Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
14 July 201011 February 2011

Jelleke Wierenga. FAE – dit staan vir iets leliks

“Fuck all editors.” Ekskuus, dis nie ék wat so lelik praat nie. Ek jok, ek praat so lelik, maar in hierdie geval kom die verwensing uit die hart en pen van Gwen Harwood, ’n (uiteindelik) bekende Australiese digter. Die redakteurs (mans) aan wie sy haar gedigte in die 1950’s en 1960’s gestuur het, het haar beskou as ’n voorstedelike huisvroutjie en moeder wat toevalliglik, so tussen die skottelgoed en die stofsuig deur, ook ’n tydjie afknyp om poësie te pen, oftewel versies te versin.

In ’n stadium het sy dit oorweeg om haar gedigte in bottels van die Hobart-brug in Tasmanië af te gooi – mense lees gewoonlik boodskappe in bottels met groot aandag.

Toe ek op die internet Ern Malley, daardie groot, fiktiewe Australiese digter, se spoor vat, kom ek op Gwen Harwood af. Sy is ’n tydgenoot van James McAuley en Harold Stewart, skeppers van Malley. Nes McAuley en Stewart het sy die koerantopskrifte gehaal met ’n letterkundige poets.

Haar konneksie met die twee het ’n ironiese kinkel in die kabel. McAuley en Stewart het destyds Max Harris, redakteur van die avant-garde tydskrif Angry Penguins, in die visier gehad. Nie alleen is die naam Angry Penguins – geneem uit ’n gedig van Harris – genoeg om die meeste mense kwaad te maak nie, maar die modernistiese kuns en gedigte wat die tydskrif gepubliseer het, het die opregte burger teen die fatsoenlike bors gestuit. Watter verregaande bog, gedigte wat nie sin maak of rym nie! Die publiek het hulle verlustig in Harris se vernedering nadat McAuley en Stewart se poets op die lappe gekom het. Een van die tydskrifte wat McAuley en Stewart destyds toegejuig het, is die Bulletin: “Earnest thanks to the diggers who are joint disbunkers of Bosh, Blah and Blather.” Die tydskrif was egter minder geesdriftig toe Gwen Harwood ongeveer twintig jaar later dieselfde poets op hulle bak.

Harwood het uit dure en sure ondervinding tot die slotsom gekom dat vrouedigters nie dieselfde agting en erkenning as mans geniet nie. In een van haar briewe sê sy: “I am gradually getting more confidence in my own work; I didn’t think I ever should, with such a long history of rejections and editorial insults … let me just rehearse the history of ‘Joseph’ written in 1953:

Sent to Meanjin, rejected.
Sent to Southerley, accepted, but returned by mistake.
Sent to Australian Signpost & accepted, but never used.
Sent to Southerly (new Editor) and accepted, but never used.

A perfectly good poem, given the run-around for six years.”

Om haar gedigte so wyd as moontlik gepubliseer te kry, het Harwood ’n hele paar manlike nom de plumes as “editor-baiting” gebruik. Gedigte wat sy onder ’n mansnaam ingestuur het, is baie eerder aanvaar as dié van Mrs. Harwood van Hobart … en is meer betaal. Hulle (die “mans”) het ook baie meer uitnodigings en gunstiger terugvoering ontvang.

In ’n brief aan ’n vriend vertel Harwood hoe sy en haar man, die taalkundige William Harwood, die skuilnaam W.W. Hagendoor uitgedink het – ’n anagram van Gwen Harwood. “That is only a start,” skryf sy. “I will take other names & nationalities from time to time. I have sent McAuley the most recent poems I’ve written to see if he rejects them all or if he might think about the works of HAGENDOOR more kindly than those of HARWOOD.” Die McAuley waarna sy verwys, is die einste James McAuley wat Ern Malley help skep het. McAuley was destyds redakteur van die tydskrif Quadrant. Hy en Harwood het later goeie vriende geword.

Harwood het die Europese uitgewekenes Walter Lehmann en Francis Geyer in 1960 geskep en heelwat gedigte onder hul name gepubliseer gekry. In haar frustrasie met redakteurs wat haar soos ’n onnosel huisvrou behandel, het sy twee “onsinnige” Lehmann-sonnette met verskuilde boodskappe aan die redakteur van die Bulletin, Donald Horne, gestuur. Hy het dit aanvaar en gepubliseer. Harwood het geglo die sonnette is louter twak en enigeen wat dit publiseer, kan nie ’n donkie se agterent van poësie onderskei nie. Die eerste letter van elke versreël van die een sonnet lewer dié boodskap: “So LOng bULLetIN”. In die ander sonnet spel die letters haar gevoelens grafies uit: “Fuck AlL eDiToRs”.

Harwood het ’n appeltjie met Horne te skil gehad omdat hy haar gedigte langs ander van “uiters minderwaardige gehalte” gepubliseer het.

Toe die gewraakte boodskappe in die sonnette aan die lig kom, is die uitgawe van die Bulletin waarin dit verskyn, dadelik onttrek en verpulp. Dit is as uiters skandalig beskou oor die f-woord en veral oor dit uit die pen van ’n “huisvrou” en moeder kom – hoewel dit darem die tydskrif se sirkulasie met die nie onaansienlike getal van 8 000 opgestoot het. Mense wat nie die woord “poetry” kon spel nie, het skielik erg beswaarde poësielesers geword. Die koerant Truth se plakkate het dit in groot swart letters uitbasuin: “TAS. HOUSEWIFE IN HOAX OF YEAR!” Daar was selfs sprake van vervolging weens obseniteit. Hieroor het Harwood ironies opgemerk dat die wet dalk nie van toepassing is op ’n obseniteit wat vertikaal lees nie.

Gwen Harwood op die omslag van die boek oor haar briefwisseling.
Gwen Harwood op die omslag van die boek oor haar briefwisseling.

Harwood se poets, nes dié van McAuley en Stewart, het later geboemerang. Haar hartstogtelike Lehmann-sonnette – “Eloisa to Abelard” en “Abelard to Eloisa” – wat lank as poëtiese onsin beskou is, word nou met nuwe oë bekyk. Een kritikus meen selfs dis “poems of musical mellifluousness, full of words poetically evocative of loss and despair”. ’n Ander praat bewonderend van die “kragtige beelde”.

Die analiste van die menslike psige het intussen ook op die toneel gekom met ontledings van Harwood se “subpersoonlikhede” soos dit in die gedigte van haar onderskeie nom de plumes geopenbaar word. Volgens hulle kon sy deur haar subpersoonlikhede ’n reeks gevoelens verken wat waarskynlik nie vir haar openbare persona aanvaarbaar was nie. Hulle kom tot die slotsom dat sy ’n hoogs intelligente, komplekse, veelsydige wese was.

Harwood self het in onderhoude gesê die persoon met wie die onderhoud gevoer word, is nie dieselfde as die een wat gedigte skryf nie, dat ’n onsigbare glasplaat haar twee selwe skei.

(Ek sou nogal hiermee saamstem. Daar is tog altyd ’n skeiding tussen die openbare en die private persoon. In hierdie dae waar daar van digters verwag word om hulle in openbare verhoogpersoonlikhede te ontpop, is dit des te meer verwagte dat die introverte digter agter ’n persona sal wegkruip.)

Harwood het ook dikwels verwys na die verdelings in haarself, haar verskillende selwe. In een van haar briewe skryf sy: “I wish I had several lives, one for songs, one for poetry, one for being an abandoned alcoholic, one for being a cored and peeled hausfrau, one for beachcombing, one for being an Italian, one for being a native speaker of German, one for being Abbess of the Dames Bernadines, one for poisoning (successfully and without remorse) my enemies, one for playing Mozart, one to spend in museums …”

(Die klomp mense in jou kop … dis iets waarmee ek nogal baie sukkel. Daar’s die introvert wat g’n mens wil sien nie, die ekstrovert wat gedy tussen mense, die vrysinnige boheem wat sonder roetine of dissipline wil lewe, die streng gedissiplineerde wat vyfuur soggens opstaan, die uiters verantwoordelike en die f-die-hele-spul … en dis maar net ’n paar. As die klomp nou maar net wou saamwerk, kon ’n mens nogal baie bereik. Maar dis ’n gedurige gebakleiery en toutrekkery. En om die een of ander rede wen die “persoon” altyd wat besluit my bed sal nie opgemaak word nie, ondanks jarelange intensiewe evangelisasie deur die ordelike “persoon”.)

Maar terug na Gwen Harwood: Ondanks haar frustrasie met die ondergeskikte rol van die vrouedigter het sy ná 1960 verskeie groot poësiepryse gewen. In 1989 het sy ’n Offisier van die Orde van Australië geword. Drie Australiese universiteite het ere-doktorsgrade aan haar toegeken, twee daarvan in 1994, die jaar voor haar dood op 75-jarige ouderdom. Sy word vandag gereken as een van Australië se grootste digters met 386 gepubliseerde gedigte, baie daarvan voorgeskryf in skole en universiteite. Harwood was ook ’n gerekende librettis.

Een van haar bekendste gedigte – gepubliseer in 1961 – is “In The Park”. Dit spreek boekdele oor haar frustrasies met die rol van ma:

In The Park

She sits in the park. Her clothes are out of date.

Two children whine and bicker, tug her skirt.

A third draws aimless patterns in the dirt

Someone she loved once passed by – too late

to feign indifference to that casual nod.

“How nice” et cetera. “Time holds great surprises.”

From his neat head unquestionably rises

a small balloon … ”but for the grace of God …”

They stand a while in flickering light, rehearsing

the children’s names and birthdays. “It’s so sweet

to hear their chatter, watch them grow and thrive,”

she says to his departing smile. Then, nursing

the youngest child, sits staring at her feet.

To the wind she says, “They have eaten me alive.”

“Die lessie?” vra die dominee in sy aangename stem. Slim Sussie steek haar hand op. “Talent, Oom Dominee, en vasbyt is soos die kurkprop wat Pa uit sy wynbottels trek. Oeps! Ek dink ek moes nie van die wyn gesê het nie. Jy kan daai kurkprop onder die water druk soos jy wil, maar hy pop altyd op.”

Hmm, na my nederige mening nogal ’n lessie vir die vele “slagoffers” en slagoffers (sonder aanhalingstekens, spesiaal vir die hoogs ontwikkelde gewete van Annemarié) in ons liewe land.

Bronne geraadpleeg:
• Journal of Australian Studies
, January 1, 2002, Atherton, Cassandra
www.encyclopedia.com
• A steady storm of correspondence: Selected letters of Gwen Harwood, 1943-1995
, Gwen Harwood, G. C. Kratzmann, University of Queensland Press, 2001
http://books.google.com
• “Suburban sonnets: ‘Mrs Harwood’, Miriam Stone and domestic modernity”, Australian Literary Studies
, October 1, 2007, Sheridan, Susan
http://www.highbeam.com/doc/1G1-175525643.html
• wikipedia
http://en.wikipedia.org/wiki/Gwen_Harwood

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lees meer

← Jelleke Wierenga. Wat is die poësie ’n vreemde ding

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: “om my kastele in Spanje te sloop” (jaco barnard-naudé)
  • Resensie: "wanneer woorde asemhaal" (Maritha Broschk) & "swartland" (Rudolph Willemse)
  • Sonja Loots in gesprek met Alwyn Roux oor "Weerskyn"
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Borges, Sheila Cussons en Johann de Lange
  • Persverklaring: Groot poësieprys ter ere van Breyten Breytenbach
  • Gerard Scharn. Portret van van Monika Pon-Su-San door Vladimir Tretchikoff
  • 100 Duitse Bestes: Else Lasker-Schüler (1869-1945)
  • Resensie: “De ontdekking van het eiland: breytenbachiana” (Yves T’Sjoen)

Nuutste kommentaar

  1. Jacobus Swart on Jacobus Swart. Franz Kafka15 May 2025

    Beste mnr. Scharn Ek waardeer u kommentaar. Dankie dat u my werk gelees het.

  2. Dietloff Van der Berg on Resensie: “Feesmaalgang” (Dietloff van der Berg)14 May 2025

    Baie dankie Joan Hambidge vir die fyn lees en die hoog gewaardeerde slotsom.

  3. Gerard Scharn on Jacobus Swart. Franz Kafka14 May 2025

    Beste Jacobus Swart, het leven van Kafka kort maar compleet weergegeven. Tientallen boeken hoeven nu niet meer gelezen te worden.

  4. Ena on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Mooi, Celeste!

  5. Barbara Steyn on Celesté Fritze. Vergetedal8 May 2025

    Soooo mooi beskryf!!!

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d