Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
12 July 20104 September 2013

Andries Bezuidenhout. Sokker en geskiedenis

Gisteraand die sokker se eindwedstryd tussen Spanje en Nederland by vriende se huis in Observatory gekyk. Hulle het die uitsending teen ʼn laken op hulle stoep geprojekteer. Ek het Nederland ondersteun, gegewe familiebande wat terugstrek na die jaar 1666 toe, toe Wynand Leendertz van Bezuidenhout in Afrika aangekom het as tuinier in die VOC se groentebeddings – tans die tuine langs die Parlementsgebou. Dis altyd vreemd om te dink dat die man wat my stamvader genoem word daardie stukkie grond eeue gelede bewerk het. Wynand Bezuidenhout is tydens ʼn seekoeijag deur ʼn groep Khoi-Khoin om die lewe gebring, darem nie voor hy kinders gehad het om ʼn nageslag te veroorsaak wat veel drama in die land se geskiedenis veroorsaak het nie.

Ek het natuurlik ook ʼn stammoeder – Catharina van die Kus van Coromandel – of sommer net Katryn, ʼn vrygestelde Indiese slavin. Maar van haar bestaan word min gemaak. Soos ek dit verstaan, het die genoemde Wynand se kleinseun met een van Katryn se dogters getrou. Juis onlangs ou Professor Heese se boek Groep sonder grense by Protea Boekhuis hier in Pretoria aangeskaf, maar ek moet nog die tyd vind om dit van hoek tot kant te lees. Ek is so bly dis weer uitgegee. Ek is nog op soek na sy boek oor die Bezuidenhouts van Slagtersnek, ʼn ewe kontroversiële stuk navorsing.

Nietemin, terug in die hede in Observatory. So teen halftyd het die wind ysig begin waai en die laken heen en weer gepluk, soos die seile van die Spaanse armada. Helaas, daar is Nederland se droom om die trofee huis toe te neem ook toe nou daarmee heen. Selfs ek, as nie-deskundige van sokker, kon sien dat die skeidsregter ʼn paar aanvegbare besluite geneem het. Maar nou ja, ʼn mens moet seker nie kla nie – sport is sport en die geskiedenis is geskiedenis.

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

31e gedagtes oor “Andries Bezuidenhout. Sokker en geskiedenis”

  1. Leon Retief says:
    20 July 2010 at 13:11

    Andries, nee, ek’s beslis nie ‘n Jungiaan nie :-). Ek weet daar is verskillende skole psigoanalise ja, maar almal (of dan die waarvan ek weet)is lugkastele met gebrekkige teoretiese en empiriese fondasies. Just-so stories.

    Reply
  2. Andries Bezuidenhout says:
    20 July 2010 at 07:24

    Daniel, baie dankie vir die inligting oor die professors Heese. Ek het die Slagtersnekboek in ons biblioteek opgespoor, asook die volgende titel: “Slagtersnek: een bladzijde uit de voorgeschiedenis der Zuid Afrikaansche Republiek”, deur J.W.G. van Oordt, in 1897 gepubliseer. Ek hoop die mense by Africana laat my toe om met my vuil pote daardeur te blaai.
    Desmond, ek maak ‘n plan met daai doccie.
    Leon, Karl Popper sou beslis met jou saamstem. Hy maak ‘n soortgelyke argument oor Marxisme – selfverwysende teorie wat nie verkeerd bewys kan word nie. Maar daar is tog baie Marxismes en verskillende skole van psigoanalise, so persoonlik is ek versigtiger om sulke strak lyne in die grond te trek. Ek neem aan jy’s ook nie Jungiaans nie. 🙂

    Reply
  3. Leon Retief says:
    19 July 2010 at 18:26

    Ook binne die terapeutiese konteks is psigoanalise problematies en vergesog. In werklikheid is psigonalise deel van letterkunde – deel van fiksie om meer spesifiek te wees.

    Reply
  4. Desmond Painter says:
    19 July 2010 at 18:05

    Wysneus, het jy al ooit daardie baie snaakse T-Hemp gesien waarop Freud se gesig verskyn, maar met ‘n kaal vrou daarop geprojekteer? Seks op die brein…

    Ek stem saam met Andries (en Wysneus) dat psigoanalise van ‘n persoon, buite ‘n terapeutiese sessie, baie problematies is, en soms heeltemal vergesog. Ek is in elk geval nie ‘n psigoanalis nie.

    Wat ek van Zizek hou, en wat ek entertaining en soms insiggewend vind, is juis dat hy gewoonlik nie ‘n individu probeer analiseer nie, maar die psigoanalise as ‘n vorm van diskoersanalise gebruik. Of dit altyd werk? Nee. Hy oorspeel sy hand nogal dikwels, veral in joernalistieke werk wat natuurlik vinniger geproduseer word.

    Andries, The Pervert’s Guide to the Cinema, waarna Joan verwys, is ‘n dokumentere rolprent waarin Zizek flieks analiseer — dikwels bevind hy hom op die oorspronklike stelle van bv. Hitchcock films!! Jy behoort dit selfs by ‘n goeie DVD winkel te kan huur. Dit is die moeite werd, want al verskil mens soms van hom, Zizek kom altyd vorendag met ‘n heeltemal onverwagse interpretasie, en hy KEN sy rolprentgeskiedenis.

    Reply
  5. Daniel Hugo says:
    19 July 2010 at 16:31

    Beste Andries, nadat hierdie gesprek baie wye draaie gegooi het, terug by jou voorgenome genealogiese navorsing. “Groep sonder grense” is geskryf deur H. (Hans) F. Heese en “Slagtersnek en sy mense” deur J.A. Heese. J.A. is die pa en H.F. die seun. Laasgenoemde werk by die Argief van die Universiteit van Stellenbosch.

    Reply
  6. Wysneus says:
    19 July 2010 at 15:36

    Wat ek nog altyd wou weet oor Rorscharch-toetse is hoekom die ouens wat die prentjies maak so behep is met seks en die vroulike liggaam.

    Reply
  7. Andries Bezuidenhout says:
    19 July 2010 at 14:42

    Ek belowe ek het net ‘n skoenlapper gesien.

    Reply
  8. Wysneus says:
    19 July 2010 at 14:28

    Nee, Andries, die laaste ding waarin ek belangstel is die oorsake van ras-geweld korrelasie te bespreek. Ek’s nou nie ‘n sosioloog nie, maar ek dink dit is onweetbaar, en is daarom ‘n Rorscharch-toets vir wie hom ookal daaroor uitlaat.

    Reply
  9. Andries Bezuidenhout says:
    19 July 2010 at 08:36

    Joan, dankie vir daardie aanbeveling. Ek sal ‘n plan maak om dit te lees. Wysneus, ek is nou al so moeg vir die gesprek oor misdaad en “ras” dat ek huiwer om kommentaar te lewer. Die gesprek spoel soveel keer op dieselfde moee” strand uit, net in ander ewe mooee” woorde. Maar omdat ek deels met jou saamstem (ek dink nie ‘n mens kan ‘n ander persoon psigoanaliseer as die persoon nie by jou in analise is nie, behalwe as jy BAIE tentatief is oor moontlike verklarings), net dit: Selfs ‘n baie outydse logies-positiwistiese benadering wys dat daar ‘n baie sterker korrelasie tussen sosiale klas en misdaad is as “ras”. Ek het onlangs ‘n psigoanalitiese ontleding van Neil Blomkamp se film “District 9” moes aanhoor wat ook die argument probeer voer het dat dit ‘n rassistiese film is. Blykbaar omdat Blomkamp skaam sou wees oor die gemors (ekskrese) wat townships is – m.a.w. die gemors wat hy as wit man gemaak het. In hierdie geval het die analise vir my ook veel meer oor die analis ges^ as oor Blomkamp. Iemand in die gehoor het uitgewys dat van die dialoog in die film wat aan Blomkamp toegedig is, inderwaarheid impromptu deur akteurs opgemaak is tydens die verfilming. Ek is nie teen so ‘n ontleding per se gekant nie, maar dink dat ‘n mens baie versigtig moet wees met die lees van mense se drange en obsessies in hul tekste. ‘n Mens hoef tog nie te waarsku oor die geweld wat jy mense kan aandoen in die proses nie.

    Reply
  10. Wysneus says:
    18 July 2010 at 04:34

    Desmond, ek dink dis veel eenvoudiger as soveel psigoanalitiese woorde.

    Vat twee super-slim regsgeleerdes, een regs en een links (sê Scalia en Ginsburg). Gee hulle tien polities problematiese sake en ek, jy, en die wye wêreld sal vooraf kan voorspel wie watter beslissing in watter saak sal maak. Wat hulle briljant maak is die kwaliteit van die rasionaliserings vir die “gevolgtrekking” wat hulle vir welke bewustelik of onbewustelike ookal wil maak. Die swakkeres droom bv “emanations” en “penumbras” van gedefiniëerde regte op om aborsieverbanning te verban.

    Net so is Zizek se vooroordeel dat Bennett ‘n rassis is (hy’s dan ‘n Republikein), en sien daarom moordadige fantasieë waar dit nie is nie. Bennett maak ‘n reductio ad absurdum en stel ‘n hipotetiese ekstreem met maksimum morele repulsie, juis om te toon dat die doel (minder misdaad) nie die middelle (aborsie) verskoon nie.

    Zizek se animus word ook verklik deur die benaming van die subjek van sy analise as “William Bennett, the compulsive gambler.” Wanneer jy ‘n artikel lees oor Barack Obama, cokehead; Bill Clinton, infamous liar; of George W Bush, war criminal, hoef jy nie verder te lees nie. Selfde hier. Dié psigoanaliese vertel my meer oor die psigoanalis as oor die psigogeanaliseerde (Scrabble!).

    I say it’s spinach, and I say the hell with it.

    PS. Waar en hoekom is Springsteen ‘n vyand van Amerika? Ek het dit gemis.

    PPS. Onthou, Amerika is ‘n idee, nie ‘n plek nie, so ‘n vyand van die Amerikaanse idee is ‘n vyand van Amerika.

    PPPS. Onthou, die Amerikaanse idee is ‘n rewolusionêre idee, so die vyande daarvan is… wag daarvoor… counter-revolutionaries.

    Reply
  11. Desmond Painter says:
    17 July 2010 at 09:26

    Wysneus, Zizek is ‘n psigoanalis en gaan nie tevrede wees met “dis maat net die feite nie”! In elk geval, die blote idee om ‘n hipotetiese gesprek te voer oor die abortering van alle swart babas is moreel verregaande, al is dit dan nie statisties verregaande nie.

    Bennet se formulering, met sy “disclaimer” en al, sou beslis enige psigoanalise onraad laat vermoed! Bennet het ges^e die abortering van alle swart babas “would be an impossible, ridiculous, and morally reprehensible thing to do, but the crime rate would go down.” Wie maak nou so ‘n stelling? Selfs George W Bush het hom hiervan gedistansieer! Zizek s^e in elk geval nie Bennet fantaseer LETTERLIK oor swart babas se dood nie. Hy gebruik ‘n psigoanalitiese diskoers. Hier sprake is van “murderous fantasy” op ‘n onbewuste vlak, ‘n analitiese skuif wat ‘n mens ‘n greep gee op die verswe”e affektiewe “investments” in rasse-ideologiee en vooroordele.

    Dieselfde Bennet het Bruce Springsteen ‘n vyand van die VSA genoem. En jy praat van smeer en gebrekkige verbeelding!

    Reply
  12. Wysneus says:
    16 July 2010 at 17:19

    Oor Zizek se Kartrina: Ek onthou daai artikel, want dis waar ek ‘n gly in die sogenaamde Zizek gevang het. Ek dink hy’s reg dat die Katrina-mites ‘n oorsprong het in rasse-vooroordeel, maar ek weet dat hy Bill Bennett onregverdig smeer (amper skryf ek ‘swartsmeer’!).

    Bennett se gesprek het gegaan oor die boek ‘Freakonomics,’ wat argumenteer dat aborsie lei tot laer misdaadvlakke. Bennett is gekant teen aborsie, en sê dat dit verkeerd is, ongeag die bruikbaarheid daarvan. Swartes is 15% van Amerika se bevolking, terwyl 50% van misdade deur swartes gepleeg word. Dis is die feite, al kan mens verskil oor die redes daarvoor. Om te sê dat misdaadvlakke sou afneem as alle swart babas geaborteer word is dus nie verregaande nie.

    Swart babas word disproporsioneel geaborteer (35% van alle aborsies). Bennett is ‘n Republikein. Swartes stem oorweldigend vir Demokrate. As Bennett polities gemotiveerd was sou hy ten gunste van aborsie wees, nie daarteen nie. So dit is Bennett wat uit beginsel ‘n standpunt inneem teen sy eie onmiddelike belange.

    Vir Zizek om dan te sê dat “this is the subject about whom Bennett can afford to make his slips of the tongue and confess in a censored mode his murderous dreams,” is of kwaadwillige defamasie, of dit stel ten toon ‘n gebrek aan verbeelding om die (ander) subjek se denkproses te verstaan.

    Reply
  13. Desmond Painter says:
    16 July 2010 at 15:06

    Joan, ek ken The Pervert’s Guide; ek was mal daaroor. Ook die dokumentere film, Zizek!, is die moeite werd om te sien. Het jy dit al gesien? Indien nie, ek kan vir jou ‘n roofkopie in die pos gooi…

    Ek vind Zizek altyd verskriklik entertaining, en dikwels kom hy met bliksemstrale van insig, veral deesdae in sy korter, “joernalistieke” stukke. Sy analise van verslae oor “looting” na Orkaan Katrina is bv. gewoon briljant (“The subject who is supposed to loot and steal”). En daar is baie voorbeelde. Ek sien ook juis op amazon hy het twee of drie nuwe boeke uit of op pad…

    Lacan is beslis ‘n belangrike denker. Geen twyfel. Hy leen homself dalk makliker tot werk in literere teorie en kultuurstudies as in die sosiale wetenskappe, maar daar is uitsonderings. Yannis Stravakakis se Lacan & The Political is ‘n goeie voorbeeld. Regtig ‘n belangrike boek. Self sukkel ek maar met Lacan. Syne is so ‘n oorweldigende diskoers, dat dit amper nie moontlik is om net stuksgewys daarby te leen nie. Jy moet jouself amper aan sy hele logika onderwerp, en dan is ek nie seker hoe mens in die proses vashou aan die meer nitty-gritty aspekte van sosiaal-wetenskaplike studie nie.

    Maar as ideologiekritiek en diskoersanalise op die spyskaart is, dink ek nie mens kan Lacan, en veral Zizek se Lacan, ignoreer nie.

    Reply
  14. Joan Hambidge says:
    16 July 2010 at 14:46

    Desmond en Andries, ken julle Zizek se fantastiese The pervert’s guide to the cinema?
    Lacan en Zizek doen dit vir my.

    Joan

    Reply
  15. Andries Bezuidenhout says:
    16 July 2010 at 08:11

    Bhhaaraahahhaaaa!

    Reply
  16. Desmond Painter says:
    16 July 2010 at 08:03

    PS. Een dronkerige nag by ‘n kritiese sielkunde kongres iewers het ons “Theorist T-Shirts” probeer uitdink. Hulle moes risky en ten minste snaaks wees, en verkieslik ‘n rolptrenttitel of iets dergeliks oproep. Foucault s’n (hoop jy lees dit voor die webmeester dalk ingryp!): “Crouching Foucault, Hidden Fist.”

    Reply
  17. Desmond Painter says:
    16 July 2010 at 07:57

    Andries, ek onthou daardie toneel. Ek dink hy gaan op ‘n stadium so ver as om vir hulle te s^e, ek verstaan meer van julle sosiale omstandighede as wat julle self daarvan verstaan! Bourdieu gaan wat dit betref vir my soms te ver in die rigting van ‘n soort Alwetende Positivistiese Sosiale Wetenskaplike; en met “agency” het hy wel probleme, maar nogtans: hy was ‘n yster!!

    Sommige teoretici in sosiale en kritiese sielkunde plaas die Merleau-Ponty/Wittgenstein verbande op die voorgrond wanneer hulle Bourdieu lees, en dan voel hy klaar bietjie minder deterministies. Een ding wat ek nogal teen Bourdieu hou, is dat hy aaklig geskryf het. In hierdie verband is Foucault altyd sy meester (er…); veral in in die 1970s en verder het Foucault regtig (myns insiens) wonderlike prosa geskryf. Helder en dringend.

    Wat my weer van Foucault en Derrida fassineer is dat hulle begin skryf het in die tyd van die Algerynse oorlog en die proses van dekolonisasie, maar nogtans is daardie politieke geskiedenis redelik afwesig as eksplisiete inhoud in hulle werk. En Derrida was nogal ‘n Algerynse burger! Tog sou mens seker die proses van dekolonisasie kon lees as ‘n soort sosiologiese korrelaat van Derrida se “desentrering” van die Europese filosofiese tradisie.

    Maar wag, laat ek Latyns-Amerikaanse revolusion^re tekste gaan lees in ‘n upmarket coffee shop in Stellenbosch; wil nie vir Wysneus op sy neus laat kyk nie!!

    Reply
  18. Desmond Painter says:
    16 July 2010 at 07:38

    Wysneus, op my w^reldkaart, getint in ligte rooi, is Nieu-Seeland welliswaar verder noord as bv. Vietnam, en beslis baie verder noord as ‘n suidelike paradys genaamd Venezuela. Speel hulle sokker? Want indien wel, ondersteun ek hulle.

    Reply
  19. Andries Bezuidenhout says:
    16 July 2010 at 07:35

    Desmond, oor “Sociology as a combat sport” (dis kan ook blykbaar vertaal word as “Sociology as a martial art”): Ek hou van die toneel aan die einde – iewers in die suide (haha!) van Frankryk, waar Bourdieu by ‘n vergadering deur geenskapsaktiviste konfronteer word. Sy kommentaar na die stukkie combat sport is nogal snaaks: “Ten minste weet hulle nou wat om vir die media te s^ as hulle karre afbrand,” of iets dergliks. Ek vermoed in Frans bedoel hy dit meer ironies as wat dit in Engels oorkom. Dis ook vreemd hoe Bourdieu in daardie konteks teoreties skuif, terwyl sommige van die lede van die gemeenskap ‘n uitstekende Bourdieuse ontleding van simboliese dominasie in byvoorbeeld onderwys doen, waarskynlik sonder dat hulle hom gelees het. Skielik ontdek hy “agency”.

    Reply
  20. Andries Bezuidenhout says:
    16 July 2010 at 07:28

    Ja, dis jammer Antarktika speel nie sokker nie.

    Reply
  21. Wysneus says:
    15 July 2010 at 16:46

    So, Desmond, jy ondersteun die mees suidelike span? Nieu-Seeland bo Ghana, Australië bo Nigerië? Hierdie beheptheid met breedtegraad moet ent kry!

    Reply
  22. Desmond says:
    15 July 2010 at 07:32

    Andries, ek sal daardie boek oor Bourdieu bitter graag wil lees, so moedig die outeur tog aan! Ek het onlangs begin lees aan Wacquant se “Punishing the poor: The neoliberal government of social insecurity”. Wacquant is teoreties en analities bedrewe, natuurlik, maar hy is ook meedo”enloos in sy kritiek. Ek hou daarvan; hy bedryf nie die sosiale wetenskappe op ‘n manier wat alte maklik getem en bloot tegnokraties ingespan kan word nie. Soos Bourdieu dring hy daarop aan dat onsself ons objekte moet konstrueer en vrae moet formuleer; nie bloot antwoorde soek vir vrae wat ander mense soos beleidmakers geformuleer het nie.

    Sy boek oor sy boks-ervaring, “Body & Soul”, is eweneens fassinerend. Ek het so 2 jaar terug ook ‘n wonderlike DVD oor Bourdieu gesien, “Socioology as a Contact Sport”. Hulle volg hom vir ‘n paar dae rond (dit was so ‘n paar jaar voor sy dood, in die tyd toe hy nogal baie betrokke was by openbare kwessies) na kongresse, gesprekke met gemeenskapsgroepe, ens. Baie goed. Omdat ek veral ook vanuit die sielkunde na Bourdieu kyk is ek spesifiek geinteresseerd in die idee van die habitus, en hoe Bourdieu daarmee sosiologiese inhoud gee aan idees wat mens reeds by Merleau-Ponty en Wittgenstein kry. En oor taal en taalpolitiek is Bourdieu natuurlik noodsaaklike leesstof.

    My probleem met die psigoanalise as sosiale teorie is dat ‘n mens altyd die idee kry die analis het reeds die antwoorde; hy soek nou nog net die toepaslike vrae! Hoe entertaining ek Zizek ook al vind, ek moet s^e, dit raak ‘n bietjie soos ‘n (goeie) “party trick”. Natuurlik, daar is mense wat psigoanalitiese idees met meer omsigtigheid aanwend. En ek was nogal “taken” met iemand soos Yannis Stravakakis se toepassing van Lacan in diskoersanalise en gesprekke oor radikale demokrasie a la Laclau & Mouffe.

    Maar nou moet ek ook gaan werk… Oftewel, ek moet koffie gaan drink en my koerant lees.

    Reply
  23. Andries Bezuidenhout says:
    15 July 2010 at 06:50

    Hm, Desmond, hierdie kan ‘n lang gesprek word. Ek het nou min tyd, maar ek wonder al lank oor of ‘n mens iemand kan psigo-analiseer sonder dat die persoon in analise is. Dit word gans te maklik – ten minste moet mense wat dit doen baie meer tentatief wees oor hul ontledings.
    Ons (by Wits, nou) het onlangs ‘n uitstekende reeks lesings oor Bourdieu deur Michael Burawoy gehad, ‘n kollega van Loic Wacquant by Berkeley. Burawoy het verbeelde gesprekke tussen Bourdieu en Marx, Gramsci, De Beauvoir, Freire, Fanon en ander aangeknoop. Die plan is dat hy dit as ‘n boek opskryf wat hier in SA gepubliseer gaan word.

    Reply
  24. Desmond Painter says:
    14 July 2010 at 18:16

    Hallo Andries, ja, ek ken daardie artikel. Fassinerend. ‘n Vriend van my wat by die LSE werk het weer ‘n artikel oor Coetzee se lees van Cronje geskryf, vanuit ‘n meer Lacaniaanse hoek. Ek sal dit in die hande kry en dan ook die verwysing hier plaas. Coetzee se artikel sluit eintlik baie goed aan by mense soos Zizek, Dolar en Copjek se kritiek op die “historisisme” van onder andere Foucault, en hulle aandrang op psigoanalitiese analises van begeerte, subjektiwiteit en so aan. So ver ek hulle verstaan vind ek hulle heel fassinerend, en Zizek is inderdaad “die filosoof as rockster”, maar eintlik sluk ek maar swaar aan kritiek op Foucault… Elke keer as ek hom lees wil ek myself amper volledig onderwerp — op ‘n soort teoretiese S&M manier! Onlangs begin lees aan sy College de france lesings: modelle van helderheid, voorlopigheid en intellektuele waagmoed. I am a fan. Ek dink soms mens kan met ‘n teoretiese brousel van Foucault, Bourdieu (nog ‘n favourite van my; en ek ontdek ook nou sy vurige student, Loic Wacquant, se werk), ‘n bietjie Elias en dalk selfs ‘n tikkie Butler, als doen wat die psigoanalitiese sosiale teoretici doen, maar sonder om opgesaal te sit met al die psigoanalitiese bagasie.

    Reply
  25. Andries Bezuidenhout says:
    14 July 2010 at 15:24

    Desmond, loer hier:
    http://www.informaworld.com/smpp/content~db=all~content=a793114622
    Jy ken dit waarskynlik – JM Coetzee oor Geoff Cronje.

    Reply
  26. Desmond Painter says:
    14 July 2010 at 12:44

    Andries, vuilspel is heel ‘in keeping’ met die finaal: Louis moet maar ‘n geelkaart uithaal!

    Maar eintlik het ek nie eens besef jy sit nou in Cronje se voormalige dept nie… Ek sou darem andersins meer sensitief gewees het. In my gretigheid om die NAR sleg te s^e, moes jy nou weer my sarkasme ontgeld… jammer man!

    Daardie ander gewraakte sosioloog waarna jy verwys het trouens ook in die sielkunde-dept by Stellenbosch ‘n draai gegooi (sy PhD was in die sielkunde) voor hy sosiologie toe is, so ek is natuurlik ekstra-sensitief oor hom… (Pieter Duvenhage het op ‘n keer ‘n goeie essay oor Verwoerd as sielkundige geskryf, nie seker of hy dit ooit gepubliseer het nie.)

    Ek was nog net een keer in Barcelona, in 2006, om ‘n politieke sielkunde kongres by te woon. Ek was mal daaroor, en sal beslis weer gaan as ek die geleentheid kry. Ek was ‘n vorige keer ook vir ‘n rukkie in Madrid; minder ooglopend ‘dazzling’ maar nogtans ‘n sielvolle, opwindende stad.

    Wag, laat ek sommer onmiddelik conferencealerts.com besoek…

    Reply
  27. Andries Bezuidenhout says:
    14 July 2010 at 11:43

    Nee, Desmond, nou speel jy vuil! Geoff Cronje kan jy nie teen my hou net omdat ek in sy voormalige departement sit nie. Doen jy dit, noem ek straks ‘n ander gewraakte sosioloog se naam en Stellenbosch in een asem. (Ek sal ‘n plan maak om eendag in Barcelona uit te kom.)

    Reply
  28. Desmond says:
    14 July 2010 at 08:43

    NS. Ek neem aan dat NAR soos Geoff Cronje destyds ook “die Suid-Europeane” met agterdog bejeen, en dat enigiemand suid van Toulouse dus pretty much swart is.

    Reply
  29. Desmond says:
    14 July 2010 at 08:41

    Andries, jy oortuig my, en as die ouens van Praag, veral Die Nuwe Afrikaanse Rassis (NAR), hiervan hoor, is daar ‘n tranedal!! Hulle het vir ‘n maand hulle Ariese fantasiee op die span van Oranje geprojekteer!! Eintlik het ek beide ondersteun; oftewel, na die Suid-Amerikaners uitgeskakel was het ek gehoop dit is tussen Ndl en Spanje. Nederland voel kultureel naby; Spanje, wel, Goya, Velazquez (?), Lorca, Montalban, Benuel, Almodovar… Trouens, in my ideale lewe woon ek in SA maar spandeer elke jaar tyd in Amsterdam en Barcelona.

    Reply
  30. Andries Bezuidenhout says:
    14 July 2010 at 07:20

    A-ha, Desmond, maar hier gaan ek nou meer polities korrek (ugh!) as jy wees! Nederland het tog sekerlik meer spelers van die “Suide” in hulle span as Spanje!!! Tralala!

    Reply
  31. Desmond Painter says:
    13 July 2010 at 16:44

    Andries, as daai skeidsregter beter geblaas het sou die wedstryd beter gevloei het, en dan sou Spanje selfs verder gewen het. Ja, ek het Spanje ondersteun: ek ondersteun altyd of SA, of die mees Suidelike span… En nee, eintlik weet ek niks van sokker nie. Verstaan nou nog nie die onkantre”el en die val-en-beenvashou-storie nie!

    Reply

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Resensie: "Dawerende stiltes" (Caren Kearley)
  • Resensie: "Wilma Stockenström: Met my wysvingertop" (Ronel Foster, red.)
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 1)
  • Joan Hambidge. Athol Harold Lannigan Fugard
  • Marlies Taljard gesels met Yves T’Sjoen oor "De ontdekking van het eiland" (Deel 3 - slot)

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Die digkuns as weefwerk
  • Bert Bevers. Aanwijzingen
  • Riaan le Roux. Kans
  • Paul Kloppers. bosluisvoël
  • Digtersprofiel: Marlise Joubert

Nuutste kommentaar

  1. Stephan du Toit on Stephan du Toit. Geboorteland13 January 2026

    Baie dankie Marthé.

  2. Bernard Odendaal on Bernard Odendaal. Musikale oomblik9 January 2026

    Dankie, Joan.

  3. Marthé McLoud on Stephan du Toit. Geboorteland9 January 2026

    Treffende gedig.

  4. Joan Hambidge on Bernard Odendaal. Musikale oomblik8 January 2026

    'n Uitstekende palinode - spel met Cloete. En die slot is 'n mokerhou! Jou gedig is treffend.

  5. Bernard Odendaal on Daniel Hugo. Voorbeeldig8 January 2026

    Treffend. En: Gesondheid in die rondheid!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2026 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d