Ons sien in hedendaagse Suid-Afrika baie argumente waarin taalbeskerming en identiteit met mekaar gekoppel word. Die twee begrippe word aangebied asof hulle noodlottig en onlosmaakbaar met mekaar verbind is.
Dis nie noodwendig verkeerd om identiteit – wat in terme van aanvaarde menseregte kan aanspraak maak op beskerming – te verbind met taalregte en taalbeskerming nie. Die twee sake kan wel hand in hand gaan.
Maar sentimente rondom kulturele identiteit het eweneens ’n groot potensiaal om ’n taal wat met daardie identiteit verbind word, te bedreig, te ondergawe en selfs op kulturele vlak te vernietig.
Die waarheid is dat kulturele identiteit ’n gemene deler is. In teenstelling, werk taal oplaas – wanneer die koskas vol en die kulturele oorlewing relatief beveilig is – in die rigting van verfyning en uitstyging. Wanneer taal daardie punt bereik waar sy ter wille van haarself kan bestaan en dit waarna sy heenwys, nie slegs ter wille van haar sprekers se basiese behoefte aan gemeensaamheid nie, is sy in daadwerkike opsigte nié ‘n gemene deler maar ’n onderskeier, ’n room-áfskeier pleks van ’n bindmiddel, ’n diskrimineerder, ’n meedoënlose atoomsplyter, ja inderdaad: ’n beiteltjie! En beiteltjie-wees (om Van Wyk Louw by te haal) beteken nié ’n gelykmaker, nie ’n strykyster, nie ’n koekroller of ‘n pletter van staalplate nie.
Die taal en die letterkunde en veral die poësie mag wel ja sê vir die swakkeres, by uitstek, maar dit sê nie ja vir die domastrantes nie. Nee wat: Laat húlle en hul driewiele maar “des moers brand”, soos Breyten destyds oor apartheid-Pretoria geskryf het. (In aanhalingstekens, natuurlik.)
Hoe dikwels moes ons nou al die tam “argument” aanhoor oor watse volksveraaiers en elitiste sekere resensente is “omdat hulle woorde gebruik wat Jan Alleman nie kan verstaan nie”. Hierdie kleinsielige “demokratiese” debat het selfs die bladsye van Versindaba bereik.
’n Ruk gelede het die nuwe boekeredakteur van Rapport laat weet wat haar etos is: om toeganklike resensies oor toeganklike boeke te plaas. Dit klink lofwaardig. Maar daar is ook ‘n gevaar hierin. Presies hoe toeganklik?
Dit is nie ongewoon onder Afrikaanse mense om ’n taalgenoot wat behoorlike taal gebruik toe te snou met: “Praat Afrikaans, jong, laat ons almal kan verstaan.” Mens hoor dit heel dikwels.
Dis ’n dus mistasting om te dink dat die identiteitstryders of sentimentmakers rondom taal noodwendig omgee vir Afrikaans. Nee, waarvoor hulle in werklikheid omgee, is dit wat gemeen is. Dit wat seil op die grond. Dit wat genoeg lyk op hulle. Hulle gee vir huself om.
“Gemeen” het nie verniet twee verskillende betekenisse nie. Mens kan so gemeen wees dat jy jou eie regterarm afsny.
Jy is heeltemal reg, Wysneus. Ek dink my stelswyse was bietjie verwarrend wat betref “kunslose politici”. Ek het met “kunsloos” probeer verwys na politici wat die kuns om etiek in politiek te vertaal, minag. Hitler was beslis ‘n politikus wat die kuns van konflikpolitiek goed bedryf het, maar dit is myns insiens moeiliker om die morele te inkorporeer en die speelveld van die etiese te betree.
Napoleon was ‘n briljante administrateur, volgens historici, en Hitler het blykbaar ‘n uitstekende sin vir ontwerp gehad, soos jy uitwys. – Heavy metal bands speel soms die mooiste ballades. 🙂
Wysneus het ‘n punt beet hier: die fascisme, byvoorbeeld, behels by uitstek ‘n soort ‘verestitisering’ van die politiek, kompleet met kostuums, dramatisering, seremonialiteit, ens. ens. Ek dink wel nie dit behels ‘n erotisering soos Charl-Pierre hier na verwys nie. Dit is ‘n interessante gedagte, daardie een. JM Coetzee, in ‘n bespreking van die werk van Geoff Cronje, skryf mos hoeka dat die groot vrees vir ‘gemengde’ verhoudings onder apartheid ‘n poging was om begeerte hok te slaan, en die ‘social body’ op ‘n manier te de-erotiseer…
Charl-Pierre, ek wonder of dit waar is dat kunslose politici (waarvan daar baie is) gevaarliker is. Hitler was natuurlik ‘n kunstenaar. Het jy al gesien hoe die Volla gelyk het voor Hitler vir Ferdinand Porsche gesê het om die rondings ronder en die oë groter te maak? Ook grafiese kunstenaar — vandaar die Nazi’s se ‘stunning’ uniforms en simbole. Ek gebruik die woord ‘stunning’ uitdruklik omdat ek vermoed Adolf het geworstel met sy onderdrukte homoseksualiteit. Net ‘n teorie.
Aangaande taaldiversiteit, iemand (ek behoort te weet wie) het mos gesê taal is ‘n denk-ruim. As dit so is dan sou die mensdom sy kumulatiewe denk-kapasiteit inperk deur slegs Esperanto (of Engels) te praat.
Hallo Desmond,dankie vir jou opmerkings. Ja, die verband tussen die estetiese en die politieke … Nietzsche beskryf die politieke en selfs die etiese as ‘n vorm van estetika, as “kuns”, wat dit ook is. Die kuns van politiek … Die kunsloses onder politici, dis hulle wat gevaarlik is. Die punt oor taal – en die ONonderhandelbare – vertrekpunt is: veelvoud van tale dra by tot die erotisiering van die mensdom en kultuur. Dink aan die wereld met alle vroue of mans wat presies dieselfde lyk: vervelig, of, minstens: uitputbaar. Dink aan ‘n wereld met net een taal. ‘n Veelvoud van tale beskerm beide die wetenskaplike (ook maar ‘n verbeeldingsvorm en dus estetika) sowel as erotiese voortbestaan van die mensdom – en veelvoud verrig daardie kardinale taak op ‘n veelvoud van maniere.
Identiteitspele is eintlik bekommerd oor die identiteit en die gemak van ‘n minderheid, altyd ‘n minderheid, hoe minder hoe beter. (Dis nie altyd die geval nie, en soms moet mens jou identiteit beskerm, veral as dit ‘n minderheidsidentieteit is.)
Weet jy, solank daardie punt van die resensent in Rapport baie bondig en ondergeskik binne resensieverband voorkom, moet mens dit dalk verskoon. Ek sal as skrywer dit haat as ‘n resensent so iets oor my werk skryf, maar in hierdie tye van hartelose blootstelling van veral minderjariges aan geweld en pornografie, kan mens dit verstaan dat ‘n resensent so ‘n punt maak. Of raak ek nou gekoopteer? 🙂
Baie goeie stuk, Charl-Pierre. Die saak vir taalbeskerming en taalbemagtiging kan wel (en dalk veral) konsekwent geartikuleer word buite die paradigma van ‘n identiteitspolitiek. Dit is jammer so min “linkse” politieke teoretici internasionaal maak erns met taal en taalpolitiek; dikwels word taalkwessies of geignoreer (die monotalige omgewing word as vanselfsprekend aanvaar) of bloot beskou (en dan verwerp) as “kultuurpolitiek”. Daar is natuurlik uitsonderings, teoretici wat taal as meer sien as bloot die medium van “onsheid”, om dit nou so te stel. Maar miskien is dit die bydrae wat Suid-Afrikaanse denkers en skrywers kan maak; om taal volledig deel te maak van die debatte oor globalisering, transnasionele beweging, burgerskap, ens., sonder dat taal noodwendig net die karweier word vir identiteitspolitieke en ander eiesake.
Ook: Die “gemeenheid” van taal en taalregimes (as ek saam met jou met die dubbele betekenisse van hierdie woorde kan speel…) in baie kontekste is natuurlik juis dat dit, a la Bourdieu, ander mense, minderhede, gemarginaliseerdes, se kapasiteit vir “onderskeiding” (maatskaplik, ekonomies, kultureel) in die wiele ry. So mens kan produktief met jou woorde hierbo speel!
Jou stuk raak natuurlik ook aan iets anders: die verband tussen die estetiese en die politieke. Dis ‘n moeilike een; maar ook interessant.
Laaste opmerking: ek lees Sondag in Rapport Boeke ‘n resensie van Jeanne Goosen se nuwe kortverhaalbundel, waarin die resensent sensitiewe lesers aanraai om twee van die verhale liewer oor te slaan. Dit was ‘n positiewe resensie, maar as ek ‘n skrywer was sou ek nooit so ‘n reaksie op my boek wou lees nie. Dan eerder ‘n negatiewe resensie. Maar my vraag: is dit die werk van ‘n boekeblad en ‘n resensent om “sensitiewe lesers” te probeer beskerm, tot so ‘n mate dat ‘n hulle aangeraai word word ‘n kortverhaalbundel selektief te lees?