As kind het ek verskriklike nagmerries gekry. Soms het my broers en susters wakker geword as ek gil in die nag.
ʼn Rukkie gelede kry ek ʼn ou kopie van die Kleuterverseboek in die hande. Die versameling gediggies is deur DJ Opperman saamgestel en in 1957 uitgegee. Ek vind ʼn hele paar gunstelinge, veral “Bang” wat handel oor ʼn seuntjie wat allenig bed toe moes gaan en dan skrik vir sy eie jas “wat aan die kapstok hang.”
Toe kom ek op die gedig “Haasbekkies” af en kyk na die volgende prent langs die gedig:
Dis op die bladsy net voor “Bang”.
Ek wonder of die uitgewers nie dalk ʼn bose genot daaruit geput het om kinders met sulke prente te konfronteer nie. Wie sal nie nagmerries as kleuter kry as hy of sy na hierdie evil kindertjies se gesiggies moet kyk nie? Die enetjie wat reg voor staan lyk soos die Bride of Chucky. Dis soos iets reguit vanaf die ontwerptafels van ʼn Hollywood riller!
Ek wonder wat Melanie Klein hieroor sou sê.
So gepraat van politieke korrektheid en wandade teen kinders: Ek het toe ook redes vir moontlike anti-Semitisme in die gedig “Janke Melanke” gevind, en as iemand al ooit gewonder het oor die oorsprong van wit rassisme, lees gerus die gedig oor die “Tien Masbiekertjies”, asook “Bimbamboela” (wat reeds deur DJ Opperman verander is, waarskynlik om dit meer politiek korrek vir die tyd te maak – darem met die toestemming van AD Keet). Om van geslagsrolle uit die vyftigers nie eers te praat nie!
Geen wonder geslagte Afrikaners was effe getraumatiseerd nie, my geslag inkluis.
Ek is op soek na die gediggie “Haasbekkies”, kan iemand my dalk sê waar ek dit in die hande kan kry?
En ek is dit heeltemal eens met jou en Andries, Desmond. Die punt is dat die digkuns ‘n vangnet is wat sóveel verskillende aspekte van ons menswees opvang: musiek, ander tekste, films, masjinerie soos ludrukbore, byvoorbeeld. En ja, selfs die politiek. Boonop bestaan daar in ons land soveel uiteenlopende realiteite; dit is daarom vanselfsprekend dat ook dié teenstrydige beskouings in ons digkuns (en ook op hierdie webblad) gereflekteer sal word. En as sulks is dit reg en goed. Mits dit natuurlik nié die waarborg wat deur die kolofon hier regs ingegee ingegee word, oorskrei nie.
Vir julle het ek opregte waardering.
Daarom – dankie vir jul insette en bydraes en gaan asseblief voort deur julle menings uit te spreek. Ook dít het ons nodig soos ‘n beker kookwater sy lepel opgehoopte koffie.
My storie oor die drie emmers was nié as teregwysing bedoel nie. Inteendeel. Sien dit eerder as ‘n waarborg. 🙂
Mooi bly.
Louis
Louis, ek dink soms dat in sekere kontekste “aanvaarding” nie ‘n opsie is nie. Natuurlik kan ‘n mens verstaan waarom iemand dink soos hulle dink; en natuurlik hoef ‘n mens ‘n persoon nie te veroordeel of te verwerp nie. Self is persoonlike vyandskappe maar vir my moeilik om vol te hou. Ek is ‘n baie onsuksesvolle vyand! My intervensies hierdie week oor die PK kwessie was waarskynlik almal te impulsief, want ek raak kwaad en bekommerd wanneer ek sekere soort goed lees. Na die tyd wens ek ek het langer gehuiwer. Aan die ander kant, mense soos Dan Roodt gebruik taal (en Afrikaans) doelbewus en sinies om te beledig en te verkleineer, en soms is dit moeilik om nie terug te slaan nie. Maar nou ja, eintlik wil ek hier meeste van die tyd ook maar net oor gedigte praat…
Louis, ek staan nie op een of ander morele podium (of emmer) nie. Maar ons lewe ook nie in ‘n morele vakuum nie, gegewe die aard en geskiedenis van ons taalfamilie. Ek hoop die hoop beskaam nie.
Andries, graag reageer ek op jou slotopmerking aangesien dit vir my en Marlise eweneens ‘n bekommernis is. Die gesprekke oor PK elders op die webblad herinner my aan iets wat iemand lank, lank gelede aan my vertel het. Dit is waarskynlik die enkele insig wat sedertdien my ganse lewe beïnvloed en gerig het. Dis ‘n baie eenvoudige storie. Die een van drie emmers water.
Dit werk soos volg: Jy vat drie emmers water. In die een gooi jy koue water, in ‘n ander warm water en in ‘n derde lou water. Jy kry twee persone. Die een druk ‘n arm in die emmer koue water en die ander een ‘n arm in die warm water. Op ‘n gegewe moment moet elkeen hul ander arm in die lou water druk en sê of die water warm of koud is. Die een met sy arm in die koue water gaan sê dis warm, terwyl die een met sy arm in die warm water gaan sê dis koud.
En tog is dit dieselfde emmer water …
Die punt is: dit help nie om oor teenstrydige standpunte te argumenteer nie. Dis belangriker om te probeer verstaan hóékom daar ‘n verskil is. Watter verwysingspunte is hier ter sprake? En deur begrip kom dikwels aanvaarding.
Sedertdien was dit vir my moeilik om in argumente (of absolutistiese standpunte) deel te neem. Of om mense weens hul oortuigings te veroordeel. Al vind ek dit na alle waarskynlikheid op persoonlike vlak hóé verwerplik.
Maar nee, dat hierdie webblad deur die een of ander instansie “gekaap” sal word, is nié ‘n moontlikheid nie, aangesien ons fokus primêr die digkuns is en wat ook al daarmee verband mag hou.
Ten slotte, ietsie om aan te kou; ‘n aanhaling uit Paul Auster se meesterlike nuwe roman (“Sunset Park”) wat helaas nog nie in SA vrygestel is nie: “Hope endures, then, but not certainty.”
Ons leef nie in veilige tye nie. Ook nie in tye van sekerheid nie.
Karelsen-op-die-dak! Ek het dit onlangs weer gelees, dit is werklik briljant. Hy is een van my gunsteling karakters ooit. Wens ek kon soos hy wees…
Marlise, ek skat dis nie toeval dat baie van ons beste skrywers uit die Karoo kom nie, waar stories deur ware mense om die vuur in die aand vertel is.
Philip, in my dae was dit Batman (wonderlike, donker art deco tekeninge), Spiderman en dies meer. Ook Hulk. Ek is ook dankbaar vir al die wonderlike Sweedse kinderverhale wat in Afrikaans vertaal is – Emile, Pippie Langkous, Albert, Karelsen, Agaton Sax. Ek het onlangs vir die pret weer “Agaton Sax en die geslepe diamantdiewe” gelees. Met daardie wonderlike boeke het ek geleer om lees te geniet. Daar was ook natuurlik Asterix en Kuifie (die een oor Kuifie in die Kongo het selfs ons in Suid-Afrika nooit kon lees nie).
Desmond, oor politieke korrektheid: Ek stem met jou saam. Gegewe die doodsdreigente wat ek elke nu en dan ontvang, sukkel ek om ‘n geteem oor politieke korrektheid ernstig op te neem. Ek het ook al gesien hoe wonderlike webwerwe deur wit rassiste, gewoonlik in die naam van Afrikaans, gekaap word. Ek hoop dat dit nie Versindaba se voorland is nie.
Julle weet net nie hoe scary was die Cheshire cat wat elke aand grynsend en afkop in die hoek van my kamer bly hang het nadat my ma die lig afgesit het nie! En in my kopie van Grimm sprokies was daar ‘n bleek dooie dogtertjie wat geluidloos in die deur van ‘n boshut verskyn het uit die koue. Ek het haar wragtag jare later weer gesien – in The Shining van Kubrick! Verder was daar die vreesaanjaende Siklops: ‘n monsteragtige potloodskets wat meegeding het met Medusa in my nagmerries. Ek het by die bure Rakkertjie Rob gaan lees vir comic relief. Die Kinderbybel self was nogal ‘n surreal ervaring, hoor – daai riller van ‘n druiwetros onthou ek goed, maar is Kanaan nie ook die land van reuse genoem nie, of verloor ek nou die “plot” hier? Ek onthou net dat selfs Kanaan maar onveilig geklink het vir ‘n kaalvoetkind in Klas Twee.
‘n Groot plesier van my laerskooljare was die Classic Comics. Comics soos Oliver Twist en The Odyssey en een met ‘n vreemde titel: Les Miserables. Ek het dit op Engels probeer uitspreek en het geen idee gehad waarom dié boek met so ‘n vreemde titel belaai is nie. Dan was die Little Lulu-comics met al die wonderlike karakters soos Lulu en Tubby en Gloria en my gunsteling – die bose Witch Hazel. Saterdae-oggende het kinders comics uitgeruil by die Plaza Bioskoop in Bloemfontein, maar op my eie Lulu comics was ek té heilig om ooit aan so iets te dink. Toe gebeur die ramp der rampe. My oom Paul leen my comics en ‘n week later kom hy terug met Casper the Ghost, want hy het ál my Little Lulu-comics agter my rug gaan omruil. Tot die dag van sy dood, ‘n paar jaar gelede het ek hom dit nooit vergewe nie.
So erg was dit, dat ek byna elke drie maande gedroom het dat al my Little Lulus weer terug is en om op 60 so-iets te moes droom, wys net watter groot ramp dit was.
En toe gebeur die wonder: Sedert 2005 het Dark Horse Books in Amerika begin met heruitgawes van elke Little Lulu wat ooit gepubliseer is. Nou staan daar alweer 25 volumes op my rak, elk met meer as 200 bladsye. En dit is nog glad nie die einde van die reeks nie. Hemels!
Marlise, ek het weer om een of ander rede nooit comics besit of gelees nie. k het eenkeer ‘n Ruiter in Swart fotoverhaal gekoop, maar ook net een keer… Ek onthou, toe ek baie klein was, het my ouer neefs bokse comics gehad — maar hulle was te heilig daarop om my toe laat om dit te lees wanneer ons vakansies by hulle tuisgegaan het! Die ‘kinderboek’ wat ek die beste onthou is my Kinderbybel, veral die foto van die reuse tros druiwe wat die verspieders teruggebring het. So ‘n lieflike pers tros druiwe wat twee manne moes dra!!
Interessant vir my dat Desmond & Andries sulke goeie geheue het en hulle kinderboeke selfs kan onthou. Ek het grootgeword sonder kinderboeke. Was daar kinderboeke van 1945 tot 1950/55? Seker hier en daar. Nietemin, sonder kinderboeke het ek darem wel ‘n reuse verbeelding ontwikkel en dikwels my eie stories opgemaak. Ek kan ook onthou dat my ma en pa saans vir my stories vertel het voor slaaptyd en soms in aflewerings dat ek skaars kon wag tot slaaptyd die volgende dag. Die gewone stories van Rooikappie en die Wolf, Hansie & Grietjie ens. ens. En later sulke bangmaak spookstories, speurverhale & liefdesverhale. Ek was pas 5 jaar oud toe ek skooltoe is en ek kan die eerste leesboeke darem onthou soos Boet en Sus. In die later jare onthou ek veral jeugboeke soos die Saartjies en Trompies, Maasdorp reeks, Langenhoven se verhale, ens. wat ons by die dorpsbiblioteek geleen het. Maar kinderboeke? Nie ‘n enkele een nie. Ek het wel ‘n tas vol comics gehad later waarop ek heilig was, Little Lulu, Lotta, Richie Rich ens. ens. Ek kan egter nie onthou waar ek hieraan gekom het nie? Miskien is daar nou al te veel roes in die geheue…
Dis erg — maar ek dink Melanie Klein was ook ‘n Bride of Chucky!
Ek was weer getraumatiseerd deur daardie hartseer pop met die blou rokkie aan en ‘n spaarbussie in die arm wat mens altyd (falk steeds?) in winkels gesien het. Ek dink sy was daar ten bate van poliolyers. (Polio was die bangmaaksiekte van my jeug!) Toe ek so ongeveer haar lengte was, het sy erg by my gespook. Ek kon nie regtig sin maak van soveel ‘misery’ nie (eers later sou ek, soos Tom Waits, uitvind ‘misery is the river of the world’…)
Die kwessie van ouer tekste en politieke korrektheid is interessant. Sekere veranderinge kan die teks heeltemal bloedloos en ahistories maak; ‘n soort terugdeins van die geskiedenis en die aanneem van maklike, generiese retoriese oplossings. Aan die ander kant, voel ek, is daar darem regtig goed waaraan ‘n mens jong lesers nie meer wil blootstel nie. Selfs nie in die naam van historiese korrektheid nie, om dit nou so te noem.
Laat ek dit so stel: soms is hoflikheid, of ‘civiliy’, wel ‘n deug; selfs in die letterkunde! Alle ‘hersiening’ is nie politieke korrektheid nie. Of dalk: nie alle politieke korrektheid is te versmaai nie. Of hoe dink jy?
Wat maak sekere goed in hierdie opsig aanvaarbaarder as ander? Houellebecq se romans is ver van politiek korrek. Tog is hulle noodsaaklik en by tye briljant. Hulle dwing mens om die cliche-matige van ons alledaagse persepsies en so aan te bevraagteken. (Selfde Anton Kannemeyer se briljante nuwe boek.) Maar wanneer ek die fout maak om op Praag te lees voel ek dikwels net ontstig; asof die slegste, mees ‘outdated’ cliches net bestendig word.
Miskien is dit die probleem. Net omdat daardie soort nasionalistiese, soms rassistiese omgaan met taal nou minder sentraal is in die openbare diskoers, maak hulle nie minder cliche-agtig nie. Hulle is nie uitdagend nie. Hulle is nie slim nie en dwing ‘n mens nie om nuut en vars te dink oor die wereld nie. Hulle hardvogtigheid herinner ‘n mens eerder net aan slegte tye. Die dom herhaling van ‘n obessiewe kompulsie. As om te weier om so te praat PK is, wel dan, so be it.
(Goeie skrywers darem: dink aan Winterbach se uitbeelding van die swart polisieman in Toeval en Toeverlaat. ‘n Mindere skrywer kon in die slaggat van maklike stereotipering getrap het. Winterbach doen iets heeltemal anders, en beter.)