Onlangs het ek twee voorregte gehad: om ’n besonderse digter, Antonio Gamoneda, van Spanje te hoor voorlees en om sy Nederlandse vertaler Bart Vonck te ontmoet.
Bart het ek aan huis van my vriende Piere-Marie en Suzanne Finkelstein in Brussel ontmoet. Pierre-Marie is die pryswennende vertaler in Frans van Karel Schoeman. Hy en Bart het ooglopend veel in gemeen.
Bart Vonck het jare gelede ’n versameling vertalings van Cesar Vallejo in Nederlands die lig laat sien. Net soos Vallejo, is Gamoneda ’n baie metafisiese digter, maar veel makliker om te vertaal as die vermaarde en uiters eiesinnige Peruaanse meester. Laasgenoemde is bekend vir neologismes gebaseer op streekstaal.
Ek self het my hand al aan menige “vertaling” van Vallejo uit Spaans (via Engelse intertekste) in Afrikaans gewaag. (Daar verskyn twee van hulle op Versindaba.) Ek sal die manuskrip binnnekort hersien – en vir publikasie voorlê. Dis omskrywings, nie regstreekse vertalings nie (wat my netnou sal bring by die onderwerp van hierdie bloginskrywing).
Ek dink die tyd is nou ryp vir so ’n publikasie. Hoewel hierdie manuskrip vertalings van my, voorsien van aantekeninge, al in 1994 gedoen is dink ek nie daar het tot nou toe in Afrikaans ’n mark daarvoor bestaan nie. Ek het dit dus nog nooit voorgelê nie. Ons poësie was gewoon nog te onblootgestel aan sekere strominge om sulke “vreemdsoortige” digkuns te assimileer. Desondanks moet ek byvoeg dat Tydskrif vir Letterkunde al in 1993 van hierdie vertalings gepubliseer het, en enkele lesers my persoonlik bedank het. (Ons was nog altyd vóór, sowel as bietjie agter …)
Vonck het Gamoneda uitmuntend vertaal in twee gepubliseerde werke, Boek van de kou (2005) en Brandend verlies (2009). Hóé uitnemend, het duidelik geblyk toe Gamoneda onlangs voorgedra het by die Felix-fees te Antwerpen. Die Nederlandse sowel as Engelse vertalings het oorhoofs uit ‘n projektor verskyn, en laasgenoemde vertalings was maar uiters vaal langs die Nederlands.
Maar nou wil ek ’n voorbeeld van Vonck se vertalings aanhaal wat myns insiens enigsins verbeterbaar is.
Vonck vertaal redelik nougeset. En ek reken dat ’n getroue vertaling van die gedig ter sprake slegs sou kon plaasvind in oorsetting, nie vertaling nie. Dit wil sê, deur ’n interpretatiewe – nie regstreekse – vertaling.
Ek wil dus twee modusse van vertaling teenoor mekaar afspeel. Maar slegs met spesifieke verwysing na die onderhawige gedig en soortgelyke gevalle. Ek wil dus nie ’n algemeen geldende punt maak nie.
Afrikaans beskik terloops oor een van die wêreld se meer suksesvolle oorsetters (’n vertaler wat met oorsetting as modus werk): Uys Krige. Daar bestaan dus ’n baie oortuigende presedent vir hierdie soort vertaling in ons taal.
Hier volg ’n gedig van Gamoneda in Spaans:
Entra otra vez en las alcobas blancas.
Grandes son las jarras de la tristeza en las manos mortales.
Entra otra vez en las alcobas blancas.
Die Nederlands lui:
Loop nog eens binnen in de witte alkoven.
Groot zijn de kruiken van de droefheid in de sterfelijke handen.
Loop nog eens binnen de witten alkoven.
Dis ’n goeie vertaling maar vir die metafisiese betekenis om werklik oor te kom moet “witte” sowel as “sterfelijke” eintlik in die eindposisies staan ten einde ’n voldonge konseptuele spanning met mekaar te vorm, soos dit is in die Spaans. Maar dis haas onmoontlik om dit so te kry, as jy nie woorde byvoeg en verander nie …
Só sou ek dit in Afrikaans wou sien:
Loop weer die wit alkowe binne, hul witheid.
Swaar is die droewe kruike in sterflike hande, so sterflik.
Loop weer die wit alkowe binne, hul witheid.
Wat is die “wit alkowe”? Dit lyk vir my na gewelfde graftombes (wat die uitwissing van bewussyn suggereer) maar terselfdertyd ook na nisse in ’n Roomse kerk of katedraal (om by te kniel en te besin of te bid, dus die voltrekking van bewussyn).
Die “trick” is om die volgende konnotasie te verkry: dat die lewe en die sterflikheid ewe “blanko” is. En dit kan nie in ’n volledig getroue vertaling weergegee word nie, myns insiens. Nie in Nederlands of Afrikaans nie.
Miskien het lesers ander idees hieroor?
Dankie, Gerhard! ‘n Voetnota op my skrywe hierbo. Krige het in sy bundel vertalings Spaans-Amerikaanse keuse twee of drie vertalings uit Vallejo opgeneem. Dis egter van Vallejo se meer toeganklike (vir ons) verse. Sedert daardie bundel verskyn het, het die Romaanse tradisie in die Afrikaanse digkuns nie sterker geword nie, en buiten vir Breytenbach en enkele ander opflikkeringe, het dit (beskou tot en met die einde van die tagtigs) in profiel verswak. Die teenwpoordigheid daarvan was dus nie deursoutend van aard nie, maar ‘n eiland in eie midde. In dieselfde tydperk wat hierdie verswakking plaasgevind het, het die Nederlandse digkuns ‘n geweldige vernuwing ondergaan, nie die minste nie deur invloede uit die Romaanse en die Oos-Europese sfeer te inkorporeer en verbintenisse daarmee aan te gaan. Dis in elk geval hoe dit op geleentheid aan my verduidelik is deur die Nederlandse digter K. Michel. Presies hoe die Dietse/Engelse erfenis homself versterk het ten koste van ander invloede, in ‘n taal wat fundamenteel nie eenvormig is in samestelling en ontstaan, blyk uit iets soos die volgende: Dat T.T. Cloete deur die literere teoretikus Hein Viljoen in ‘n proefskrif as ‘n simbolis beskryf word. As Cloete ‘n simbolis is, is hy beslis NIE ‘n simbolis in terme van die Romaanse erfenis van digkuns lees en verstaan nie. Dit, terwyl die begrip simbolisme ‘n begrip uit die Romaanse tradisie is!
Welkom terug, Charl-Pierre! Ons het jou gemis op die webblad. En veels geluk ook vir jou en Nicky …
Dankie, Desmond. Maar eers is dit hef aan. Ek wil darem seker weer maak dat my pogings iets werd is. ‘n Bottel rooi elke aand vir ‘n maand sal die ding doen, seker. 🙂
Laat kom daai bundel omskrywings, Charl-Pierre, jy het al een koper…