Foxtrot met ‘n ronde bal

Sokkerfiasko

Sokkerfiasko

Verskeie mense het my die afgelope tyd gevra of ek dan nie ‘n sportwekker oor sokker gaan pleeg nie. Nou ja, dit was nie my bedoeling nie; om die waarheid te sê, ek het beplan om vandag se stuk oor skaak te skryf, maar goed. Dan is dit sokker.

Gelukkig sal dit nie ‘n lang stuk hoef te wees nie, want oor sokker is daar myns insiens nie veel te sê nie, aangesien dit een van daardie sportsoorte is wat véél lekkerder is om self te speel as om daarna te kyk. (En dié stelling baseer ek wel op eie ervaring; vir ‘n wyle het ook ek my tyd met hierdie bepaalde foxtrot verwyl; trouens, in 1977 was ek een van die eerste twee “blankes” wat vir ‘n “nie-blanke” klub in Bloemfontein gespeel het. Ek sal nooit die burokratiese gemors vergeet rondom die verkryging van spesiale permitte om na-uurs in die townships te mag wees vir oefening of wedstryde nie … Ai, ai. Watter vreemde tyd was dít nie!)

Nietemin, sokker is ‘n posisionele spel waar spelers in ‘n bepaalde formasie oor die lengte en breedte van die veld in twee opponerende pare by mekaar (of teenoor mekaar) geplaas word ten einde mekaar uit die spel te “merk”. Die idee is dat elke speler se “verdediger” druk op hom moet plaas om óf die bal af te staan, óf na ‘n volgende speler aan te gee. (En presies dáár lê die probleem van die spel vir my: soos netbal is dit ‘n spel waarin jy jou mal hardloop om besit van die bal te kry en wanneer jy dit uiteindelik voor jou voete het, kan jy basies niks daarmee doen buiten om dit na die volgende spanmaat aan te gee nie …)

Hoe ook al, die taktiese benadering tot die spel is dus daarop gerig om die verdedigingspatroon van die opponerende span te ontwrig ten einde ruimte te skep vir jou eie speler wat dan “ongemerk” die bal kan ontvang en hopelik iets sinvols daarmee vermag. Die beginsel van “runnng off the ball“, soos die Britte sê, is dus van kardinale belang; dit is nie wát jy doen met die bal voor jou voete nie, maar wat jy doen wanneer jy nié in besit van die bal is nie, wat belangrik is. En natuurlik is dit juis dié aspek wat tydsberkening, antisipasie en ruimte-persepsie vereis en tot gevolg het dat sommige spanne hulle 83ste op wêreldranglys bevind terwyl ander weer bo aan die punteleer pronk.

Maar gelukkig is daar ook met sokker bepaalde geometriese patrone om dop te hou en die geometrie wat dié spel onderlê, is die driehoek. ‘n Speler wat in besit van die bal is, moet hom te alle tye op die hoek van ‘n driehoek bevind; met ander woorde, daar moet ten minste twee spelers in sy onmiddellike omgewing beskikbaar wees om die bal na toe te kan speel. Anders gaan jy balbesit afstaan so vinnig en maklik soos dit is om ‘n roomys uit ‘n baba se hand te neem … En dan, nog ‘n basiese aspek van taktiese spel wat so dikwels oor die hoof gesien word, is die volgende: deur reguit op ‘n verdedigende speler af te hardloop “ontwrig” jy die verdedigingspatroon helaas nié; jy moet te alle tye skuins hardloop sodat die verdediger gedwing word om ook sywaarts (en uit posisie) te beweeg ten einde jou in jou hardlooplyn te kan stuit. Die bal moet dan dwars aangegee word (indien die verdediger sywaarts beweeg het en daar dus ‘n opening ontstaan het waar hy was) of reguit vorentoe (indien die verdediger nié oorgeskuif het nie). Vandaar die driehoek.

Helaas, baie basies en doodvervelig om na te kyk met ylverspreide momente van briljantheid. En tog – soos tennis, in ‘n mate hipnoties vanweë die feit dat jou oog vasgenael bly op die bal … Hopende, hopende.

Na jou, toe. Uiteraard wemel die internet van sokkergedigte. Vir jou leesplesier plaas ek tog ‘n kortetjie onder aan vanoggend se Nuuswekker.

***

Hierdie week skop af met sommer heelwat nuwe inhoud op die webblad. So is daar ‘n nuwe digstring om te lees; een waarin Kobus Lombard vertel van die ontstaansgeskiedenis van sy gedig “Kameeldoring” uit sy onlangs verskene bundel Vlerke vir my houteend. Aan die blogkant van sake is daar nuwe bydraes deur Chris Coolsma (wat skryf oor katte- en hondemense na aanleiding van vier gedigte deur Billy Collins), Alfred Schaffer (‘n stuk met ‘n sterk ekologiese inslag en ook met heelwat toepaslike gedigte), Desmond Painter (ook oor selfsensuur), Philip de Vos (oor lofgedigte aan die jonge Mozart) en Bernard Odendaal wat ‘n eerste aflewering plaas in ‘n beoogde reeks oor die prosodieë van hoor en sien …

Sommer ‘n hele klomp stewige stukke om jou aan te verlekker.

So, hê pret daarmee.

Mooi bly.

LE

Soccer

Soccer is the game
My life

Soccer gives my fame
it gives my life

Soccer is what make me live
soccer is what makes me give

soccer is the start of it all
soccer is way better than the mall

(c) Courtney Sycowski

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Foxtrot met ‘n ronde bal”

  1. Desmond Painter :

    Dankie, baie nuttig die! Nou is ek beter toegrus om vanaand Spanje te ondersteun…

  2. Bernard Odendaal :

    Desmond, jy moet nog ‘n bietjie verder wes kyk in jou ondersteuning. Die Portugese gaan amok maak. (Het al begin daarmee!)

  3. Desmond :

    Bernard, ja, ek is heeltemal bereid om Portugal te ondersteun! Volgens sommige Europeers begin Afrika mos hoeka suid van die Pireneegebergtes.

  4. Louis :

    Nee, kêrels. Ek’s bereid om my posisie by hierdie webblad op die spel te plaas en ‘n weddenskap aan te gaan dat dit NIE ‘n Europese span is wat vanjaar die ding gaan doen nie. (Miskien die Nederlanders en miskien Portugal – maar steeds “nee”.)
    Die rede hoekom ek dit sê, is dat die Hoëveld-toestande (bal wat meer wip en verder trek) hul ondergang gaan wees. (Dink maar net aan hoeveel doelskoppe tydens dié toernooi al met vreugde bo-oor die dwarsbalk getrek het …) Op dié stadium hanteer die Suid-Amerikaanse spanne dié komplikasies beter. Daarom ook dat NZ Italië tot stilstand kon geskok het.
    Maar nou ja, wedstryde op kusvlak behoort in die guns van Europese spanne te wees … 🙂
    Omrede ek nog altyd eerder die worshond ondersteun as die wolfhond is ek bereid om selfs meer spesifiek te wees en die stelling te waag dat Paraguay miskien nie die toernooi gaan wen nie, maar hulle gaan ‘n hele klomp gróót honde skrikmaak. En ek baseer my standpunt op hul balhantering (uiteraard weens Paraguay se hoogte bo seespieël), balverspreiding, dissipline en die feit dat hulle in die afwesigheid van “groot name” meer vir mekaar speel as vir ‘n individu wie se bankbalans met elke doel ‘n hupstoot kry. (Let ‘n bietjie op die interaksie tussen die spelers – dws die “spangees” – wanneer hulle volgende keer speel. Hierdie manne geniet mekaar, dis nou maar wors.) Net jammer hulle het nie juis noemenswaardige digters om mee te spog nie, nè? In daardie opsig lê my lojaliteit by Chile, alhoewel hulle my op dié stadium die minste beïndruk van die Suid-Amerikaanse spanne.

  5. Desmond Painter :

    Louis, jou meerdere kennis van die spel het my nou amper die aftog laat blaas! Jy moet maar Argentiniee ondersteun: hulle lyk skerp op die veld EN het goeie digters/skrywers! (En speel darem bietjie rugby ook…)

  6. Louis :

    Oeps. Meerdere kennis?! Daartoe sal ek my nie aanmatig nie, Desmond. Veral nie tov sokker nie. Ek het gewoon ‘n praktiese punt probeer uitwys waarmee bepaalde spanne sukkel op die oomblik, want as die bal soveel as 1 duim hoër hop wanneer jy hom in die fynste van fyn hoekies probeer plaas, gaan jy hom skeef tref (selfs so min as 1cm off centre) wat oor ‘n afstand van etlike meter ‘n hele windskewe skop tot gevolg het. Spanne met ‘n geduldige opbou en amper delikate “druk” van die bal verby die doelwagter staan ‘n beter kans as die “groot gebaar” van ‘n langafstand skoot. Dog, twee Europese spanne teen mekaar (of wedstryd op kusvlak, of ‘n waternat veld soos die Portugal-wedstryd waarna Bernard verwys) neutraliseer egter dié faktor. Ook leer ervare en begaafde spelers natuurlik baie vinnig uit hul foute. So, die uitspeelrondtes mag dalk veel meer akkuraatheid tot gevolg hê as wat dit die geval was in hierdie eerste fase.
    Daarom – geen “meerdere kennis”; net praktiese waarneming.
    Maar, kan ek vinnig vertel van my ervaring vanmiddag met Bafana vs Frankryk? Ek moes ons geliefde webmeester op die lughawe gaan haal en ry toe só dat ek darem die wedstryd kan kyk. (Haar vliegtuig het om 17:00 geland.) Nietemin, beland toe voor ‘n TV saam met ongeveer 80 van die lughawe-personeel en wat ‘n fantastiese ervaring! Nou kan ek ook sê: Ek was daar en ek het dit gevoel. Vir ‘n oomblik weer die slotreëls in Elsa Joubert se onvergeetlike “Ons wag op die kaptein” onthou: “Die oë van die wagtendes word verblind deur die stof, sodat swart en wit, vasklouend aan die hek wat tussen hulle is, nie meer weet: hierdie hand is swart en hierdie een is wit nie.”
    Inderdaad, ‘n onvergeetlike ervaring. En ja, ek het my skaamteloos gedra.

  7. Desmond Painter :

    Ai, daardie eerste 20 minute was elektries! (Selfs het ek afgesonderd in my sitkamer gesit…) Ek wil, voor die einde van die toernooi, iets by ‘n “jolkol” gaan kyk.

  8. Desmond :

    Ek kon nie help om vanoggend te gaan kyk hoe daar op die Praag-webblad oor SA se oorwinning oor Frankryk berig word nie (ek belowe, ek sal na dese eers ophou met Praag!). Hulle is so gretig om alles in ras te interpreteer, dat hierdie ‘interpretasies’ van die wedstryd en omstandighede rondom die wedstryd mens seker nie moet verbaas nie. Swart spelers in die Franse span word natuurlik vir die swak Franse vertoning geblameer, en die arme slagoffer is die onskuldige, wit afrigter! Surrealisties by tye.

    “Franse sokkerondersteuners het Dinsdag hul eie span uitgejou, nadat binnegevegte in die Franse span aanhangers laat draai het teen hul eie spelers. Franse sokkerondersteuners, wat reeds ‘n gedeeltelike swart span ondersteun, het met die verloop van die wedstryd, toe Frankryk duidelik begin sukkel het teen Suid-Afrika, Bafana se volle “Afrikaspan” geprys. ‘n Paar duisend mense het by die Eiffel-toring in Parys die wedstryd op ‘n groot skerm gevolg. Franse ondersteuners se rasbewustheid was duidelik sigbaar toe hulle met Florent Malouda se eerste doel hard gejuig het. Toe die wit speler Yoann Gourcuff ‘n rooi kaart gekry het, was hulle ewe in hul noppies. Elke doel van Bafana Bafana is daarna met ‘n luide applous begroet. Dié span se probleme het Saterdag begin toe Nicolas Anelka, een van die swart spelers, die wit afrigter, Raymond Domenech, beledig het en hy uit die span geskors is. Anelka se spanmaats het teen sy skorsing gerebelleer deur Sondag te weier om aan die oefening deel te neem. Die rassespanning was toe reeds duidelik sigbaar.”

  •