
In wat sekerlik die een of ander rekord moet wees, het die 90-jarige Vlaamse skrywer, Aster Berkhof, sy 101ste roman, Dodelijk papier, gepubliseer; ‘n misdaadroman wat by ‘n saagmeule in Arden afspeel. Verlede jaar het hy reeds sy 100ste publikasie gevier met sy versamelde kortverhale wat as Alle Verhalen uitgegee is. “Ik streef niet naar een bepaald aantal boeken. Ik streef naar geluk en gezondheid. En schrijven bezorgt me dat”, het Berkhof tydens ‘n onderhoud aan Barbara Vuylsteke van Het Laatste Nieuws vanuit sy woning in Suid-Franskryk gesê. En ja, hy is blykbaar reeds ‘fier te zijn op een nieuw boek’. “Mogen en kunnen schrijven, dat blijft zo’n groot cadeau, juffrouw. Dat kan ik niet genoeg onderstrepen”. Ook skryf hy sy volgehoue produktiwteit toe aan drie persoonlikheidseienskappe, naamlik sy ongeduld, energie en nuuskierigheid.
Volgens die berig op De Papieren Man se webtuiste, is die kritici nou nie juis opgewonde oor Berkhof se werk nie; ten spyte daarvan dat sy boeke hulle die afgelope vyftig jaar reeds gereeld onder die topverkopers in België bevind en ook telkens op die biblioteeklyste van mees geleesde boeke verskyn. Alhoewel Berkhof merendeels bekend is as skrywer van ligter leesstof, het hy tog in sy lang skrywersloopbaan die aandag getrek met meer aktuele romans, soos die twee oor Roomse Katolisisme, te wete Dagboek van een missionaris (1963) en Octopus Dei (1992). Het huis van Mama Pondo (1972) is weer ‘n roman wat etlike Vlaamse lesers se oë vir die gruwels van die Suid-Afrikaanse apartheidsjare geopen het. Eweneens is Bagdad Café (2005) en Tamtam (2006) romans wat onderskeidelik die gruwels in Irak en Kongo aanspreek.
Nou ja, toe. Indien ‘n mens hier ook die 88-jarige José Saramago, wat eers op 57-jarige ouderdom gedebuteer het en in 1998 met die Nobelprys vir Letterkunde bekroon is, in gedagte hou, wil dit voorkom asof aftrede vir romanskrywers maar net ‘n figmentasie van hul verbeelding is.
En vir digters? Vir hulle is die 87-jarige Wisława Szymborska, wat eweneens ‘n Nobelpryswenner is en verlede jaar nog ‘n nuwe bundel gepubliseer het, ‘n stralende inspirasie. So, daar is alle hoop op ‘n uitgerekte produksieleeftyd. Mits ons net kan aanhou asemhaal, bygesê …
***
Vanoggend is daar Danie Marais se essay oor kreatiwiteit en depressie wat verlede Sondag in Rapport verskyn het, asook drie besonderse blogs om te lees: Chris Coolsma se brief aan Marcel Proust, Yves T’Sjoen se stuk oor Marcel van Maele en Carina Stander se stuk oor Michael Ondaatje … Indien jy lus voel vir ‘n gedig om te lees, kan jy kyk na die uwe se gedig oor ‘n bepaalde insident wat my en Marlise se lewens die afgelope week oorheers het.
Lekker lees en geniet die naweek wat op hande is …
Mooi bly.
LE