daders is jammerlike fundamentaliste wat nie onsigbaar kan dink nie, trouens dikwels glad nie dink nie en daarom omtrent niks regkry nie en dus gewoon niksdoeners is, al breek hulle ook hoe heeltyds aan klippe. Vir die andersdaders is die daad eerder ’n laserstraal.
Dink ook aan ’n horlosie, hy loop sonder dat jy hom dit sien doen. Miskien kan mens praat van Omega-daders?
Digters, meer as enige iemand anders, is omega-daders. Hulle, soos ook filosowe, verrig ’n underlabourer-funksie, dit wil sê wat hulle skryf verander en torring aan die swyende aannames en konsepte en aanblikpunte en waarnemingsterme wat onderliggend is aan almal se optredes. Op hierdie – indirekte – manier beïnvloed skrywers en digters en filosowe dinge soos die gang van politiek, en selfs die produksie van vrugte en veral – beslis – die waarneming van skoonheid. Ons het ook ’n handjie in die toekomstige vorm van toiletbakke, al dink al wat aandadige alfa-k*kker is hy is al een wat hieroor die poep sal voer.
Die kwessie van wat ’n daad (en wat ’n droom) is, is nogal belangrik vir Suid-Afrika, ’n land waarvan jy teenstrydige stellings en frases soos die volgende sal hoor:
* “The National Democratic Revolution is our only ideal.” / “Watter rewolusie? Die Rayban-rewolusie, of Gucci?”
* “Umkontho we Siswe het Suid-Afrika bevry.” / “Die ANC se oorwinning was heeltemal diplomatiek van aard.”
* ’n Gids in Soweto wat met sy vinger na skietgate in ’n kerk se plafon wys, sê: “This was an important moment in our freedom struggle.” / “Strike the women, and you strike a rock.” (Die bekende frase uit die struggle het verwys na vroue in hul kardinaal belangrike hoedanigheid as meer “passiewe” daders, oftewel hul sogenaamde ondersteunende rol.)
Ensovoorts, ensovoorts. Ek het maar enkele hedendaagse voorbeelde genoem.
Daar is ’n groot skoot onegtheid en gebrek aan logika in die uitlating van die regsgeleerde wat ek hierbo aanhaal. Die digter as dader se deursyferingseffek is soortgelyk aan dié van die staatshoof wat ’n aankondiging maak wat onmiddelik uitloop op ’n wysiging in die samelewing. Die wysiging in die samelewing wat uit die digter se woorde voortspruit, is net veel, veel meer langsaam in effek, maar die patroon is wesenlik dieselfde.
Overgesetsyne, die politikus se daad verskil nie so veel van die digter se daad waarop hy so dikwels neerkyk nie. En wie is meer “alfa” as ’n politikus? Beteken dit die digter is ook darem ‘n bietjie alfa op sy maniertjie? Trouens, “soorte” dade verskil dikwels nie soseer in aard nie, maar in graad.
Laat ek ’n klip in die bos gooi. Breyten Breytenbach het meer gedoen om Suid-Afrika van apartheid te bevry as die ANC se weermag, Umkhonto iSiswe.
Die ANC het een van die oneffektiefste weermagte gehad in die militêre geskiedenis van Afrika, en die apartheid-weermag was waarskynlik die effektiefste. Hierdie feit kon helaas niks doen om apartheid te beveilig nie. Die groot mediagebeurtenis wat Breytenbach se vrylating uit die tronk tot gevolg gehad het, was – soos ander soortgelyke mediagebeurtenisse – een van die sekerste spykers in apartheid se doodskis. Min dinge het meer gedoen as dit om apartheid as ’n vergryp teen die mensdom te ontmasker en die indruk die nek in te slaan wat die Nasionale Party van destyds gepropageer het, naamlik dat dit ’n tragiese maar noodsaaklike manier van kulturele en ekonomiese selfverdediging is. En dis daardie besef wat gemaak het dat die Westerse wêreld sy steun ontrek het waarsonder apartheid-Suid-Afrika nie kon voortbestaan nie. Want die feit dat Breytenbach self Afrikaner, self “Westerling”, was en een wat liefde vir sy eie uitgestraal het ondanks sy kritiek, was deurslaggewend.
En ag, hy is maar net een voorbeeld.
Laat ek julle van ’n voorval vertel, tragies en komieklik en siekmakend gelyktydig. En dit het werklik gebeur. Ek gaan dit in sy naakte waarheid hier oorvertel. Ek het as vryskutwerker lank by die Engelstalige dagblad The Star gewerk, ’n beproewing wat dank Vader verbygegaan het. Daar het ’n baie inemende man, ’n voormalige vryheidsvegter van die ANC ook as joernalis gewerk. Die man se gesig was heeltemal geskend want in die strugglejare het hy ’n bom geplant wat in sy gesig ontplof het. Ek het hom dikwels jammer gekry. Dat dit jou eie bom moes wees, kan tog nie maklik wees nie … Op ’n dag het hy papiere en woordeboeke begin rondgooi. Daar was iets oor Antjie Krog in die koerant. Hoe durf ’n skrywer, ’n witte boonop, soveel aandag op haarself plaas, het hy geskree. Sy gee voor sy het Suid-Afrika bevry. Sy is ’n verdomde imposter, a thief. ’n Pennelekker wat masturbeer op ‘n masjiengeweer. So seg ons man. Sy behoort geskiet te word! So seg ons man weer.
Nou moet ek sê, ek stem nie met alles saam wat Antjie Krog sê nie. Maar dié bepaalde dag het sy niks anders gedoen as om die lot van die armes onder die ANC te bekla nie.
So waarom die reaksie? Omdat sy wit was en nie bruin of swart nie? ’n Skrywer is en nie ’n soldaat nie? Omdat sy minder onhandig was? Omdat sy eintlik meer regkry? Die man was kwaad, hoor, ons vryheidsvegter!
Die uitbarsting was die gesig van die logosentrisme, van die paternalisme. Dit was die wrewel van die nuwe hierïargie. Dit was die aangee van die oudste aflosstokkie …
Want, in der waarheid, was dit diplomasie, die woord, die passiewe daad, die rughandhou, die vlietende skaduwee, die verstelde aanblik, die ingehoue asemteug, die weerkaatsing, die weifeling, die skemer-uur, die middernagson van die verbeelding, wat Suid-Afrika van apartheid bevry het. G’n byl of swaard nie.
Trouens, die relatiewe gebrek aan daad-sukses van die alfadaders in Suid-Afrika is ’n groot bron van verleentheid vir die land se skrywers en ideemakers. Want dit loop uit op ’n onbebydenswaardige situasie. Dit lyk oplaas of die land ’n plek is van slegs idees en projeksies, pleks van idees en projeksies wat konkrete beliggaming ook kan verkry. Sonder die vooruitsig van konkretisering val die hele proses vas en dít gee aanleiding tot mitologisering.
Mitologisering is narratief wat nie meer in die werklike of die aktuele gewortel is nie, en dikwels nie enige wil openbaar om daarin gewortel te raak nie. Dis ’n besonder onoutentieke – lees: leuenagtige – toedrag van sake. Dis ook geweldig onprakties.
Dat dit so is, is nie die skuld van die digters en skrywers nie. Ons verrig ons taak so goed ons kan. Ons wag nou op die vertalers daarvan. Maar dis soos “om te wag op die kaptein”, om Elsa Joubert by te haal.
Die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing en die land se politieke narratief het vasgeval in blote narratief, blote gekiedskrywing. Dis omdat ons oor redelik sterk omega-daders beskik en oor sulke swak alfadaders. Só swak dat hulle vir omtrent alles op ons, die omega-daders, begin staatmaak het.
En dit sal gaaf wees as hulle die vrugte van ons dade nie as hul eie opeis nie. Want dis ’n leuen. Ja, julle liegbekke. Julle spul warm-asembliksems. Styg op! Dis iets wat julle kan doen?
Siestog, meneer die regsgeleerde. Julle (wat ook maar eintlik meer beta- as alfadaders is, maar dit nou daar gelaat ..) en die politici en die plaaslike en nasionale bewindhebbers, en die oud-soldate, ja julle ook, julle is skoon pateties. Dis nou as mens kyk na die betreurenswaardige praktiese beliggaming van die goeie idees wat voortdurend na julle aangegee word.
Kon mens maar besems van julle maak.
Geskryf in Antwerpen op 14 Junie 2010. Oorkant van my waar ek koffie drink is die Justisiepaleis van Vlaandere met sy pragtige, self-ironiserende motto op die groot glasdeure, die woorde van Willem Elschot, beroemde Vlaamse romansier:
WANT TUSSEN DROOM EN DAAD
STAAN WETTEN IN DE WEG
EN PRAKTISCHE BEZWAREN
Naskrif: Wetmakers wat dít in gedagte kan hou, húlle is digters.
Hemel, CP, jou vertelling oor die man by Star wat galbraak oor Krog, laat mens rittel. So blind van woede (vir homself) dat hy nie eers sy eie comrade herken nie? Tragies.