Desmond Painter. José Saramago (1922-2010)

José Saramago

José Saramago

“The only miracle we can perform is to go on living, said the woman, to preserve the fragility of life from day to day, as if it were blind and did not know where to go, and perhaps it is like that, perhaps it really does not know, it placed itself in our hands, after giving us intelligence, and this is what we have made of it…”

 

 

Een van die grootste skrywers van die laaste 40 jaar, die Portugees José Saramago, is op Vrydag, 18 Junie 2010, oorlede. Hy was al 87, maar sy dood was nogtans onverwags: hy was steeds baie produktief, en soos Philip Roth het hy van sy beste werk in sy latere jare gelewer. ‘n Jaar gelede was hy nog energiek genoeg om homself as kandidaat vir die Europese Parlement verkiesbaar te stel.

Saramago se bekendste roman is seker Blindness, en met reg: dit is ‘n meesterlike werk, ‘n politieke allegorie soos min ander. Ek het eers laasjaar daarby uitgekom om dit te lees (dit is in 1998 gepubliseer, die jaar waarin hy ook die Nobelprys gewen het), maar dit was die wag werd. Blindness het my wind uitgeslaan, op dieselfde manier as wat Cormac McCarthy se The Road dit gedoen het. Boeke wat die ellende van ons wêreld sonder terugdeinsing in die oë kyk. Wat ons nood dieper loop soek as in die ‘decline of the West’ of ‘n gewaande ‘clash of civilisations’. Wat weier om terug te val op identiteits- en uiteindelik rasgebaseerde ‘oplossings’ vir ons globale probleme. Vir Saramago, niks van die lui, selfbevredigende en skaamtelose terugskarrel na ‘kultuur’, ‘identiteit’ en die ‘eie’ wat soveel van die openbare diskoers in Europa vandag so onverkwiklik maak nie! (En waarby wit politieke opportuniste in SA so graag ideologies aansluiting en legitimering soek: drs. Roodt en Mulder, o.a….)

Saramago was in hart en niere altyd eerstens ‘n Portugees, verlief op die Iberiese streek; en hy was sinies oor die idee van ‘n ‘verenigde’ (politiek-ekonomiese) Europa. Hy het die anti-demokratiese, sentraliserende gevolge van die EU en die slopende maatskaplike resultate van die IMF-logika en neo-liberalisme egter nie as ‘n domastrante neo-nasionalis teengestaan nie (met immigrante en Moslems wat die maklike sondebokke word), maar as ‘n beginselvaste, onberouvolle kommunis — iets wat hom heelwat lesers gekos het, maar wat tog nie los te maak is van die maatskaplike kritiek en visie wat hy in sy romans geartikuleer het nie.

(Nie dat hy ‘n onkritiese kommunis was nie. In 2003, byvoorbeeld, het hy sy jarelange vriendskap met Fidel Castro verbreek, na Castro se hernude onderdrukking van dissidente in Kuba: “Castro cheated my dreams”, was sy kommentaar toe. Tog, dit was as kommunis, nie ten spyte van sy kommunisme nie, wat hy ‘n meester van ‘n soort ‘spekulatiewe fiksie’, ‘n fiksie van die ‘wat indien?’ geword het.)

Vroeër in sy loopbaan het Saramago wel ook gedigte gepubliseer, maar dit was veral as romansier wat hy sy merk gemaak het. In een van sy onlangse novelles, Death at Intervals, het ek ‘n passassie gemerk waarin die hoofkarakter, ‘n tjellis, ‘n stuk musiek eien as sy ‘musikale portret’: ‘assuming such a thing really were possible in music, they would find his protrait not in any cello composition, but in the briefest of chopin etudes, opus twenty-five, number nine, in g flat major. […] in the space of fifty-eight seconds chopin had said all there was to say about someone he could never possibly have met. […] those fifty-eight seconds of music [is] a rhythmical and melodic transposition of every and any human life, be it run-of-the-mill or extraordinary, because of its tragic brevity, its desperate intensity, and also because of that final chord, like an ellipsis left hanging in the air, something yet to be said.’

Ja, selfs 87 jaar vlieg in ‘n oogwink verby. 

Bookmark and Share

14 Kommentare op “Desmond Painter. José Saramago (1922-2010)”

  1. Riet :

    Desmond die roman wat ek egter ongelooflik baie geniet het was ‘All the names’. Die karakter hierin het omtrent behoorlik in my kop ingeklim. Dit gaan gewoon oor ‘n klerk [baie timid, bang, minderwaardig] wat by ‘n buro vir die registrasie van geboortes en sterftes, ens werk, en later obsessioneel begin soek na ‘n onbekende vrou – lees gerus indien jy nog nie daarby kon uitkom nie, en mits jy hou van die ‘anti-hero’. Saramago gebruik ook ‘n interessante vorm van dialoog. Dit vloei alles aaneen, met slegs kommas tussenin.

  2. Hallo Riet. Ek het inderdaad nog nie All the names gelees nie. In Blindness en die ander gebruik hy ook daardie vorm van dialoog, met die kommas so opeengestapelde sinsnedes. Op die oog ag lyk dit of dit moeilik gaan lees, maar dit gee sy prosa tog ‘n soort ritme en op die ou end lees dit lekker.

  3. Ivan Mocke :

    Ek het nog altyd aan Saramago gedink as die hedendaagse Kafka. Hoofsaaklik vanweë “All the names” waarna Riet verwys. Beslis by verre Saramago se beste roman myns insiens. Wat ook interessant is, is dat indien ek dit nie mis het nie, Saramago baie laat in sy lewe begin publiseer het. Sy eerste roman het verskyn in sy laat 50s? Desnieteenstaande het hy die Nobelprys gewen en word hy vandag beskou as een van die werklik grotes van wêreldliteratuur …
    Wat ‘n skrywer.

  4. Desmond :

    Ivan, saramago het in sy 20s ‘n roman gepubliseer, en daarna vir baie jare gedigte en reisverhale. Hy het eers weer in sy 50s, soos jy s^e, in alle erns as romanskrywer ontpop. Hy het dus wel jonk gepubliseer, maar die belangrike werk het later gekom.

    Ek gaan “All the names” sommer hierdie maand lees. Daar is ook een of twee nuwes wat pas in Engels verskyn het, of nog moet verskyn. Hy het in 80s ook ‘n blog begin skryf, nogal, en ‘n keur hieruit is glo ook onlangs in Engels gepubliseer. Dit bevat allerlei observasies, ook politiek van aard: hy het natuurlik die afgelope dekade skerp kritiek op Bush Jr, die Oorlog in Irak, die situasie waarin die Palestyne hulle bevind, ens. gelewer.

  5. Wysneus :
  6. Desmond :

    Die skrywer van daardie opiniestuk maak ‘n groot fout — en ‘n voorspelbare een in ‘n wereld waar so baie mense nog deur die nalatenskap van Koue Oorlogideologie ge-‘dazzle’ word. Daar is geen, geen vergelyking tussen Saramago se kommunisme en Nazisme nie. Om vandag ‘n kommunis te wees beteken nie jy ondersteun die Sowjetmodel of totalitarisme nie; dit beteken ‘n klomp ander goed, soos om ‘n alternatief te soek vir globale, neo-liberale kapitalisme, en om te bly glo aan menslike gelykheid. Dit beteken ook om hoopvol te bly aandring op die moontlikheid van ‘n ander, beter, meer menswaardige toekoms.

    Natuurlik word dit (kommunisme) aangepas en geherformuleer vir nuwe tye. Die tyd dat ‘kommunisme’ ‘n vloekwoord is, is myns insiens verby. Dit is eintlik lagwekkend, die manier waarop veral Amerikaners bly ril vir die Rooi Gevaar. Hierdie skrywer meen iemand kan nie ‘n goeie mens en ‘n kommunis wees nie. Wonder hy ooit, gegee sy land se geskiedenis, of ‘n mens beide goeie mens en Amerikaner kan wees?! Of goeie mens en kapitalis?! (Die rubriekskrywer het ook geen begrip van die rol wat kommuniste gespeel het om fascistiese regerings in plekke soos Portugal, Spanje en Latyns-Amerika teen te staan nie — fascistiese regerings wat sy land dikwels sinies ondersteun het, sonder om dan om te gee oor ‘vryheid’.)

    Die waardes wat van Saramago ‘n kommunis gemaak het is dus, myns insiens, lofwaardig op ‘n manier waarop die waardes wat van iemand ‘n Nazi maak, nooit is of kan wees nie. Verder, Saramago se kommunisme het sy denke en skryfwerk ten diepste beinvloed. Lesers moet maar self besluit of die visie van die mens en die wereld wat uit daardie denke en skryfwerk afgelei kan word, ‘boos’ is, of in enige sin vergelykbaar is met Nazi-‘waardes’.

    Was meer skrywers maar kommunisme — m.a.w., het meer skrywers maar hulle verbeeldings ingespan om ‘n ander toekoms te verbeel!

  7. Desmond :

    NS. Dankie vir die skakel, Wysneus.

  8. Wysneus :

    Desmond,

    Synde hierdie ‘n vers-forum is, moet ons seker daarteen waak om te veel te politiekeer. Nietemin…

    1) Kommunisme en nazisme, fascisme en sosialisme is manifestasies van ‘n kollektivistiese ideologie. Die Nasionale Sosialiste (Nazis) was, skokkend genoeg, sosialiste. Dat fasciste en kommuniste onderling baklei het bewys niks — die NP and die KP was bv. beide rassisties. Ek sou in hierdie verband Jonah Goldberg se Liberal Fascism wou aanbeveel, maar ek vermoed dat dit dalk ‘n aar of twee in jou kop sal bars.

    Die onvermydelike probleem met sulke kollektivisme is wat om te doen met die bliksems wat nie wil saamwerk nie. Dis nou die miljoene wat elke keer uit die weg geruim moet word.

    2) Wat beteken dit om te “glo in menslike gelykheid”? Beteken dit dat almal gelyk is voor die wet? Nee, nie vir ‘n kommunis nie, want dan is almal nie gelyk in hoeveel hulle het nie. Daarom moet ‘n magtige regering gelykmaak, en sy kan dit net doen deur mense (mense!) te inhibeer, terug te hou, rond te skuif, en te ondermyn. Voor ‘n regering iets vir een ou gee moet sy dit eers wegvat by ‘n ander ou.
    Iemand wat Kurt Vonnegut se Harrison Bergeron lees en dink: “ja, wel dit is sy eie skuld”, is iemand met ‘n gebreekte morele kompas.

    3) Wats nouweer boos aan kapitalisme? Kom ons noem dit ekonomiese vryheid, dan klink dit klaar minder boos. (En moenie vir my sê vryheid is ‘n sosiale konstruksie nie, want dan sê ek jy is ‘n sosiale konstruksie.)
    Globaal, ja, want hoekom sou ons mense uit markte wou uitsluit, en dit moeiliker vir hulle maak om ‘n goeie bestaan te voer? Jammer meneer Afrikaan, jy kan nie jou draadgoedjies hier in Amerika verkoop nie — dis net te… te… globaal.
    Neo-liberaal, ja, want vrye mense is meer dinamies, kreatief, energiek en produktief en maak daarom hulleself en ander mense ryker. Dit kan ons nie toelaat nie.

    Daar is alternatiewe vir hierdie bestel, maar nie goeie alternatiewe nie. Fiksie is werklike fiksioneel en die werklikheid is werklik werklik. Moet dus nie ‘n skrywer se fiksionele wêreld verwar met die werklikheid nie. In die werklikheid lei kollektiwisme sonder uitsondering tot menslike lyding en armoede (sien Asië ca1900- ca1990), en ekonomiese vryheid meestal tot groter welvaart (sien Asië ca1990 – vandag). Of groter welvaart ‘n goeie ding is al dan nie kan ons debatteer, maar as daarteen is, moet dan nie sê jy’s vir die armes nie. Byt op jou tande en lees Milton Friedman se On Capitalism and Freedom. Lees dit soos jy Mein Kampf sou lees; om te weet wat die duiwel dink. Ons moet tog oopkop wees, nie waar nie?

    4) Jy sê die waardes wat Saramago ‘n kommunis gemaak het is lofwaardig. Wat is hierdie waardes?
    As jy bekommerd is oor armoede en menslike lyding, dan is die waarde wat dit dryf medemenslikheid, en dan’s ek met jou. Dan kan ons praat oor hoe om dit op te los. Gebaseer op empiriese inligting en die laboratorium van die geskiedenis glo ek dit is juis ekonomiese vryheid.

    As jy egter bekommerd is oor ongelykheid, dan het ons ‘n probleem. As ‘n toekoms waarin almal ryk is, maar party bietjie ryk is, andere matig ryk is, en nog andere fabelagtig ryk is, vir jou ‘n nagmerrie is, dan is jou waardes nie lofwaardig nie. Want dan is die waardes wat jou politiek dryf afguns, jaloesie en nyd.

    En iemand wie se definiërende waardes die anti-tesis van die tiende gebod is (al is dit vikaries), kan nie ‘n goeie mens wees nie.

  9. Desmond :

    Wysneus, die letterkunde is nooit sonder politieke verbeelding nie, so hierdie gesprek is wel relevant vir hierdie webblad. Nou moet ek eers huiswaarts keer, maar ek antwoord op al die punte, asap.

    (En natuurlik is “ek” ‘n sosiale konstruksie; wat dan anders?!)

  10. Louis :

    Desmond, Meanderkrant het ‘n onderhoud wat in 1994 met Saramago gevoer was, uit hul argiewe opgediep en weer geplaas. Dit was nog vóór sy roem en Nobelprys. Gaan kyk gerus by: http://meandermagazine.net/wp/2010/06/jose-saramago-1922-2010/

  11. Desmond :

    Louis, dankie. Sal gaan kyk. Het intussen All The Names gekoop — hoeka by jou boekwinkel.

  12. Luis Lazaro Tijerina :

    THE FUNERAL OF JOSÉ SARAMAGO

    Now dead, your hero, Ricardo Reis,
    came visiting with his friend, the great poet, Pessoa,
    to pay respect to you in the City Hall of Lisbon.
    You,lying still in a coffin, with your reading glasses
    perched on your beautiful chiseled face
    and two red carnations on the bier.
    The ghosts of your greatest characters
    were the first to welcome you.
    On the day of your funeral it did not rain in Lisbon.
    In your birthplace of Azinhaga,
    there were those who mourned for you
    while they ate bean soup or their soup of cowpea,
    dreaming perhaps of the Christmas biscuits
    they would devour in December,
    not realizing that when you were a boy
    living on the right bank of the River Almonda,
    you made do with simple bread and watery soup.

    On the day of your funeral it did not rain in Lisbon.
    Lovely women surrounded your casket.
    Pilar de Rio, your wife, was there to give you comfort
    amid all the adulations you could not hear.
    The people of Portugal also came, their fists
    clenched with militant hope…
    They saw your ashes scattered at Azinhaga
    and at Tiaz on the island of Lanzarote,
    where you last wrote…

    On the day of your funeral I heard thunder
    where the sea begins, where the earth
    honors its timeless heroes.

    Luis Lázaro Tijerina
    Burlington, Vermont

  13. Pieter Wolmarans :

    A truly great poem for a truly great author! Thank you, Luis.

  14. Desmond Painter :

    Luis, I have to echo what Pieter said above. Thank you for this contribution. It is a beautiful poem.

  •