
Vandag is die begin van die tweede Felix Poetry Festival in Antwerp; ‘n fees wat hom reeds met sy nooiensvaart verlede jaar gevestig het as een van die grótes op veral die Vlaamse kultuurkalender. Vanweë sy onlangse aanstelling as stadsdigter vir Antwerp, staan hierdie fees vanjaar grootliks onder Peter Holvoet-Hanssen se invloed en beloof dit inderdaad om “het beste uit de binnen- en buitenlandse poëzie” ten toon te stel, soos die amptelike persverklarings dit wil hê. En met drie gereelde deelnemers aan Versindaba wat daarby betrek is, is dit gewis iets wat ons ook opgewonde maak.
Vanaand open Gerrit Komrij die verrigtinge met ‘n lesing oor die bloemlesing De 21ste eeuw in 185 gedichten wat deur hom saamgestel en onlangs verskyn het: “Met een lezing die het midden houdt tussen een pleidooi en een liefdesverklaring aan de poëzie kan de openingsavond niet beter starten!” (Mmm, meteens wonder ek waar ek al vantevore die frase “my liefdesverklaring aan die poësie teëgekom het?) Nietemin, daarna volg voorlesings deur ‘n ontluikende Vlaamse en Nederlandse digter wat in die bloemlesing opgeneem is en volgens Komrij “tonen wat de nieuwe eeuw voor ons in petto heeft.” Die twee wat hy gekies het, is Delphine Lecompte, vanweë haar debuut wat vir die C. Buddingh-prys genomineer is, en Ester Naomi Perquin wat uit haar twee “fel bejubelde dichtbundels” gaan voorlees.
Charl-Pierre Naudé se optrede vorm deel van “Poésie is not dead” (ja, só gespel) wat geadverteer word as ‘n item wat “met de symbiose van poëzie, muziek en video de toeschouwer in een ultieme vervoering brengt.” Ander internasionale digters wat die verhoog met Charl-Pierre sal deel, is Hiromi Ito (Japan) en Antonio Gamoneda (Spanje).
Donderdagaand is dit weer Alfred Schaffer wat saam met Peter Holvoet-Hanssen en ander digters sal optree.
Die musiek-komponent word verskaf deur die Amerikaanse hip-hop digter Kaïn the Poet, stigterslid van die befaamde The Last Poets, die “one-love rebel music”-pionier, Babar Luck, en Elvis Peeters met sy literêre rockgroep De Legende.
Ai, wat ‘n fees … Graag wens ons Charl-Pierre, Ester en Alfred voorspoed toe met hul optrede tydens dié besonderse geleentheid.
As lusmaker plaas ek egter vanoggend ‘n totaal onverwante vers onder aan die Nuuswekker. Dit is ‘n gedig, “Hetzelfde“, deur Maartin Embrechts wat ek verlede naweek via Meander se nuutste Nuusbrief te lese gekry het. Nogals ‘n interessante vers, is dit nie?
***
Na die stortvloed van nuwe inhoud die afgelope paar dae is dinge vanoggend ietwat aan die yl kant. Daar is darem die onderhoud met die Namibiese digter, Kobus Lombard, om te lees. (Dit is na aanleiding van sy bundel Vlerke vir my houteend wat vroeër vanjaar verskyn het, met hom gevoer.) In die verskamers is daar ‘n nuwe gedig deur Johann Lodewyk Marais.
Geniet dit en ook die rusdag wat voor jou neergelê is …
Mooi bly.
LE
Hetzelfde
Jij en ik wij zijn onvolmaakter in elkaar
gezet dan onze vaders We denken dat
we hen herhalen en vechten ‘s nachts
Zal ik het mannetje Zal jij het vrouwtje
Onder de lakens spuwen we hun ergste
zonden uit Steeds willen we van opzij
naar de geboorte van de wereld kijken
(c) Maartin Embrechts (Uit: Meander 391)