Andries Bezuidenhout. “Totsiens en lekker shift…”

In die tagtigs het ʼn platemaatskappy met die naam Shifty Records gesorg dat daar goeie musiek was om na te luister. Die man aan die stuur van sake was Lloyd Ross. Shifty Records het onlangs baie van hul musiek, asook opnames wat voorheen nie beskikbaar was nie, op die web vrygestel. Gaan loer hier in. Tik net die name van die kunstenaars in en soek. Hier is Bernoldus Niemand se plaat, byvoorbeeld, wat nogal moeilik is om elders op te spoor. Ek is besonder opgewonde oor opnames van die FOSATU kore wat nou te hore is. Lloyd het my jare gelde van die opnames vertel. FOSATU was een van COSATU se voorgangers – ʼn arbeidsfederasie wat van 1979 tot 1985 bestaan het.

Die feit dat Shifty hierdie musiek weer beskikbaar stel, het tot ʼn aantal uitstekende stukke joernalistiek gelei. Gaan lees gerus weer Theunis Engelbrecht se oorsig van die wel en wee van Shifty wat in die By gepubliseer is. Deel 1 en Deel 2. Dan het Shaun de Waal onlangs ʼn pragtige stuk oor Bernoldus Niemand se “Hou my vas, Korporaal” in die Mail & Guardian geskryf. Lees dit hier. ʼn Mens kan ook die liriek daar lees en ʼn skakel volg om daarna te luister.

NS. Die eerste persoon wat die aanhaling “Totsiens en lekker shift…” kan plaas, wen ʼn kopie van my CD Bleek Berus. En dis nie ʼn leë dreigement nie!

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •