My liefste Mamma,
My hart is vol plesier want dit is so lekker op hierdie reis, en dit is so heerlik warm in die koets, en omdat die koetsier so vinnig jaag as wat hy kan wanneer die pad dit toelaat … Pappa het seker al al die nuus vertel, maar die rede waarom ek skryf, is omdat ek weet wat my plig as ’n gehoorsame kind is.
Met diepste respek
Wolfgang Mozart.
Die persoon wat hier skryf is ’n seun van 13 wat reeds twee operas Bastien und Bastienne en La finta semplice gekomponeer het; ’n seun wat reeds vanaf ouderdom ses saam met sy suster dwars oor Europa gereis het om die adel met hulle talente te beïndruk. Altesaam 5 en ’n half jaar weg van die huis af en nou weereens op pad.
Wolfgang Mozart en lewe is só goed gedokumenteer dat ons vandag 219 jaar na sy dood selfs weet wat hy op ’n sekere dag gedoen het, danksy briewe wat bewaar gebly het, en danksy Otto Erich Deutsch se Mozart a Documentary Biography, waarin hy alle bestaande dokumente en koerantberigte kon versamel sodat ons self weet dat hulle byvoorbeeld op 15 Desember Schwaz teen die middaguur bereik het en Innsbruck om 17h30 waar hulle toe by die Herberg van die Wit Kruis tuisgegaan het!
Vir my persoonlik het hierdie reis belangrik geword omdat dit deel van my navorsing geword het toe ek destyds TRAZOM geskryf het en wat later as Tot siens, Tommasino heruitgegee is.
Wat vir my eintlik interesseer is al die lofuitinge wat die jong seun op pad ontvang het na sy konserte voor die Italianers. En dikwels was hierdie lofuitinge slegs ’n paar versreëls, of sonnette om die wonderkind te besing.
So byvoorbeeld besing die Veronese digter Meschini hom in Italiaans in vroeg-Januarie:
VIR AMADEO MOZART
LIEFSTE KIND
EN MEES ELEGANTE
VERTOLKER
VAN ANTONIO MARIA MESCHINI
VAN VERONA
If Orpheus enraptured the forests.
if Tartarus he moved
Now thou stealest men’s hearts, child
and movest the stars
(Engelse vertaling uit Otto Deutsch)
En ’n paar dae daarna weereens ’n lofgedig van ’n Veronese digter, hierdie keer ’n sonnet van Zaccaria Betti
’N SONNET
VIR SIG AMADEO MOZART,
DIE BEWONDERINGSWAARDIGE
JONG SEUN:
If with his lyre from celestial heights
Cupid divine awakens lovely strains,
Then how can we on earth, with all our pains
And errors ever set our songs to rights?
Well may we, charming boy, accord thee praise,
If thou reformest music with thy art;
May nature shape for better in thy heart
The strains the god’s inspired plectrum plays.
You, who for years have struggled to attain
The blessing and the flavour of your art,
And hoped harmonious mastery to gain,
I am not wrong, you know it in your heart,
If I declare that his enchanting strain
Alone is godlike in its ev’ry part.
(Engelse vertaling uit Otto Deutsch)
En kort daarna ’n lang gedig van Signora Sartoretti, weereens met woorde om te sê hoe wonderlik hy is, tesame met pommade vir sy hande en ’n paar muntstukke:
See how his fingers move,
Here with what art
He makes the keys respond
In ev’ry part;
How he to you imparts
All his accomplished arts.
Na al die jare het hierdie gedigte seker alleenlik waarde vir die interessantheid daarvan.
Tog is daar een wat my ontroer en wat deel van my novelle geword het.
Mozart het tot sy dood ’n kind gebly. sy suster Nannerl het dit wel gesê. Tog was hy nooit werklik kind met kans vir kindervriendskappe nie.
En tog – op hierdie reis het hy vir Thomas Linley ontmoet – ’n 14 jarige wonderkind uit Engeland.
In Florence het die twee seuns ontmoet. Trouens in Otto Deutsch se biografie kan ons lees:
Op 2 April het die vader en seun die digteres Signora Morelli wat onder die naam Corilla Olimpica besoek waar hulle die jong violis Thomas Linley ontmoet het.
Op 4 April het Mozart en Linley duette gespeel by Herberg van die Arend.

In ’n brief aan sy vrou skryf Leopold oor hierdie sonnet:
Klein Tommasino (Thomas Linley) het ons huis toe vergesel en het bitterlik gehuil omdat ons die volgende dag sou vertrek… Hy het ons om negeuur die oggend besoek en het vir Wolfgang omhels en ’n sonnet gegee wat signora Corilla die vorige aand vir hom geskryf het:
OP DIE VERTREK VAN SIGNOR WOLFGANGO
AMADEO MOZART UIT FLORENCE
Die Noodlot bepaal dat ons twee nou moet skei
in drome alleen mag ek saam met jou reis.
Ons lag en ons blydskap word trane wat bly
en Hoop staan verslae in die ou Paradys.
Dis jóú melodieë wat harte so raak
en Eden vertoon deur die soet Harmonie.
In Hemelse sale sal ons dan ontwaak
dié skoonheid en vreugdes ken sterflinge nie.
Merkwaardige oomblik, geseënd is die dag:
ek het jou hoor speel en het gode aanskou.
Vir my het geluk en die waarheid bly wag.
Toe kom die besef dat ek lief is vir jou.
Die dag was vol blydskap en vreugdes en lag,
O, mag ek dié oomblik vir ewig onthou.
As teken van my agting en toegeneentheid
– Thomas Linley
(my eie Afrikaanse vertaling uit TRAZOM/Tot siens, Tommasino)
Wolfgang en Thomas Linley het mekaar nooit weer gesien nie en 8 jaar daarna het Thomas op ouderdom 22 verdrink.
Baie dankie vir die korrekte inligting oor die hobospeler. Bridgetower het skynbaar ook lesse gekry by leerlinge van Mozart. Die invloed van meesters van hul vak strek soms oor geslagte. Ons hele gesin het u Mozart-novelle met groot plesier gelees en dit het ‘n invloed gehad op veral ons kleinkinders se keuse van instrumente en begeestering met musiek.
Ek wou eintlik gehad het die geel mannetjie moet net glimlag, maar toe gaan staan hy guitig en knipoog. Ag, wel…
Jip, Desmond, ek het al begin wonder. 😉
Ek knipoog nie gewoonlik vir mans nie, maar vir jou maak ek ‘n uitsondering.
Wysneus, lekker om te weet daar is iets waaroor ons heeltemal saamstem 😉
Mozart was ‘n komplekse persoonlikheid en daar is skynbaar redelike kans dat hy Tourette sindroom gehad het.
Wonder of Mozart werklik ‘n kind gebly het. Geen kind, hoe briljant ookal, kan tog iets so emosioneel kompleks soos sy latere werke skep nie? Mozart se optrede was kinderagtig; Beethoven s’n buffelagtig. Maar ‘n kind kon nie die Requiem skryf nie; ‘n buffel nie Die Negende nie.
Baie dankie vir die inligting oor George Bridgetower en sal graag meer oor hom wil oplees. Wat Thomas Linley betref, miskien sal u belangstel in my vroeëre bloginskrywing oor my pelgrimsreis op die spoor van Thomas Linley:
https://versindaba.co.za/2009/10/14/my-pelgrimsreis-op-die-spoor-van-thomas-linley/
Die Linley-gesin fassineer my al vir jare. Van Thomas Linley Snr se 8 kinders het 6 onder die ouderdom 40 gesterf; en 4 maar in hulle 20’s. Thomas Jnr was slegs 22 toe hy verdrink het en Samuel (die hobo-speler) was slegs 18 en het in Desember 1778, slegs 4 maande na Thomas gesterf. Hy het by die vloot aangeluit en het nié verdrink nie, maar het wel ‘n koorsaanval gehad en het by sy ouerhuis in Londen gesterf.
Hulle vader het volgens oorlewering aan ‘n gebroke hart gesterf, veral oor die dood van Thomas die talentvolle violis en komponis.
Ek sal by my volgende blog-inskrywing afbeeldinge van die Linleys plaas – veral die Gainsborough-skilderye.
Met my Linley-obsessie en die novelle wat ek oor Mozart/Linley geskryf het, het ek alle bestaande boeke oor die Linleys in die hande gekry en selfs mikrofilm oor die gesin wat die Britse Museum destyds aan my verskaf het.
Jammer tog. Vergeet skoon om die naam van die violis by te voeg. Dis George Bridgetower. En wat die kruispaaie van die kunste betref, Linley Jnr se portret is meer as een maal deur Gainsborough geskilder.
Mozart prikkel altyd die belangstelling. Aldous Huxley vra in ‘n essay getiteld The Doors of Perception: …how can we ever visit the worlds which, to Blake, to Swedenborg, to
J S Bach, were home? Of Mozart se geestesruimte?
Die jong Linley het, soos Mozart, uit ‘n musikaal begaafde gesin gespruit. Thomas se broer was ‘n hobospeler wat ook verdrink het. Sy drie susters is kort na mekaar aan tering oorlede en Thomas Snr het volgens oorlewering aan ‘n gebroke hart beswyk. Deesdae versteen ons harte van oormatige cholesterol.
Die verwysing na Thomas Linley herinner my aan ‘n ander Britse Wunderkind wat in 1778 in Pole gebore is en in 1789 sy debuut as violis in Parys maak. Hy was, in die terminologie van die tyd, ‘n mulat en het op die verhoog eksotiese kostuums gedra. Later maak hy kennis met Beethoven wat die ‘Kreutzer’ vir hom komponeer en dit saam met hom uitvoer in 1803. Hulle kry egter stry en Beethoven dra die opdrag oor na Rodolphe Kreutzer wat dit nooit gespeel het nie en skynbaar gedink het dis nie alte verstaanbaar nie. Musici, soos digters, lyk my maar ‘n opvlieënde lot.
Janacek se Strykkwartet, No. 1, is volgens die inskripsie geinspireer deur Leo Tolstoy se merkwaardige novelle oor die huwelik wat die titel Kreutzer-Sonate dra.
Dis boeiend hoe die spore van musiek,lettere uitvoerende kunste mekaar kruis.
Dankie vir ‘n lieflike stuk, Philip. Iemand het eenkeer vir my gesê: Bach neem jou tot by die poorte van die hemel, maar dit is net Mozart wat jou daardeur kan vat. 🙂