Ek moes by die herlees van Totius se Passieblomme en by die bespreking van “Aandete” daaruit ’n paar keer dink aan Robert Frost se aangrypende “Home burial” (uit: North of Boston, 1914).
Hoewel die Frost-gedig twintig jaar vroeër as die Totius-verse die lig gesien het, is daar geen getuienis wat ek kon opspoor dat Totius “Home burial” geken het toe hy aan Passieblomme gewerk het nie. Luidens sy verklaring voorin die bundel het hy die meeste van dié verse in die vroeë negentien-twintigerjare geskryf, voordat hy hulle in 1934 in bundelverband gepubliseer het. (Enkele van hulle is vroeër opgeneem in bloemlesings en tydskrifte.)
Die Nederlandse lykdigte van byvoorbeeld Joost van den Vondel sou hy egter wel geken het.
“Home burial” is ’n te lang gedig vir my om hier oor te tik. Hoewel nie streng outobiografies nie, kan die ontstaan daarvan tog gekoppel word aan die voorval toe sy eersgeborene op drie-en-’n-halfjarige ouderdom aan buiktifus dood is. Sy vrou, Elinor, kon haar droefheid hieroor nooit heeltemal verwerk nie, en het Frost eintlik verwyt dat hy nie betyds doktershulp ontbied het om die seun dalk te red nie.
Alex Calder (in ’n hoofstuk oor North of Boston in Neil Roberts se A companion to twentieth century poetry, Blackwell Publishing, 2001/2003) skryf insiggewend oor die gedig. (Hoofsaaklik aan die hand van wat hy “a virtuoso close reading” deur Joseph Brodsky noem.) Die gedig gaan oor “the distressingly different ways” waarop ouers op so ’n verlies reageer. “In the poem, she goes quiet, he copes; he wants to penetrate her envelope of silence, she feels he is too brutish to be let in. Every line eleborates the double-binds and tightens the drama another notch.”
Anders as die geval in “Aandete”, gaan dit nie in “Home burial” om die rouende huwelikspaar se onvermoë om daaroor te kommunikeer nie (“reeling from the unnameable”), maar beeld dit “a tragedy of communication” uit waarin elkeen probeer om sy of haar begrip van die saak by die ander een tuis te bring – waarin elkeen woorde het “to bludgeon the other”. Brodsky konkludeer: “This is a poem about language’s terrifying success, for language, in the final analysis, is alien to the sentiments it articulates.”
Vandaar dat dit gepas is dat “Home burial” ’n lang, narratiewe, ‘praterige’ gedig is met oorwegend langerige versreëls en strofes, sodat die wit in hierdie gedig veel minder opval as in Totius se “Aandete”, met sy voelbaarmaking van die swye en gemis van die treurende ouerpaar.
Inderdaad is “Home burial” eerder soos ’n drama gekonsipieer, en bestaan 80-90% daarvan uit dialoog tussen man en vrou. Dit eindig soos volg (met die vrou wat eerste praat):
“You – oh, you think the talk is all. I must go –
Somewhere out of this house. How can I make you –“
“If – you – do!” She was opening the door wider.
“Where do you mean to go? First tell me that.
I’ll follow and bring you back by force. I will! –“
Ten spyte van sy verklaarde behoefte om begrip vir haar onstelpbare droefheid te vind, het hy tog geen wesenlike simpatie daarmee nie. Wóórde en óptrede sal heel, glo hy.
In ’n stadium vroeër in die gedig verwyt hy haar:
“What was it brought you up to think it the thing
To take your mother-loss of a first child
So inconsolably – in the face of love.”
Hierteenoor erken Totius in die openingsgedig van Passieblomme:
My vrou, jy’t meer verloor as ek;
want wat kan nouer, vaster trek,
en wat is teerder as
die windsel wat ’n moeder bind
aan wat haar weer-self is, haar kind?
Swye is soms tóg ’n gepaste reaksie.
Mooi een, Bernard. Ek het inderhaas my Frost “Selected Poems” op die rak gaan soek (ek sien ek het tweedehands net R2 daarvoor betaal…) en Home Burial gaan lees. Briljant.