Jelleke Wierenga. Selfsensuur

Sal ek my woorde tel angsvallig
elke kleur vermy al kom kleur
nie alleen nie o Here gee
dat ek in géén woord verraai

dat ek stafies in my hart het
en kloppende keëltjies in my keel

mag lojale vlaggies uit my ore spruit
mag hulle sokker speel met my kop
mag dit deur alle grense skop
mag ek Verwoerd vloek.

O liewe Heer
wat’s fout met my?

Waarskynlik oorlaai deur ’n sekere desperaatheid het my selfsensor gefaal. Ek het die woord “rassegrens” gebruik in die stuk wat ek oor Charmaine C se dood geskryf het. Per implikasie, bewus of onbewus, het ek erken/beken/toegegee/laat glip dat dit nog ’n geldige begrip is en dat sodanige grens oorskry (kan) word en dat dit afkeurenswaardig is.

 

Só reken Annemarie van Niekerk in haar kommentaar onderaan die stuk.

 

Bevind ons ons weer in die era van sensuur waar geskrifte gesuiwer moet word van alle (moontlike) aanstootlikhede? Is politieke korrektheid die nuwe sensor, die boei aan die pen? Moet jy suutjies-suutjies skryf opdat die heilige kudde jou nie skuldig bevind aan rassistiese of seksistiese onreinheid in woord en denke nie? Sodat jy nie slagoffers – goedgekeurde slagoffers – êrens te na kom nie?

 

’n Mens wil dit van die dakke af skree: Ons is álmal slagoffers. Elkeen van ons. Nie net sekeres wat tydens ’n sekere bewind gely het nie. Elkeen van ons word te na gekom of voel ons beledig of gekrenk of in ons regte of menswaardigheid aangetas. Om te lewe, is om te ly. Om niemand aanstoot te gee nie, behoort jy nooit jou mond oop te maak nie.

 

Dit gee my aanstoot om vermaan te word: “… maar ons as woordmense behoort versigtiger met ons woorde om te gaan”.

 

Dit is smartlik om jouself buite die geïdealiseerde en ideale wêreld van geïntegreerde advertensies en gehomogeniseerde gemeenskappe te bevind. Om in ’n wêreld te leef waar daar nog altyd bodorpe en onderdorpe is, en ja, werklik, kleure en kleurgrense en verskillende rasse en volke en arm en ryk en dom en slim en maer en vet en lelik en mooi en man bo en vrou onder. ’n Wêreld van ongelykhede en teenstellings en onregverdighede en oordele en vooroordele.

 

Ek verstaan nie hoekom dit so is nie. Maar dit is so. Ek glo dit sal so wees tot die dag van die Apokalips. As ’n mens maak of dit nie so is nie, gaan dit weg?

 

Dis mooi en goed om aan vryheid, gelykheid en broederskap te glo, maar moet ander hul woorde in die dwangbuis van jou slagspreuk giet?

 

Wie het alleenreg op die waarheid? Vandag se waarheid is môre se leuen. Gister se heilige is vandag se ketter. Vandag se ketter is môre se heilige. Gister se verdrukkende apartheidsregime is vandag se verdrukkende apartheidsregime.

 

Om waar te neem en jou waarheid weer te gee, van watter kant van die spektrum ook al, in watter vorm ook al, is om te probeer sin maak van jou/die lewe. Soms word dit as kuns beskou. Deur die eeue was daar nog altyd wagters op die mure wat besluit het watter waarnemings aanvaarbaar is of nie, watter toegelaat mag word of nie.

 

Vandag se selfaangestelde wagters op die mure is die PK-polisie. Hulle is altyd waaksaam en aan diens om die oortreders van die één ontsmette, goedgekeurde weergawe van die “waarheid” uit te ruik en aan te tree.

 

Om te kwalifiseer vir dié onkreukbare posisie, neem ek aan, moet ’n mens jouself in die spieël bekyk het en baie tevrede gewees het met wat jy sien.

 

Maar hoe goed kyk jy as jy so goed is?

 

Die veles meen
hulle ken my gesig,
maar ek skuil te glansryk,
te na aan die lig,
en as hul wil waarsku
en wysheid gee,
dan praat ek reeds
in die woordklank mee;


Ken jy my nou?
Het jy die spieël gesien,
en ken jy jou?

[Uittreksel uit “Ballade van die Bose”, N.P. van Wyk Louw]

 

Ek het ook die spieël gesien en my morele verontwaardiging ken geen perke nie. Dit trap my spoor soos ’n goeie hond: my onverdraagsaamheid, my verwaandheid, my selfsug, my venynighede, my eenogigheid … Ja, daar is ander dele ook, maar dit bied geen rede tot ’n groot gejubel onder die engeleskaar nie.

 

Sal ek my hond die blaf belet oor sy nie sondeloos is nie? Mag sy net op dié noot blaf en nie op dáárdie nie om by die melodie van die heersende psalm in te pas?

 

Ek los maar my hond om haar stukkie sondige bewussyn te blaf teen die volmaakte skyn van die heiligheid in.

 

—–

 

“Na die enorme kabaal oor die relatief ‘onskuldige’ Sewe dae by die Silbersteins het hy my vertel van sy groot vrees vir selfsensuur. Moes hy die heeltyd skryf terwyl hy wonder of dit of dat kan aanstoot gee, en vir watter lesers?” – Charles Malan oor Etienne Leroux

 

“Dis onmoontlik om te sê hoe sake vorentoe gaan ontwikkel; die geskiedenis het ’n interessante manier om tussen uiterstes te slinger. Wat wel gesê kan word, is dat ’n nuwe paradigma in Nederland ontwikkel het wat in die toekoms opnuut in ’n soort politieke korrektheid kan ontaard. Dié politieke korrektheid sal egter eerder regs en konserwatief wees as links.” – Leopold Scholtz

 

“Om gedurig polities korrek te wees spreek van lafhartigheid. Kyk die waarheid met al sy lelike gesigte reguit in die oё – en daarbinne sien jy dalk die seer en die mooi van menswees.” – Sean Else

 

De volledige debat op LitNet oor selfsensuur kan hier gelees word.

 

Bookmark and Share

11 Kommentare op “Jelleke Wierenga. Selfsensuur”

  1. Desmond :

    Dit is vir my problematies dat kritiek wat uit ‘n “linkse” hoek kom sommer onmiddelik “sensuur” en “PC” genoem word. Dit is wat dit is: kritiek.

    Is dit nou “lafhartig” vir Annemarie om haar opinie uit te spreek, in ‘n konteks waar sy tog weet sy sal aangeval word; en in ‘n konteks waar die “politieke korrekte” standpunt dikwels juis die konserwatiewe een is! Nee, dit is bloot te maklik om kritiek heeltyd af te maak deur die persoon wat dit lewer uit kryt as PC. Die effek wat jy op hoop is klaarblyklik dat mense wat anti-rassisties, anti-homofobies, ens. is, maar eerder gaan stilbly. Gelukkig is HULLE nie so lafhartig nie.

    En Annemarie is heeltemal reg om uit te wys dat sekere maniere van praat, selfs al is dit onbedoeld, slegte gevolge kan h^e. Soos om sg. “gemengde verhoudings” te stereotipeer. Die feit dat “almal slagoffers” is beteken nie ons moet nou maar “caution to the wind” gooi en sommer maar breek met woorde soos ons lus het nie. En dan boonop vies te raak as dit kritiek ontlok!

  2. “koos sas” :

    In ons land is “ras” ongelukkig steed ‘n politieke konsep en in ‘n samevoeging met die woord “grens” nog meer so. Annemarie se teregwysing val dus streng gesproke ook binne dit wat polities van aard is. Sy het dit teen die uitgesproke idee dat daar hoegenaamd grense tussen mense van verskillende rasse kan wees. En die blote feit dat sy dit sien as ‘n negatiewe verwysing bevestig onmiddelik dat dit steeds in ons gedeelde onderbewussyn as sulks bestaan. Jelleke is dus reg om Annemarie woorde as PK te ervaar.

    Die idee dat die gebruik van ‘n woord soos “rassegrens” negatiewe gevolge mag he is nie ‘n sterk genoeg argument daarteen nie. Enige poging om hoflikheid af te dwing – immers wat PK impliseer – is gedoem (want hoflikheid sonder innerlike motivering is ‘n lee gebaar wat ten beste lei tot iets soos sarkasme.) Ons behoort nie vir Jelleke te probeer dwing om bedagsaam met woorde om te gaan nie. Dit is dan juis een van die take van ‘n digter om die onderbewuste bloot te le, en ek stel voor dat dit onmoontlik is met bedagsame hoflikheid. ‘n Mens kan nie die “lugdrukboor” by een digter prys en by ‘n ander dit afkeur nie.

    Ek stel ook voor dat Desmond en Annemarie die woord “rasse-” moet vervang met iets soos “sosio-ekonomiese-“. Dit sal dalk die realiteit van die “grense” wat oorgesteek word beter bloot le. In ons land is die sosio-ekonomiese en velkleur immers so nou verwant dat dit amper dieselde is – die een staan eintlik in PK vir die ander in dan nie? Miskien moet beide Desmond en Annemarie eerder na binne kyk en uitpluis hoekom die gebruik van die woord “rassegrens” so ‘n sterk aversie by hulle aktiveer. Die afkeurenswaardigheid van die woorde “oorteek van rassegrens” behoort, in die genoemde geval, eerder by die walglike hehaalde misbruik van ‘n oneweredige magsbalans te begin as wat dit slegs by idees rondom velkleur eindig.

    Die probleem met Jelleke is nie die (onbedagsame) woorde wat sy gebruik nie maar eerder dat sy met al die talent tot haar beskikking steeds nie kan sien dat “rassegrens” (soos sy dit bedoel) bloot ‘n ideologiese konstruksie is nie. Vir haar is dit ‘n onoorbrugbare realiteit – ‘n muur wat haar heimelik beter oor haarself laat voel. Sy sien egter nie hoe dit ook vir haar inperk nie. Soos baie konserwatiewes beskou sy haarself graag as die bewaker van sekere norme of standaarde, maar sien nie in dat ‘n digter juis daardie grense (binne hulself) moet oorkruis en soms van die anderkant af ook moet skryf nie. Ek hoop dat sy eendag wel hierdie selfopgelegde inperking kan oorskry, want dit is dan wanneer haar onbedagsaamheid (en selfsug) werklik ten regte sal kom en sy nooit weer ‘n misplaaste gevoel sal he om haarself en haar woorde te verdedig nie.

  3. Desmond Painter :

    Koos Sas, ek stem met heelwat saam wat jy hier skryf. Ek dink nie Jelleke moet gedwing word om hoflik te wees nie. Sy kan skryf wat sy lus voel om te skryf, en glo wat sy wil glo. Kritiek kan egter nie altyd ontduik word deur die kritikus van PK te besuldig nie.

    My reaksie was in elk geval nie op die woord “rassegrens” nie, maar juis op die gemaklike manier waarop Annemarie se kritiek afgeskud word deur haar van PK te beskuldig. Dit is deesdae elke regse se retoriese truuk nr 1: Wanneer ‘n mens ook al rassistiese taal of dade kritiseer, word jy beskuldig daarvan dat jy maar net PK is. Of jy word gevra om na ‘binne te kyk’, selfondersoek te doen — asof dit bloot ‘n soort psigologiese debat is, of omdat jy ‘n tjip op jou skouer het!

    Ek hoef nie na binne te kyk of selfondersoek te doen nie. Ek weet reeds dat ek dink rassisme is ‘n euwel, dat dit ‘alive and kicking’ is in SA, dat dit juis in skynbaar bloot ‘onhoflike’ taal gereproduseer word, en dat dit teenproduktief is vir die soort wereld waarin ek graag sou wou leef. Dit is dus ‘n politieke beginsel, eerder as ‘n kenmerk van my psige of so iets, en ek dink verder ook mense wat nie met my saamstem hieroor nie, verkeerd is, en dat die wereldbeskouing wat hulle huldig beveg moet word! Ek sal ook nie ophou kritiek lewer net omdat ek “PK” genoem word nie! Dit is darem ‘n alte maklike stilmaak-tegniek!

  4. Naskrif: Nie dat dink daar is nie iets soos PK nie. Mense moet robuus aan die politiek deelneem, hulle regte opeis, en skrywers moet die teenstrydighede en moeilike aspekte van persoonlike sowel as ons saambestaan aanspreek. Absoluut.

  5. Jelleke Wierenga :

    Koos Sas ken my persoonlik, maar het nie die moed van sy oortuiging om te sê wie hy is nie. Hy hou my van agter ’n skuilnaam dop hou en bespring my soos ’n spietkop van agter ’n bos sou ek die grense van sy/haar lewens- en wêreldbeskouing êrens laat tril.

    Dan begin Koos Sas met sy verwaande analises: Die probleem met Jelleke is sus en so …

    My liewe vaderlike Freud, die probleem met jou is dat jy ’n gebrek aan humor en selfinsig het, en deur kwistigwistig raad en daad uit te deel, mislei jy jouself in die posisie van alwetende god [kleinletter] in.

    Jy sê: “Vir haar is dit [die rassegrens] ’n onoorbrugbare realiteit – ’n muur wat haar heimelik beter oor haarself laat voel.”

    Mag ek hierdie aanname van jou in ’n duisend splinters laat spat: Ek sal ’n vriendskaps- of liefdesverhouding oor enige rassegrens aanknoop as daar genoeg gedeelde grond en sielsverbinding is vir ’n suksesvolle en bevredigende verhouding, ongeag wie wat ook al sê.

    Sit jy nog in jou sokkies?

    Dan is ek volgens jou een van die “baie konserwatiewes” wat myself as “bewaker van sekere norme of standaarde” sien. Jy het geen idee wie ek is nie, vriend Freud. Dié wat my beter ken, sou my ’n individualis noem – iemand wie se naakstudies nie welkom is by sekere uitstallings nie, wat nie ongeneë is om ’n lekker kuieraand met ’n zol af te sluit nie, wat glo jy kan maar jou klere agterstevoor dra om die voor- en agterkant gelyk te slyt, wat in ’n geel-en-pers huis woon, wat in Christus én in reïnkarnasie glo, wat tot geen kerkgroep behoort nie … Um … wat is die definisie van konserwatief nou weer?

    Mag jy, Koos Sas, as mens só groei dat jy die grense van vooroordeel teenoor wie ook al in jouself te bowe kom. Mag jy ’n mooi voorbeeld aan almal stel. Mag jy alle selfopgelegde perke in jouself oorskry – veral jou onkundige aannames oor my – en as ’n waarlik vry mens tot volle wasdom groei. Mag jy geen misplaaste gevoel hê om jou woorde te verdedig nie.

    Sela, amen en mag jy genoeg moed hê om jou aangesig te kom wys en met ’n bottel wyn in die hand te kom kuier.

  6. Annemarié van Niekerk :

    Dankie vir almal se kommentaar en deelname. Al wat ek eintlik wou sê is dat dit ‘n mooi stuk was van Jelleke, maar dat ek geskok was met haar suggestie dat seks tussen mense van verskillende rasse ‘n skande is. Sy is geregtig op haar standpunt, soos ek op myne. Maar ek het gedog/gehoop dat meeste intelligente mense al verder beweeg het.

  7. Desmond :

    Ek stem wel saam met Jelleke (in haar interaksie met Koos Sas) dat om rond te krap in persoonlike en sielkundige faktore van minder belang is, wat hierdie onderwerp betref. Dit lei, benewens moralisering, tot eindelose spekulasie oor wie dan nou ‘n rassis is en wie nie; waarom iemand ‘n rassis is, en waarom nie; of Jelleke met ‘n swart persoon in ‘n verhouding sal tree, of nie. Almal het hulle redes en voorkeure, en in sekere sin dink ek nie dit is (polities) ter sake nie.

    Myns insiens behoort ‘n mens, as ‘n politieke beginsel, teen rassisme te wees, selfs al sou jy om een of ander rede nie van mense van ‘n bepaalde groep hou nie. Daar is tog ‘n verskil tussen persoonlike voorkeure en politieke beginsels. Anti-rassistiese diskoers in SA fouteer ook dikwels omdat dit mense se harte wil verander en vriende met mekaar wil laat word, eerder as om maatskaplike ongelykhede uit die weg te ruim. Iets van die skynheiligheid van ‘n sekere soort liberalisme sit ook hierin: mense wat teen rassisme is omdat die onderdrukte groep geromantiseer word, maar wanneer die groep later gewone mense blyk te wees, eerder as ‘n ‘royal road’ na ‘n soort spirituele volheid, draai daardie liberalisme om in ‘n venynige neo-rassisme. Dan is ‘die Ander’ skielik nie op die regte manier Anders nie!

    Van Wyk Lous skryf mos iewers dat ‘n mens ‘n volk liefhet oor sy ellende, nie oor sy grootsheid nie (ek vergeet die presiese woorde). Ek voel dieselfde oor goed soos anti-rassisme: mens is anti-rassisties (en anti-homofobies en wat ook al), nie oor die swart persoon of die homoseksuele persoon so wonderlike is nie, maar oor hy of sy, soos ek en jy, maar ‘n ellendige, gebrekkige mens is.

    Ek stem saam met Hannah Arendt:

    “Race is, politically speaking, not the beginning of humanity but its end, … not the natural birth of man but his unnatural death.”

  8. Dom Boer :

    As ‘n mens lees wat almal hierbo gorrel, raak jy bevrees dat die hele wereld heeltemal redeloos en reddeloos onnosel en mal geword het. Dankie, dankie, dankie vir iemand soos Jelleke wat gesonde verstand, balans en nugterheid behou en vertroue in die mens as denkende, nuttige wese herstel. Jelleke vir president!

  9. Desmond :

    Dom Boer, my vertroue in “die mens as denkende, nuttige wese” kan slegs herstel word deur iemand wat ALLE mense as denkende, nuttige wesens erken. Ek is nie seker dit is Jelleke se projek nie. Hier’s vir julle ietsie uit ‘n Palestynse protesgedig:

    “You have tried everything.
    You have nothing left. You are bankrupt.
    Go home.”

  10. Dom Boer :

    Desmond, is jy regtig seker dis wat jy wil se?: “Pass one, pass all?”

    Om as denkende, nuttige wese erken te word, moet ‘n wese tog seker eers dink en nuttig wees, of vind jy dit moeilik om in te sien?

    As Jelleke ‘n projek sou loods om almal as denkend en nuttig te verklaar sonder dat almal darem een of ander vorm van prestasie lewer wat hulle as sodanig bevestig, sou ek beslis reken dat haar verstand ook loop staan het.

    Nee wat, Jelleke bly steeds die enigste ligpuntjie van denke en gesonde verstand in hierdie debat – nou selfs meer as wat ek voorheen gedink het.

  11. Wysneus :

    Jelleke, moet nooit sê jy is nie ‘n rassis nie. Dan het jy klaar verloor. Ek is verstom niemand het gesê die dame protesteer te veel nie.

    Laat vooroordelers vooroordeel. Dis hoe vooroordelers oordeel.

  •